DIE GEBEURE IN NUMERI 12

DIE GEBEURE IN NUMERI 12

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra of ek dalk kan help met ‘n verduideliking rondom die gebeure in NUM 12:1-15 en wat is ‘n Kusitiese vrou presies.

Dit was mos nou die tyd toe Mirjam en Aäron, om dit lig uit te druk, nie van die idee gehou het dat Moses met ‘n Kusitiese vrou getroud was nie, en wat die uiteinde van hul optrede veroorsaak het dat ons Here baie kwaad vir hulle twee geword het en hoe ons Here vir Mirjam met melaats geslaan/gestraf het.

Net gou iets oor die naam Kus.

Kus is die land suid van Egipte en is die hedendaagse Etiopië.

So, Mirjam en Aäron het, as Israeliete, twee groot probleme met Moses se vrou gehad.

Eerstens, was sy nie ‘n Israeliet nie en tweedens was sy, met die kennis tot my beskikking, ‘n anderskleurige.

Waarvan praat ek, as ek sê, “na my kennis?”

Wel, eerstens, so ver my kennis strek, is die inheemse volk van Etiopië nie blank nie en tweedens lees ek byvoorbeeld ook in die woord:

JER 13:23  ”Kan ‘n Kusiet sy vel verander of ‘n luiperd sy vlekke? …”

So, die Woord sê nie prontuit dat Sippora nie blank was nie, maar dit is die gevolgtrekking wat ek maak.

Hoe ook al, ons Here was baie, baie ontevrede met hulle twee. Om dan op te som, voordat ek verder gaan. Kus is die land suid van Egipte. ‘n Kusiet was iemand wie deel van die bevolking van Kus was, en Kus is die hedendaagse  Etiopië.

Ek is tog so dankbaar dat ek, as Christen, nie onderskeid hoef te maak tussen mense bloot omdat die persoon nie dieselfde kleur, of uit dieselfde volk as ek is nie. Nee! Prys die Naam van die Here!

Ek probeer almal wie ek kan, help om ‘n dissipel van Jesus te word, dit maak nie vir my saak uit watter stam, taal, volk en nasie die persoon is nie, maar dan, dit maak ook nie vir ons Here saak nie en dit is mos Sy Gees wat in my woon.

OPG 5:9  “Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met U bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie.
OPG 5:10  en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.”

Met ander woorde, ek probeer elke mens wie my die geleentheid gee, help om Jesus te ontmoet en Hom aan te neem as Verlosser en Saligmaker, sodat hulle ook tot dieselfde volk as ek kan behoort. Want, van almal wat Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, sê die Woord:

1PET 2:9  “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot Sy wonderbare lig,
1PET 2:10  julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.”

Ai! Hoe heerlik wonderlik is dit nie! Hierdie Christenvolk bestaan, volgens die Woord, soos jy reeds gelees het, uit die volgende:

OPG 5:9  “oe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met U bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,
OPG 5:10  en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.”

Groete
Sakkie