DIE HEILIGE GEES – DIE FONTEIN VAN LEWENDE WATER

DIE HEILIGE GEES – DIE FONTEIN VAN LEWENDE WATER

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:

“Ek wil jou iets vra. Sal jy asb vir my verduidelik wat beteken lewende water. God sal my oorvloedige lewende water gee.”

Ek het nie die agtergrond aangaande hierdie vraag nie maar dit wil vir my voorkom of iemand dalk oor die persoon geprofeteer het.

Die Woord verduidelik eintlik vir ons baie mooi wat die lewende water is; deur die woorde van Jesus self, Jesus, God wat mens geword het:

JOH 1:1-4 
1 Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.
Die Woord was by God, en die Woord was self God.
2  Hy was reeds in die begin by God.
3  Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.
4  In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense.

JOH 1:14  En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

Vol van hierdie “liefdevolle goedheid en waarheid.“  Staan Jesus by geleentheid en Hy roep uit:

So, kom ons kyk wat God wat mens geword het van “God sal my oorvloedige lewende water gee,” sê:

JOH 7:37-39
37 Op die laaste dag, die groot dag van die Huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As jy dors is, kom dan na My toe en drink.
38  Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’”
39  Dit het Jesus gesê oor die Gees wat die mense wat in Hom glo, sou ontvang. Want die Gees was nog nie daar nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

Soos ek dit verstaan en probeer uitlewe en baie keer dit val-val lewe, werk dit so:

Die dag toe ek my bekeer het, het ek die Heilige Gees, wie die fontein van die lewende water is, ontvang.

Ek het soos elke mens, neem my groot held Paulus as voorbeeld, die potensiaal om ‘n rivier van lewende water van uit myself na die mense in die wêreld om ons te laat vloei – maar nou het ons ‘n wil van ons eie en die meeste van ons het, om dit so te stel, ‘n hoë damwal in ons lewens gebou waarmee ons die rivier van lewende water terug hou.

Sommige van ons maak soms die sluise in daardie damwal oop en laat heerlik van die rivier van lewende water uitvloei na die mense om ons.
Sommige mense maak daardie sluise soms net so effens oop en sommige mense wat kinders van ons Here is, maak daardie sluise omtrent nooit oop nie.
So kan ek aan gaan tot by die mense wie se sluise net eenvoudig nooit oopgaan nie.
Is dit nie ‘n hartseer fenomeen is die meeste van ons se lewens nie?
Want sien – maak nie saak hoe groot oop ek die sluise darem so nou en dan oopmaak nie –  Daar moes in die eerste plek nooit ‘n damwal gewees het nie.
Onthou, die ideaal is:

JOH 7:38  Die een wat in My glo (en dan natuurlik sy potensiaal ten volle gebruik) soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’”

So my vriendin/vriend.
Laat jy en ek elke dag strewe om die maksimum potensiaal van die Heilige Gees in ons te laat gestalte kry.  Want ons Here sê ook vir ons:

MAT 5:6  Gelukkig is dié wat honger en dors na wat voor God reg is, want Hy sal hulle hartsverlange bevredig.

Laat ons dus daarna strewe, dat Jesus se profesie oor ons wie Hom aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, in ons lewens gestalte kry:

JOH 7:38  Die een wat in My glo (en dan natuurlik sy potensiaal ten volle gebruik) soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’”

Dalk lees hier iemand wat nog nie ‘n persoonlike liefdesverhouding met Jesus het nie en ook riviere van liewende water na die gebroke wêreld om jou wil laat vloei.
Dan wil ek jou ernstig en dringend aanmoedig om ‘n liefdesverhouding met Jesus Christus te begin.

Hoe doen jy dit?
Volg net hierdie aanwysings uit ons Here se kosbare Woord:

HAN 2:37-39 
37 Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?”
38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.
39  Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – (mense soos jy en ek) almal wat die Here ons God sal naderroep.” (en deur hierdie skrywe, hoor jy weer vandag ons Here jou naderroep).

Kom ook ons, wie reeds ons Here se Heilige Gees in ons het, werk daaraan om daardie damwal wat ons oor die jare opgebou het weer af te breek omdat ons nie meer tevrede is om net die sluise so nou en dan oop te trek nie maar dat die riviere van lewende water uit ons binneste vloei.  Want die dorre droë gebreekte wêreld om ons het dit so oneindig nodig.

Ek laat jou dan nou met hierdie gedeelte uit ons Here se kosbare Woord wat ons God en Verlosser self vir jou en my sê.  Ons, wie Hom aangeneem het as Verlosser en Saligmaker:

HAN 1:8 Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, (wanneer die fontein van lewende water ook in jou ontspring) sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde.”

Ja, die riviere van lewende water sal uit ons binneste vloei na hierdie dorre gebroke verloregaande wêreld om ons.

Groete,
Sakkie