DIE EEN MOET DIE ANDER HOËR AG AS HOMSELF

DIE EEN MOET DIE ANDER HOËR AG AS HOMSELF

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en so tussen die lyne lees ek dat die persoon se herder die persoon laat verstaan het dat hy ‘n gesalfde van die Here is en as sulks nie bevraagteken behoort te word nie.

Laat ek eers iets sê oor “die gesalfde” soos ek dit verstaan:
Onder die Mosaïese wet was die hoëpriester “die gesalfde” van die Here.
Ek gee net twee voorbeelde maar ek kon meer gegee het.

LEV 8:12  Hy het toe ook van die salfolie op Aãron se kop uitgegooi en hom gesalf en hom sodoende vir sy werk heilig gemaak.

EXO 29:5-7  Trek vir Aãron sy klere aan saam met die mantel van die skouerkleed, die skouerkleed en die borssak.  Maak die skouerkleed vas met die gordel.  6Sit die tulband op sy kop en maak die gewyde kroon daaraan vas.  7 Vat die salwingsolie en gooi dit oor sy kop.

Later jare het Israel hierdie gedeelte uit die Mosaïese wet ook op hulle konings toegepas, waarvan Saul die eerste gesalfde gewees het, gewoon omdat hy die eerste koning van Israel gewees het.

As jy en ek nou nog onder die Mosaïese wet gewees het, sou die moderator van die kerk dan “die gesalfde” gewees het maar en dankie tog daarvoor, ons is nie meer onder die Mosaïese wet nie maar onder die genade.

JOH 1:16  En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.
JOH 1:17  Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

Hoe heerlik om te weet, dat as ek Jesus voluit volg:

ROM 6:14  Die sonde mag hoegenaamd nie oor julle heerskappy voer nie.  Julle leef immers nie meer onder die verslawende mag van die wet nie, maar onder die bevrydende mag van die genade.

GAL 5:1  Christus het ons bevry sodat ons nou in vryheid kan lewe.  Maak seker dat julle vry bly, en moet nie weer onder ‘n slawejuk vasgebind word nie.

Self het ek, om dit so te stel, ‘n groot probleem met ‘n herder, pastoor, of wat hy ook al genoem wil word, as hy homself op gesalfde van die Here beroep in die sin dat hy in die een of ander wyse nou ‘n bietjie hoër as jy is, of as gevolg van sy “status” hoër by ons Here aangeskryf staan as jy.

Ongelukkig is dit so, dat sommige herders van gemeentes outokraties hulle amp uitlewe.
Geen kind van ons Here is by ons Here beter, hoër ens as die ander nie en dit behoort ook nie onder ons, Sy kinders, onder mekaar anders te wees nie.

Inteendeel.
Herder, Moderator, of wat hy homself ook al wil noem, behoort as kind van ons Here volgens die Nuwe Testament wat vir die Christen opgestel is, as volg te lewe:

FIL 2:3  Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie.  Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself.

1PET 5:3 Moenie baasspeel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar stel die voorbeeld vir die kudde.

JESUS, Leermeester en HERE, wat self Sy dissipels se voete gewas het, sê:

MAT 23:11 “Die belangrikste een onder julle moet die een wees wat dien.
MAT 23:12 Dié wat vir hulleself eer soek – God sal hulle verneder.  Maar dié wat hulle geringheid voor God besef – God sal hulle hoog vereer.”

In die Ou Testament het dinge anders gewerk maar as jy ‘n Ou Testament met ‘n Nuwe Testament vervang, geld dit wat in die Nuwe Testament geskryf is as die norm waarvolgens gelewe moet word.

Self sê die Woord in hierdie verband:

HEB 8:13  Deur van ‘n nuwe verbond te praat het God die vorige een as uitgedien verklaar.  En wat uitgedien is en steeds nog verder verouder, staan gereed om heeltemal afgeskaf te word.

Jesus het vir ons ‘n Nuwe testament opgestel en ek haal dit aan uit die Ou Vertaling:

MAT 26:27  Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.
MAT 26:28  Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

Natuurlik is daar mense wat soms uit onkunde maar ook soms omdat dit gewoon net hulle soort lewe pas, gedeeltes uit die Mosaïese wet uit verband op hulleself van toepassing maak en ook oor hulle lees ek in die Woord:

2KOR 3:14-16 
14 Hulle denke het verhard geraak.  Tot vandag toe is hulle gedagtes versluier as hulle die Ou Testament lees.  Daardie sluier word net eenvoudig nie verwyder nie omdat dit net Christus is wat dit geheel en al vernietig.
15  Tot vandag toe nog, elke keer as Moses voorgelees word, lê daar ‘n sluier oor hulle harte.
16  Van Moses word egter in die Skrif gesê:  “Elke keer as hy hom na die Here toe draai, verwyder hy die sluier.”

Die skrywer aan die Hebreërs verduidelik hierdie saak van ‘n geldige en ongeldige testament onder andere as volg:

HEB 9:15-18 
15 Daarom is Hy ook die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en ons sodat almal wat genooi is, die ewige erfdeel kan ontvang wat God vir hulle beloof het.  Want Christus het gesterf om hulle te bevry van die straf van die sondes wat hulle onder daardie eerste verbond begaan het.
16  As iemand sterf en hy laat ‘n testament na, kry niemand enigiets voordat die testamentmaker werklik as dood bewys is nie.
17  ‘n Testament word tog eers geldig by afsterwe;  solank iemand nog lewe het dit geen regsgeldigheid nie.
18  Dit verduidelik ook waarom die eerste verbond nie sonder bloed ingestel is nie.

Ek sou graag wou afsluit met die hele ROM 12:6-21 maar om die skrywe nie te lank te maak nie,
volstaan ek met die volgende:.

ROM 12:10  As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.

ROM 12:16  Konsentreer op dit wat onderlinge eensgesindheid bevorder.  Moenie belangrik probeer wees nie, maar vind julle geluk by die nederiges.  Moenie dink dat net julle altyd reg is nie.
ROM 12:21  Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan.

Groete
Sakkie