DIE GEVOLGE VAN ONS WOORDE

DIE GEVOLGE VAN ONS WOORDE
Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Sakkie ek wil hoor of jy raad of n verklaring vir my het.  Dood en lewe in die mag van die tong.
Help my reg asseblief, as ek iets spreek, sal dit dan so gebeur?
Vat ek nie dan nou God se kollig nie, want net God het gespreek en toe gebeur alles.
Kan jy dit asb vir my verklaar.”

Ek wil dan begin deur te sê dat daar baie mense is wat wel glo dat jy soos God, iets wat nie bestaan nie kan roep as of dit bestaan.

Dan is daar ook ongelukkig Christene wat selfs met ‘n vrees kan rond loop oor iemand wat ‘n vloek / verwensing oor hulle uitgespreek het en selfs bevrees is vir iemand wat hulle konsuis kan toor of selfs getoor het – maar daaroor sê ek meer aan die einde van hierdie skrywe.

Vir nou wil ek begin deur die gedeelte uit die Woord wat saam met die vraag vir my gestuur gewees het.

SPR 18:21 Die tong het mag oor dood en oor lewe.
Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde.

Daar is baie ander gedeeltes in die Woord waar ons Here ons ook, om dit so te stel waarsku, oor hoe gevaarlik ons tong kan wees.  Anders gestel, hoeveel mag daar in ons woorde en die wyse waarop ons die woorde gebruik kan wees en ek deel met jou net nog ‘n paar van werklik baie voorbeelde wat ek uit die Woord kon gebruik het:

JAK 3:5  So is die tong ook iets kleins, en tog kry dit groot dinge reg. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek.
JAK 3:6  Die tong is ook ’n vuur. Dit is vol dinge wat jou verhouding met God kan bederf. Dit kan jou hele lewe in vlamme laat opgaan, want die duiwel steek dit aan.

My tong kan deur valshede wat ek van iemand sê net so dodelik soos ‘n gevaarlike wapen wees.

SPR 25:18  Iemand wat vals getuienisse oor ’n ander versprei, is net so gevaarlik soos ’n knuppel, ’n swaard en ’n skerp pyl.

‘n Mens kan, om dit so te stel, letterlik iemand se lewe verbeter deur net jou mond oop te maak en te praat:

SPR 16:24  Mooi woorde is soos heuning;  dit is goed vir die gees en bevorderlik vir die lewe.

So kan ek aan en aan en aan gaan maar ek is seker jyself weet ook hoe gevaarlik ‘n mens se tong kan wees, of natuurlik, hoe wonderlik kan die uitwerking van iemand se woorde op jou wees.
Mense het al deur hulle woorde, dat iemand selfmoord pleeg en mense het al deur met iemand te praat ‘n persoon gekeer om selfmoord te pleeg.
‘n Regter kan deur ‘n paar woorde te sê ‘n man vir die res van sy lewe in ‘n tronk sit en in sommige lande, kan die regter deur ‘n paar woorde te sê iemand tot die dood veroordeel.
Iemand kan as hy oortuigend genoeg is deur sy valse woorde iemand se lewe in byvoorbeeld ‘n hof vir altyd op hierdie aarde verwoes en anders om.

Dit wat ek tot hier toe met jou gedeel het, is die soort ding waarvan SPR 18:21 praat as ons lees:

SPR 18:21  Die tong het mag oor dood en oor lewe.  Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde.

Daar is natuurlik ook diegene wat, om dit so te stel, aan hulleself nog groter mag gee en sê:
“Ons kan die dinge wat nie bestaan nie roep as of dit reeds bestaan en dit is omdat hulle of verkeerd geleer is, of ‘n gedeelte uit die Woord verkeerd kwoteer.
Die gedeelte uit die Woord wat hulle dan verkeerdelik kwoteer is die volgende:

ROM 4:17  Dit is wat die Skrif bedoel het met die woorde:
“Ek het jou die stamvader van baie volke gemaak.” By die God in wie Abraham geglo het, was dié belofte reeds as’t ware ’n werklikheid – Hy is immers ’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is.

Ongelukkig is daar baie mense wat die Woord lees, op wie die volgende uit die Woord van toepassing gemaak kan word:

MAT 13:14  Die profesie van Jesaja word in hulle geval bewaarheid:
‘Julle sal my woorde hoor en tog nie verstaan nie.
Julle sal sien wat Ek doen en dit tog nie werklik begryp nie.

Hulle lees die Woord gee hulle die mag om dinge te roep wat nie bestaan nie, as of dit bestaan, terwyl ons lees:

ROM 4:17  … By die God in wie Abraham geglo het, was dié belofte reeds as’t ware ’n werklikheid – Hy is immers ’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is.

Net God, nie die mens nie, kan dinge wat nie bestaan nie roep of aanspreek as of dit reeds bestaan.

Ek het genoem, dat ek ook net weer iets gaan sê oor vloeke/vervloekings/verwensings en ja, selfs toordery of wat jy dit ook al wil noem waaroor sommige kinders van ons Here so bang is wat iemand oor hulle uitgeroep het.

Is daar allerlei vloeke ens?

Ja, natuurlik, want daar is ‘n satan en sy volgelinge  maar daar is een volmaakte wonderlike antwoord / beskerming teen daardie soort goed en dit is Jesus Christus.
As jy Jesus Christus aanneem as jou Verlosser en Saligmaker, is jy volmaak beskerm teen elke watter soort vloek jou pad ook al mag langs kom.

Luister wat sê die Woord van jou en my – en wat ook al op, in of as jy dan wil, oor ons gewees het voordat ons Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker.
Van ons Wat nou bloedgewaste kinders van God is, sê die Woord.

2KOR 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Geen vloek of wat ook al het enige vat kans op ‘n kind van ons Here nie.
Jy en ek het Jesus se Gees inwonend in ons.
Enige vloek of gees wat oor jou of my wil kom, of ons skade wil aandoen, moet eers by Jesus verby kom.

GAL 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Enige vloek of toordery het absoluut géén krag hoegenaamd op of oor my nie.
Hoe heerlik om na vloeke /verwensings / toordery en wat jy hierdie drek ook al wil noem te kyk en te weet –

1JHN 4:4  Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.

Ten slotte:
Laat jy en ek, kinders van ons Here ook goed onthou, as ons, ons monde oopmaak om te praat:

SPR 18:21  Die tong het mag oor dood en oor lewe.
Hulle wat lief is om te praat,
moet saamleef met die gevolge van hulle woorde.

In hierdie verband sê Jesus ook vir ons:

MAT 12:36  Dít verseker Ek julle, julle sal op die oordeelsdag rekenskap moet gee van elke onverskillige woord wat julle sê.

MAT 12:37  Op grond van wat jy nou sê, sal jy eendag vrygespreek of veroordeel word.”

Groete
Sakkie