IS DIE GEBRUIK OM MET OLIE TE SALF NOG VANDAG VAN TOEPASSING

IS DIE GEBRUIK OM MET OLIE TE SALF NOG VANDAG VAN TOEPASSING?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra of ek nie iets wil skryf oor die gebruik om met olie te salf en of dit nog vandag ook deur ons behoort gedoen te word.

Hier is dan hoe ek na hierdie saak kyk en hoe ek dit in my eie lewe uitlewe:

Eers sommer vir die interessantheid die volgende:
In die Ou Testament was olie gebruik om mense wat deur of vir ons Here vir die een of ander rede afgesonder of, om dit anders te stel uitgekies was.
Ek gee terwille van die lengte van hierdie skrywe net twee voorbeelde:

LEV 8:30  Daarna het Moses van die salfolie en van die bloed op die altaar geneem en dit op Aäron en sy klere gesprinkel en ook oor sy seuns en hulle klere.  Op dié manier het hy Aäron en sy seuns en hulle klere heilig gemaak. 

1SAM 16:13  Terwyl Dawid daar tussen sy broers staan, neem Samuel die olie wat hy saamgebring het en gooi dit uit op Dawid se kop.  Van toe af het die Gees van die HERE kragtig in hom gewerk.  Daarna het Samuel Rama toe teruggegaan.

Ook het hulle olie gebruik om voorwerpe te salf.

EXO 25:6  van olyfolie vir die lampe, van geurige wierook vir die offers..

EXO 30:26-29 
26  Gebruik dit om die tabernakel en die ark van die verbond te salf.
27  Salf daarmee ook die tafel en al sy toebehore, die kandelaar en al sy toebehore, die wierookaltaar,
28  die brandofferaltaar met sy toebehore en die waskom met sy voetstuk.
29  Dra hulle almal aan die HERE op.  Enigeen wat daarna daaraan raak, sal vir die HERE geheilig wees.

Daar is natuurlik ook ‘n resep in die Bybel van waarmee hierdie olie vervaardig moet word.
Nou sê ek nie, dat as jy olie wil gebruik om iemand of iets mee te salf, jy olie moet gebruik wat volgens daardie resep vervaardig is nie.  Ek noem dit net vir jou omdat dit sommer vir my interessant is, dat daar so ‘n resep in die Bybel gevind kan word.
Ons lees:

EXO 30:22-25 
22  Die HERE het verder vir Moses gesê: 
23  “Kry die volgende bymekaar:  500 dele mirre, die helfte soveel kaneel, 250 dele kalmoes,
24  500 dele kassie en vier liter olyfolie.
25  Meng dit met mekaar en maak daarvan heilige salfolie.

Ek dink persoonlik nie dat daardie, of enige ander olie wat gebruik was, of nog vandag gebruik word, om dit so te stel, op sigself bonatuurlike krag ens het nie maar ons Here sien die geloof en gehoorsaamheid van die mens wat saam met die salwingsdaad gepaard gaan en Hy handel dan in Sy groot liefde en genade, soos wat Hy met die salwing wat plaasgevind het, wil handel.

In die Nuwe Testament lees ons van 4 salwings met olie naamlik:

MRK 6:12  Hulle het gaan verkondig dat die mense tot inkeer moet kom.
MRK 6:13  Hulle het ook baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.

LUK 7:44-47 
44  Hy het toe na die vrou gedraai en vir Simon gesê: “Kyk na hierdie vrou. Toe Ek jou huis ingekom het, het jy My nie water aangebied om die stof van my voete af te was nie, maar sy het hulle met haar trane gewas en met haar hare afgedroog.
45   Jy het My nie met ’n soen verwelkom nie, maar sy het my voete weer en weer gesoen vandat Ek hier ingekom het.
46  Jy het nie my kop met gewone olyfolie gesalf nie, maar sy het my voete met kosbare olie gesalf.
47  Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, omdat sy baie liefde aan My bewys het. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!”

HEB 1:7-9 
7 God sê van die engele:
“Hy verander sy engele in stormwinde,sy dienaars in vuurvlamme.”
8  Maar vir die Seun sê Hy:
“U troon, o God, staan vir altyd onwankelbaar vas.
U koninklike heerskappy word gekenmerk deur regverdigheid.

9  U het lief wat reg is en U haat wat verkeerd is.
Daarom het, o God, u God U met jubelende vreugde tot koning gesalf –
ver verhewe bo almal saam met U.”

JAK 5:14  Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid.

JAK 5:15 En ’n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word.

Nou kan ‘n mens byvoorbeeld vra:
Geld salwing met olie nog vandag?
Anders gestel – Behoort ons nog vandag mense en of dinge te salf?

Iemand mag selfs vra, of dit nie dalk verkeerd is om dit vandag nog te doen nie.

My siening van hierdie en baie, eintlik moet ek sê, alle voorskrifte wat in die Nuwe Testament vir dissipels / Christene / volgelinge van Jesus Christus gegee is, is vandag presies nog net so relevant soos destyds.
Ja, ek weet dat baie voorskrifte wat vir ons, Jesus se volgelinge destyds gegee was, word vandag deur die meeste denominasies afgemaak, asof dit nie meer vandag vir ons geld nie.  Om die waarheid te sê, as ek so na alles kyk wat volgens baie denominasies, nou nie meer vir ons as relevant beskou word nie, as gevolg van die een of ander nuwe openbaring of wat hulle dit ook al wil noem.
Dan, so met die tong in die kies, lyk dit vir my, of die Christene destyds, om dit sagkens te stel, ‘n ander soort menseras gewees het.  Sê nou maar, ander soort mense op ‘n ander planneet.

Ek kyk na “die salwing met olie,” soos ek na al die ander voorskrifte vir Christene uit die Woord kyk.
Ek glo met my hele hart, dat om dit so te stel, Jesus tot op die sekonde, op die regte tyd gekom het.  Ons Here het alles maar als presies 100% beplan, uitgevoer en in plek gehad vir Sy Seun se koms.

Kom ons gaan byvoorbeeld so ‘n bietjie terug in die geskiedenis voor Jesus se koms, tot by Alexander die grote.
‘n Jong man staan op en verower die hele, vir daardie tyd beskaafde wêreld en ‘n groot deel van die onbeskaafde wêreld en oral waar hy gaan laat hy die Griekse alfabet agter en die hele wêreld kan lees en skryf.
Toe groei ‘n gehuggie tot die magtigste stad in die wêreld en terwyl Rome die Grieke en al die ander volke oorwin, bou hulle van die beste paaie in die wêreld en so kon die Evangelie geskryf en oor paaie wat oor die hele wêreld loop geneem en aan almal gegee word om te lees maar nie net gee hulle vir die mense goeie paaie nie, hulle bring ook hulle kultuur en deel van hierdie kultuur is teregstelling deur kruisiging.
Nou het jy die Griekse alfabet.  Jy het die Roomse paaie en die kruisiging kultuur, saam met die Joodse kultuur met al sy gebruike en siedaar!
Ek verstaan wat ek lees, as ek lees.

GAL 4:4  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur.

As ons Here iets uit die kultuur van destyds, toe die volheid van die tyd aangebreek het, gebruik en vir my in Sy Woord sê dat ek so moet lewe, wel dan sê ek:
“Prys die Here!”
Dan probeer ek na die beste van my vermoë om so te lewe.

So van kulture gepraat.
Nou het daar mos ‘n kultuur in die kerk ontstaan, of sal ek sê die kultuur het in baie denominasies in die kerk ontstaan om iets soos die volgende te verkondig:
“Tye het verander.  Destyds toe die volheid van die tyd aangebreek het, het hulle dinge so gedoen maar ons hoef dit nie meer vandag te doen nie, al staan dit in die Woord, dat ons dit moet doen, want ons leef in ‘n ander tyd en tye het verander.”
In hierdie verband wil ek begin deur die volgende uit die Woord te kwoteer:

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek.
2TIM 3:17  Dit is God se manier om sy mense voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen

ROM 15:4-6 
4 Ons moet leer uit wat al lank gelede reeds in die Skrif opgeteken is. Die standvastigheid en die bemoediging wat die Skrif aan ons gee, help ons om aan ons toekomsverwagting te bly vashou.
5  Mag God, wat die bron is van standvastigheid en bemoediging, julle help om in volkome harmonie met mekaar te lewe – elkeen met die gesindheid van Christus teenoor julle medegelowiges.
6  Dan sal julle almal in ’n wonderlike eenheid van gees en uit een mond die lof toebring aan God, die Vader van Jesus Christus ons Here.

Luister my vriendin, luister my vriend –

HEB 13:7-9 
7 Onthou julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Dink aan watter voorbeeldige lewe hulle enduit gelei het en vertrou soos hulle op God.
8  Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!
9  Pas op dat julle nie meegesleur word deur die bekoring van allerlei vreemde idees nie. …

Hierdie Jesus wat nooit verander nie, wat gekom het toe die tyd in alle opsigte presies reg was –  Ja, toe al die kulture ook net reg was om ons alles te leer omtrent die Evangelie wat ons moet weet en wat ons moet doen – Vanaf die teregstelling deur kruisiging kultuur, tot by die kultuur waaroor Paulus met die Griekse alfabet geskryf het, het nie verander nie.  Hy het nie verander nie en Sy Evangelie het ook in geen opsig verander nie.
Dit is maar net ‘n paar voorbeelde maar alles, letterlik alles, was na my mening presies reg om die Evangelie te verkondig soos wat die Evangelie verkondig moes word.  Hoe kon dit ook anders?  Was dit dan nie ons Here self, wat die beplanning en uitvoering van die begin van die verkondiging van die Evangelie gereël het nie?

GAL 4:4  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, …

As ons Here selfs die alfabet en die paaie gereël en in plek gehad het toe die volheid van die tyd aangebreek het en ek sê dit met al my respek vir Hom maar om te wys hoe belaglik dit is om so te redeneer.
Sou Hy dan dalk vergeet het om die regte kultuur in plek te hê?
Nee! ‘n duisend maal nee!
Die regte kultuur was op die regte tyd, in die regte deel van die wêreld volmaak in plek, om ons Here se skrywers te help, om Sy Woord presies vir alle tye reg te skryf.
So, is dan die hele Woord soos byvoorbeeld die alfabet, toe die volheid van die tyd gekom het, vir ons presies volkome vir alle tye gegee en daarom lees ek ook.

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. (OV)

Ek lees ook in die Woord:

HEB 13:8  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
HEB 13:9  Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; (OV)

As Jesus nie verander nie, en ek my nie moet laat rondslinger deur allerlei leringe nie, waar kry ek die reg om iets uit Sy Nuwe Testament wat Hy vir my opgestel het te neem en te verkondig, dat dit nie meer vir vandag geld nie? 
Veral as ek by dit alles nog ook onthou:

1PET 1:25  Maar die woord van die Here hou vir ewig.”
En hierdie woord is as Goeie Nuus aan julle verkondig.

Die kerk het oor die jare al hoe meer dinge uit die Evangelie geneem, as of dit nie meer vandag van toepassing is nie en daarom het die kerk ook na my mening al hoe  swakker geword, deur dat sy haar geloofwaardigheid verruil het om aan mense se sienswyses en grille toe te gee.  Want ons wil ‘n Evangelie verkondig wat mense se ore streel en al wat ons doen is, ons verswak die kerk en maak selfs Jesus in die naam van die Evangelie bespotlik in die oë van die wêreld.
Daarom dan is dit ook dat dit al vandag selfs deur sogenaamde groot teoloë verkondig  word, dat die maagdelike geboorte van Jesus nie waar is nie en dat Hy ook nie uit die  dood opgestaan het nie.
Toe die kerk begin het om na die Woord te wys en te sê hierdie en daardie geld nie meer vir vandag nie, het die kerk die weg oopgemaak vir enige een om uit te haal wat hom of haar nie pas nie.
Geen wonder dat daar in die Woord ook geskryf is:

2TIM 4:3  Want daar kom ’n tyd wanneer mense nie meer na gesonde onderrig sal luister nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en leermeesters soek wat net verkondig wat hulle graag wil hoor.
2TIM 4:4  Hulle sal die waarheid verwerp en vreemde mites navolg.

Dus, as iemand vir jou wil vertel, dat om iemand in die geloof met olie te salf vir die een of ander rede nie meer vir ons geld nie, dan onthou jy, dat ons Here vir ons laat skryf het, dat die hele Woord vir ons gegee is “tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,“

Een ding moet ons net teen waak as ons iemand of iets vir die een of ander rede salf. Die olie is nie ‘n wondermiddel met een of ander bonatuurlike krag nie.
Die geloof in ons Here en dat jy in gehoorsaamheid doen, dit wat Hy in Sy Woord vir jou voorskryf om te doen – dit is waaroor dit eintlik gaan.
In hierdie verband lees ons byvoorbeeld:

JAK 5:14  Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid.

JAK 5:15  En ’n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word.

Dan en hoe absoluut wonderlik:
Is dit nie heerlik om te weet, dat ons, Sy kinders, ‘n salwing van die Heilige Gees van
ons Here ontvang het nie?

1JOH 2:20 Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees.

2 KOR 1:21-22
21  Hy het ons saam met julle op Christus as fondament geplaas, terwyl God ons ook vir Hom afgesonder het.
22  Hy het ons as sy eiendom gemerk en die Gees in ons harte gevestig

Ek hoop nie dit klink verwaand nie maar ek wil jou vra om die Woord te lees, te lewe en te verkondig soos wat ek poog om dit te doen.
Ek lees die Woord soos ‘n kind dit sou lees.  Ek probeer nie iets inskryf wat daar nie staan nie en ek besluit ook nie, dat hierdie of daardie nie meer vandag van toepassing is nie.  As ons dit so kinderlik lees, dan doen ons in elk geval wat Jesus sê dat ons moet doen.

MRK 10:15  Ek verseker julle, wie God se koninkryk nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.”

As die kruisiging kultuur, wat in plek was toe die volheid van die tyd aangebreek het, nog volgens Jesus vandag op my Sy dissipel van toepassing is:

LUK 14:27  En jy kan nie my dissipel wees as jy nie jou eie kruis dra en My volg nie.

Wel, dan is al die ander gebruike uit die kulture van daardie tyd, wat in plek was toe die volheid van die tyd aangebreek het, wat deur die Woord van ons Here op Sy kinders van toepassing was, verseker nog vandag op my, Sy kind van toepassing.

Ek met my menslike verstand het verseker nie al die antwoorde vir dit wat in die Woord geskryf is nie maar ek weet wat dit beteken om gehoorsaam te wees.
Glo my as ek vir jou sê, dat gehoorsaamheid is vir ons Here baie meer aanvaarbaar, as ongehoorsame diens.

1SAM 15:22  Maar Samuel antwoord:
“Wat verkies die Here:
Brandoffers of gehoorsaamheid?  Gehoorsaamheid is beter as offers; om te luister is beter as die vet van ramme.
1SAM 13:23 Opstandigheid is net so ’n oortreding soos waarsêery, en hardkoppigheid is net so ’n sonde soos afgodery.  Omdat jy die Here se woord verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”

Groete
Sakkie