DIE HEILIGE GEES SAL NIE SY WONING MET ‘N BOSE GEES DEEL IN DIE HART VAN GOD SE KIND NIE

DIE HEILIGE GEES SAL NIE SY WONING MET ‘N BOSE GEES DEEL IN DIE HART VAN GOD SE KIND NIE. 

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my ‘n klomp dinge wat in die persoon se gemeente gedoen word, wat volgens hierdie persoon se verstaan van die Woord, en ook my verstaan van die Woord, nie Bybels is nie en vra my, my opinie.

Die persoon skryf onder andere: “…Selfs as mense vir ander bid vir genesing, word die duiwel eers bestraf, en dan klink dit of hulle God beveel om siekes te genees? Vir my gaan dit om God se wil alleenlik?”

Ek wil dan hier aan die begin die volgende opmerking maak – dat dit heerlik is om te weet dat die meeste gemeentes in die verskillende denominasies van Christus se kerk, pragtige, opregte en geestelik sterk herders aan die hoof van die gemeentes het, maar dan moet ons ons nie blind staar teen die feit dat daar ‘n hele klomp, sogenaamde herders is, wat na my mening, meer kwaad as goed doen, in die gesagsposisie wat hulle is.

Terug by die skrywe aan my. Hoe baie het ek nie al gehoor dat daar vir ‘n kind van ons Here die hande opgelê word en dan hoor ek in die een of ander variasie die volgende: Ek bestraf jou en dan word een of meer van baie duiwels bestraf.

Iets soos:
Jou siekte duiwel.
Jou kopseer duiwel.
Jou kanker duiwel.
Of soos in my geval by geleentheid: Jou blinde duiwel.

Iemand wat vir ‘n mens bid wat Jesus Christus aangeneem het as haar/sy Verlosser en Saligmaker en ‘n duiwel uit die persoon wil dryf, is na my mening op die minste opreg maar baie onkundig en op die meeste iemand wat self ‘n onrein gees van die een of ander aard in haar/hom het en as ‘n werktuig van satan daar gebruik word om Jesus se Evangelie belaglik in die oë van die wêreld te maak.

Enige iemand wat sê dat ‘n ware kind van ons Here ‘n bose gees van die een of ander aard in hom of haar het, sê dat die Heilige Gees bereid is – om dit so te stel – om in dieselfde woning as een van satan se bose geeste te woon en as’t ware deurentyd met hierdie bose gees skouers te skuur.

Want om maar net twee van baie voorbeelde te noem van wat daar geskryf staan oor jou en my wat Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker:

ROM 6:4  “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”

GAL 2:20  “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”

Diegene wat ook soms vir mense bid en dan sommer as’t ware bevele soos ‘n korporaal op die paradegrond aan ons Here uitskreeu; jy weet mos, iets soos: “Ons vra in die Naam van Jesus …, doen dit Here, doen dit nou!”, kan ook gerus gaan besin oor hierdie optrede van hulle en diegene wat sommer so los en vas vir Jesus se volgelinge sê, dat hierdie of daardie in hulle lewe of liggaam nie die Wil van ons Here is nie, moet ook maar versigtig wees wat hulle soms kwytraak, terwyl hulle onthou, dat ons Here vir ons laat skryf het:

JES 55:8  “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.
JES 55:9  Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.”

Ek deel met jou ‘n voorbeeld uit die Woord om te wys wat ek bedoel. My groot held Paulus se verhouding met ons Here was van so ‘n aard, dat ons van hom lees:

HAN 19:11  “En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen,
HAN 19:12  sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.”

By geleentheid kon ‘n adder hom nie eens deur sy byt laat doodgaan nie:

HAN 28:3-6 
3 “En Paulus het ‘n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en ‘n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt.
4  En toe die inboorlinge die dier aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: Hierdie man is beslis ‘n moordenaar wat die goddelike wraak nie laat lewe nie, al is hy uit die see gered.
5  Maar hy het die dier in die vuur afgeskud en geen kwaad gely nie.
6  En hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik dood neerval; maar toe hulle lank gewag en gesien het dat niks besonders met hom gebeur nie, het hulle van gedagte verander en gesê dat hy ‘n god was.”

Hierdie selfde Paulus skryf by geleentheid van iets wat hy ons Here drie keer gevra het om in sy lewe te verander en ons Here vir hom duidelik laat verstaan het dat ons Here dit nié vir hom gaan doen nie:

2KOR 12:7-9
7 “… selfs nie as gevolg van die buitengewone openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van satan om my te kasty.
8 Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat.
9 Hy het egter vir my gesê: "My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking." Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk.”

Oeps en amper vergeet ek die geval waarvoor ek, vanweë my eie omstandighede so lief is.  Jesus maak 'n man wat blind gebore is, gesond:

JOH 9:1-3
1 “Terwyl Jesus wegstap, het Hy 'n man gesien wat van sy geboorte af blind was.
2 Sy dissipels vra Hom toe: "Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?"
3 Jesus het geantwoord: ‘Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word.’”

Het jy gesien waarom het daardie man ‘n gebrek, en dit nogal van sy geboorte af, gehad?

JOH 9:3  “… hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word.”

En die res, as jy self verder gaan lees, soos hulle sê, is geskiedenis. Ekself verstaan ook byvoorbeeld nie hoekom ek blind is nie, maar ek het hierdie groot heerlike, sekere wete:

ROM 8:28 “En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.”

Terwyl ek daarby ook verseker baie goed begryp:

1KOR 13:12  “Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in 'n dowwe spieël,
maar eendag sal alles vir ons glashelder wees.
Nou verstaan ek net ten dele,maar eendag sal ek ten volle verstaan,
net soos God my nou ten volle verstaan.”

Diegene wat so maklik alle siektes en/of gebreke en selfs ander, soms nie sulke op die oog af, lekker dinge nie, wat oor iemand se pad kom, of gekom het, aan die satan toeskryf, moet – so dink ek – weer gaan besin oor hoe hulle na die stem van ons Here luister.

Vir almal wat; en reg ook so; vir ander mense wil bid, sluit ek dan nou af met die volgende raad uit die Woord:

1TIM 5:22  “Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.”

Met ander woorde, voordat jy sommer vir iemand die hande oplê, maak seker dat jou saak met ons Here reg is, en wag dan op leiding van die Heilige Gees.

Terwyl jy met heerlike vrede onthou – wanneer jy dan wel vir iemand die hande oplê en vir hulle bid –

1JHN 5:14  “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens Sy wil.”

Sien jy?

Ons Here verhoor ons, as ons iets vra volgens Sy wil. Vir nou, as Hy dalk nie my opregte gebed verhoor soos ek wil dat hy dit verhoor nie, weet ek:

1KOR 13:12  “… eendag sal alles vir ons glashelder wees. …”

Groete
Sakkie