IS DIE HEILIGE GEES INWONEND IN MY ALHOEWEL EK NIE IN TALE PRAAT NIE?

IS DIE HEILIGE GEES INWONEND IN MY ALHOEWEL EK NIE IN TALE PRAAT NIE?

Sakkie Parsons

Na aanleiding van wat na my mening soms die verkeerde, eintlik kan ek selfs sê die leuenagtige verkondiging deur mense en selfs deur sommige denominasies is, van hoe die Heilige Gees Homself in ons lewens manifesteer, skryf iemand min of meer as volg vir my:

“Ek het Jesus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker maar ek praat nie in tale nie.
Hoe kan ek weet of ek Sy Heilige Gees inwonend in my het?”

Daar is by my nie twyfel dat jy wel die Heilige Gees in jou het nie.
Jy het Jesus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker.
Wel die Woord sê van mense wat Jesus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker onder andere die volgende:

JHN 1:12  Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

As jy Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, wel dan is jy een van ons Here se kinders en van ons Here se kinders staan daar onder andere geskryf:

ROM 8:15  Die Gees wat julle ontvang het, s nie ‘n Gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie.  Julle het die Gees van ware kind wees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God:  Abba – ons liewe Vader.

ROM 8:16  Want die Gees self bevestig die getuienis van ons eie gees dat ons God se kinders is.
ROM 8:17  En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename.  Saam met Christus deel ons in God se rykdom.  As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in sy heerlikheid.

Verder sê die Woord ook, as jy dalk nog ‘n bewys soek maar ek glo nie dat dit werklik nodig is vir nog ‘n bewys vir jou, dat jy ons Here se Gees inwonend in jou het nie maar ek deel dit met jou, sommer vir die lekker daarvan.

1KOR 12:3  Daarom wil ek nou hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus,” definitief nie onder die invloed van die Gees van God praat nie.  Aan die ander kant is dit net die Heilige Gees wat dit vir iemand moontlik maak om te verklaar:  “Jesus is die Here.”

Wat betref die verskillende maniere waarop ons Here se Gees in en deur ons werk –
Ons Here werk soos Hy wil.

1KOR 12:7-11 
7 Elkeen van ons ontvang ‘n manifestasie van die Gees om die gemeente te bevoordeel.
8  Aan die een gee die Gees die bekwaamheid om wyse raad te gee, aan ‘n ander gee Hy die gawe van spesiale kennis.
9  Aan iemand anders gee hierdie selfde Gees ‘n heel besondere geloof, aan nog een gee Hy gawes van genesing,
10  aan ‘n volgende een die vermoë om te onderskei tussen God se Gees en ander geeste, aan iemand anders die gawe van praat in tale, aan nog een die bekwaamheid om die tale uit te lê,
11  Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind.

Nog ‘n interessantheid wat ek met jou wil deel is die volgende:
Terwyl daar mense sowel as sommige denominasies is, wat die spreek in tale hoog, selfs bo-aan hulle lys van belangrikheid het van hoe die Heilige Gees in ons lewe Homself manifesteer, is dit in Paulus se lys heel onder en Paulus is die man aan wie ons Here die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het.

1KOR 12:28-30 
28 Hier volg nou ‘n lys van sommige van die “liggaamsdele” wat God aan sy gemeente gegee het:  eerstens die apostels, tweedens die profete, derdens dié wat onderrig gee, dan dié wat wonders doen, dié met gawes van genesing, dié wat ander ondersteun, dié wat leiding gee, dié wat in tale praat.
29  Ons is mos nie almal apostels nie.  Ons is nie almal profete nie.  Ons het nie almal die gawe om onderrig te gee nie.  Ons het nie almal die vermoë om wonders te verrig nie.
30  Ons het nie almal gawes van genesing nie.  Ons kan nie almal in tale praat nie.  Ons kan nie almal tale uitlê nie.

My ondervinding oor baie jare is, dat mense soms meer konsentreer op die een of die ander duidelik sigbare manifestering van ons Here se Gees en aangepor deur satan maak baie mense dan ook misbruik daarvan.
Byvoorbeeld ek het dit al baie gekry, dat mense vir my sê:
“Ek was by ‘n diens waar die Pastoor vir mense gebid het en hulle dan omgeval het.  Toe hy vir my bid en ek nie wou val nie, het hy probeer om my om te stoot.”
Dan was daar ook een van die ergste persoonlike ondervindings wat ek en my vrou belewe het.
‘n Vrou in die gemeente waar ons aanbid het, kom een oggend by ons en wys my vrou hoe haar man haar mishandel, deur onder andere op haar te sit en haar oral met stompies te brand.
Hy was ‘n diaken in die gemeente en in ‘n diens baie keer een van die eerste wat opgespring, sy hande waarmee hy sy vrou mishandel in die week, in die lig steek en in wat hy wou hê ons moet glo ‘n taal gepraat het.

Ek het die genadegawe van spreek in tale ontvang maar ek weet van baie Christene wat volgens my, vêr beter Christene is as wat ek is, wat nie in tale spreek nie.

Nadat Paulus in 1Kor 12:28-30 ‘n lys van maniere genoem het waarop ons Here deur Sy Gees deur en in ons werk, sluit hy hoofstuk 12 as volg af:

1KOR 12:31  In alle geval – konsentreer op die nuttigste gawes.  Maar laat ek julle nou eers vertel waar die eintlike geheim lê.

Dan gaan hy voort in 1Kor 13 en gee ons die mooiste verduideliking/beskrywing van die liefde wat ek as Christen al ooit van ‘n mens gehoor het.  Gaan lees dit weer groot asseblief.

Kom ek en jy strewe daarna om die vrugte van die Gees te dra en onthou ook as jy nou gaan lees wat Jesus in hierdie verband sê, my twee voorbeelde hier bo van sataniese valse na-aaping van die werking van ons Here se Gees.

MAT 7:15-17 
15 “Pas op vir die vals profete.  Op die oog af lyk hulle soos onskuldige lammertjies, maar in werklikheid is hulle gulsige wolwe.
16  Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ‘n mens ‘n boom aan sy vrugte kan uitken.  ‘n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse af, of vye van dissels nie.
17  ‘n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ‘n siek boom slegte vrugte.

Hoe lyk hierdie goeie vrugte van die Heilige Gees wat jy en ek en elke ander goeie boom volgens Jesus moet dra?

GAL 5:22  Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg:  Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,
GAL 5:23  sagmoedigheid en selfbeheersing.  Teen sulke dinge is daar nie ‘n wet nie.

Kom jy en ek beywer ons om die regte soort vrugte te dra, sodat almal – ook hulle wat nie ons Bybel lees nie, kan sien dat die Here, Skepper van die heelal in ons woon en los die res vir ons Here.  Want jy sien:

1KOR 12:11  Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind.

Groete,
Sakkie