DIE GODSBESEF WAARMEE ELKE MENS GEBORE WORD

DIE GODSBESEF WAARMEE ELKE MENS GEBORE WORD. 

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:
“Ek wil net graag weet: Wat het van die mense se siele geword wat voor Christus gelewe het?”
Het hulle ook Hemel toe of Hel toe gegaan?

Hier is dan hoe ek hierdie saak uit die Woord verstaan:

Voor Christus was daar die Mosaïese Wet maar reg van die skepping af was daar in die mens – omdat die mens na God se beeld geskape is – dit wat ons die Godsbesef noem, waarmee elke mens geskape is.
Paulus skryf byvoorbeeld oor hierdie Godsbesef as volg:

ROM 2:14  Wat nou die nie-Jode betref wat nie God se geskrewe wet het nie – as hulle instinktief die vereistes van die wet nakom, selfs al het hulle nie die wet nie, stel hulle vir hulleself ’n wet.
ROM 2:15  Hulle optrede toon duidelik dat die vereistes van die wet in hulle harte geskryf staan. Boonop bevestig hulle gewetens dit deurdat hulle gedagtes hulle óf aankla óf vryspreek.

‘n Bietjie vroeër in dieselfde brief aan die Romeine skryf Paulus, wie na my mening, die grootste apostel van alle tye is en aan wie ons Here die grootste deel van die Nuwe Testament toevertrou het:

ROM 1:19-21 
19 In hulle harte het hulle immers ’n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekendgemaak.
20  Want hulle kan sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself nie verontskuldig nie.
21 Ja, hulle het ’n Godsbesef gehad, maar tog het hulle Hom nie as God geëer of aan Hom dankbaarheid betoon nie. Inteendeel, hulle het vir hulleself allerlei belaglike voorstellings oor ’n godheid begin maak en hulle verdwaasde harte het heeltemal toegeslaan.

So, kon mense voor Jesus Christus Hemel of Hel toe gaan?
Dan is die antwoord –
Ja, hulle kon verseker Hemel of Hel toe gaan.
Hulle kon selfs voor die mosaïese wet Hemel of Hel toe gaan en buiten vir Abram en nog ander mense waarvoor ons getuienis in die Woord het deel ek met jou een geval:

GEN 5:22-24
22 Ná die geboorte van Metusalag het Henog nog 300 jaar in ’n noue verhouding met God gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad.
23 Hy het altesaam 365 jaar gelewe.
24  Hy het sy lewe lank baie naby aan God gelewe. Toe het hy verdwyn, want God het hom weggeneem.

Wat die tydperk aanbetref vandat die Mosaïese Wet inwerking getree het, deel ek buiten vir die bekende geval waarvan ons weet, van Elia wat lewend opgevaar het na die Hemel, ook met jou die volgende voorbeeld waar dit duidelik is, dat gedurende die mosaïese tydperk mense Hemel toe kon gaan.

Ons lees:
MAT 17:1-3 
1 Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saam met Hom en vat hulle teen ’n hoë berg uit waar hulle alleen was.
2  En daar, terwyl hulle na Jesus kyk, het sy voorkoms verander. Sy gesig het begin straal soos die son. Sy klere het skitterwit geword.
3  En, wonderlik, toe verskyn Moses en Elia voor hulle en voer gesprek met Jesus.

Moses en Elia het gedurende die Mosaïese tydperk honderde jare voor hierdie dag waarvan jy nou gelees het gelewe en hulle het ook honderde jare uit mekaar gelewe en hier is hulle ou vriende.

In hierdie gedeelte wat jy nou gelees het, sien ons ook met ander woorde, vir die wat daaroor gewonder het, dat ons direk nadat ons hierdie lewe uit getree het, ons dadelik by ons ewige bestemming, die Hemel of die Hel, intree.

As jy meer hieroor wil lees kan jy my net vra om aan jou my gedagte uit die Woord: “Wat gebeur met my na die graf” asook “Wat gebeur met ons op die oordeel van die groot dag” te stuur.

Hoe heerlik om hierdie sekere wete te hê:
Net soos wat ons Here voor die tydperk van die Mosaïese Wet Homself geopenbaar en laat vind het deur  mense soos Abel, Henog, Noag, Abram ens en daarna onder die verkondiging van die Mosaïese Wet Hom ook deur miljoene ander mense laat vind het, net so sal Hy Hom vandag deur mense laat vind waar hulle ook al is, as hulle werklik hulleself tot Hom wil bekeer deur Jesus Christus aan te neem as hulle Verlosser en Saligmaker.

Ek deel met jou twee gevalle uit die Woord om te demonstreer wat ek bedoel:

Hy sal Hom deur hulle laat vind, al moet hy soos in die geval van Kornelius, ‘n engel in ‘n gesig na Kornelius stuur om hom te vertel wat hy moet doen  en daarna gaan lê Hyself aste ware ‘n besoek by Petrus af om hom voor te berei vir die taak wat vir hom voorlê.

Jy kan hierdie wonderlike verhaal self gaan lees in HAN 10 vanaf vers 1.  Ek kwoteer hier net die  een gedeelte uit die verhaal:

HAN 10:3-5 
3 Een middag teen drie-uur het hy in ’n gesig duidelik ’n engel van God na hom toe sien kom wat vir hom sê: “Kornelius!”
4 Kornelius het hom aangestaar en bang geword en gevra: “Wat is dit, Meneer?”
Die engel het hom geantwoord: “Jou gebede en wat jy vir die armes doen, het God opgeval!
5 Stuur daarom nou dadelik mans na Joppe toe en laat daar ’n sekere Simon haal. Sy noemnaam is Petrus.

Ook as daar, soos in my volgende voorbeeld,  ‘n klompie mense êrens bymekaar is wat werklik ‘n behoefte het om ‘n liefdesverhouding met Jesus te hê, sal Hy ‘n ware Christen vind en al moet Hy dan op ‘n bonatuurlike wyse vir daardie Christen na hulle stuur sal Hy dit doen:

HAN 16:7  Toe hulle naby Misië kom, het hulle Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie.

Want sien.  Daar was ‘n belangriker taak wat ons Here eers wou hê dat Paulus moes doen:

HAN 8:8  Hulle het toe deur Misië gereis na Troas toe.
HAN 8:9  Daar het Paulus in die nag ’n visioen gehad. Hy het ’n Masedoniese man gesien wat hom staan en smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.”
HAN 16:10  Nadat Paulus die visioen gesien het, het ons onmiddellik Masedonië toe vertrek omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie daar te verkondig.

Uiteindelik egter is dit ons Here se begeerte, dat jy en ek, ja, dat élke wáre Christen Sy mond, hande en voete moet wees, daar waar Hy ons geplaas het, om die blye boodskap, Jesus se evangelie na elke mens in elke stam, taal, volk en nasie te neem.

Daarom sê Hy vir ons in Sy Woord:

MAT 28:19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
MAT 28:20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker:  Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Laat ons nie net ons opdrag onthou nie maar dat ons ook onthou, dat daar in vergelyking met die miljoene mense dwars oor die aarde wat nog nie van Jesus Christus gehoor het en so die geleentheid gekry het om Hom as hulle Verlosser en Saligmaker aan te neem nie, dat die mense wat bereid is om fisies hulle energie en tyd aan die verkondiging van die evangelie af te staan maar min is en dat ons in ons gebede vir arbeiders wat gewillig is, moet bid.

MAT 9:37  Daarop sê Hy vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die werkers is min.
MAT 9:38  Hierdie oes is die Here s’n. Vra Hom dan om werkers vir sy oesland te voorsien.”

Nou is die realiteit van die lewe ook van so ‘n aard, dat nie almal van ons in die omstandighede is, of die persoonlikheid of talent het om ‘n evangelis of sendeling te wees nie maar vir jy en ek wie Jesus se Gees inwonend in ons het, sê Jesus:

MAT 5:14-16 
14 Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!
15 ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.
16  Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

Hoe wonderlik is dit nie –
Almal van ons wat nie die talent het om te preek, of in die posisie is om rond te gaan en evangeliseer nie, ons almal kan nog steeds die evangelie van JESUS verkondig deur ons lewe wat ons lewe en elke mens wat God wil vind, sal Hom vind.  Want God sal sorg dat Hy Hom laat vind.

Groete,
Sakkie