DIE GEBEURE RONDOM DIE TORING VAN BABEL

Die gebeure rondom die toring van Babel

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra hoe ek die gebeure rondom die toring van Babel sien en dan verál ons Here se optrede om die mense se tale te verwar.

Hier is dan hoe ek hierdie saak verstaan maar lees eers die gedeelte:

GEN 11:1-9 

1 En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde.

2  En toe hulle wegtrek na die ooste, vind hulle ‘n laagte in die land Sínear; en daar het hulle gaan woon.

3  Daarop sê hulle vir mekaar: Kom laat ons stene vorm en dit goed brand. Hulle gebruik toe die bakstene vir bousteen en die lymgrond vir klei.

4  En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.

5  Toe daal die HERE neer om die stad en die toring te besien waaraan die mensekinders gebou het.

6  En die HERE sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie.

7  Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie.

8  So het die HERE hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en

hulle het opgehou om die stad te bou.

9  Daarom het hulle dit Babel genoem, want daar het die HERE die taal van die hele aarde verwar, en daarvandaan het die HERE hulle oor die hele aarde verstrooi.

Eerstens, ek dink nie die bou van die toring was vir ons Here die groot “issue” nie.  Buiten miskien, omdat ons Here vol liefde en deernis is vir die mens, Sy hoogste skepping, en dat Hy nie wou toekyk hoe hulle, hulle energie verspil op so ‘n belaglike onderneming nie. 

Vandag, omdat ons weet wat ons weet, kan ons maar net glimlag oor die groot dwaasheid wat hulle wou aanpak.

Hier was egter na my mening iets ánders aan die gebeur en natuurlik soos alles wat teen ons Here is, was satan weer voluit agter die skerm besig om sy bose ding te doen.

Die satan ken die mens se sug na self verering.

Die woordeboek gee as Engelse woorde vir “sug,” onder andere “passion, lust en craving” en dit was wat hier na selfverheerliking in volle blom gestaan het en as die eie ek op die voorgrond tree, word ons Here op die agtergrond gestoot en word gehoorsaamheid aan Hom oorboord gegooi.

Dit is toe natuurlik vanselfsprekend wat hier gebeur het.

Onthou jy wat was ons Here se instruksie aan die mens daar aan die begin?

GEN 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

GEN 1:28  En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Ons Here wou dat die mens oor die hele aarde versprei en dit in besit neem maar satan hamer op die mens se sug, “passion, lust en craving” na selfverheerliking en wat besluit die mens?

GEN 11:4  En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.

Dit na my mening was waarom ons Here gesê en dit ook gedoen het.

GEN 11:7  Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie.

GEN 11:8  So het die HERE hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en hulle het opgehou om die stad te bou.

Ons Here het gesien dat die mens ‘n groot gemors van sy bestaan hier op aarde gaan maak en toe gryp Hy in en weet jy, dit was ook nie die laaste keer wat ons Here so ingrypend opgetree het nie.

Daar was ook ‘n ander keer toe ons Here neergedaal en ingegryp het.

Want, jy weet mos hoe is die mens, ons leer nie altyd deur ons foute nie en ons was weer besig om soos gewoonlik ‘n gemors van ons bestaan hier op aarde te maak.

GaAL4:4  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, …

Weet jy wat is so wonderlik van ons Here?

Al het jy ook soos die mense destyds, van jou aardse klei besittings en eie vleeslike belange stene gemaak en jou lymgrond verkeerde verhoudings, gevoelens en sondige begeertes geneem en al staan jou Babel toring al hemelhoog.

Daar was ‘n tyd !

JHN 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

JHN 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

As jy jou rug op jou half geboude nuttelose Babel toring van “Self-important” en als wat daarmee gepaard gaan wil draai en jou saak met ons Here wil regmaak, sê Hy vandag ook vir jou.

MAT 11:28  Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.

MAT 11:29  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;

Weet jy wat is so wonderlik van, as jy ‘n volle oorgawe aan Hom maak?

Jy hoef nie eers hierdie of daardie, of die ander te gaan verander nie, los dit net en kom na Hom.

Hy het ook nie destyds die mense eers die toring laat afbreek nie, dit sal self tot niet gaan.  Kom jy maar net soos jy is. Want, Sy Woord sê.

JES 42:2  Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie.

JES 42:3  Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.

1JHN 1:7  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.