DIE HEILIGE NAGMAAL

DIE HEILIGE NAGMAAL

Sakkie Parsons

Iemand het my iets gevra oor die Nagmaal. 

Ek het toe vir hom die volgende gestuur en ek stuur dit ook vir jou.  Miskien is daar ook iemand wat jy ken wat weer nadink oor die Nagmaal.

Deesdae is daar mense wat wonder oor baie dinge.
Daar is selfs mense in die wêreld en ook in Suid-Afrika wat die maagdelike geboorte van Jesus sowel as Sy opstanding uit die dood bevraagteken en dit is mense wat hulleself as groot teoloë uitmaak.
My persoonlike opinie is dat hulle soveel geleerdheid in hul koppe versamel het sonder 'n ware liefdesverhouding met ons Here, dat gedeeltes uit die volgende gedeelte uit God se Woord sekerlik op hulle van toepassing gemaak kan word:

1 KOR 1:18-31 Christus is vir ons die wysheid wat van God af kom
18 Ek weet dat die wat verlore gaan, nie wil glo dat Christus vir hulle op die kruis gesterf het nie. Hulle sê dit is bog. Maar vir ons wat gered word, is dit juis die krag waarmee God werk.
19 God sê in die Skrif: “Die wysheid van die slimste mens maak Ek tot niet en die geleerdste mens se begrip tel by My niks.”
20 Maar wat dan van die kenners en die geleerdes, die navorsers? God het reeds bewys dat die wysheid van mense in hierdie wêreld onsin is.
21 God het deur sy wysheid dit so bepaal dat mense Hom nooit werklik sou leer ken deur hulle menslike kennis nie. Maar nou kom God en red almal wat sy boodskap glo, al is daar baie mense wat sê dit is dwaasheid.
22 Aan die een kant is daar die Jode wat dit nie aanvaar nie want hulle wil wonderwerke sien wat dit kan bewys. Aan die ander kant is daar die Grieke wat dit ook nie aanvaar nie want hulle ideaal is die geleerdheid.
23 Maar ons preek en sê Christus wat op ’n kruis doodgemaak is, is die Redder. Die Jode weier om in Hom te glo en die Grieke sê dit is onsin.
24 Maar almal wat deur God geroep is, of hulle Jode of nie Jode is nie, verstaan dat Christus die krag van God is en dat Hy die wysheid van God is waardeur ons gered word.
25 Al sê mense dit is ’n dwaasheid wat God begaan het, is dit verstandiger as die verstandigste ding wat ’n mens sou kon uitdink. En al sê hulle Christus se dood bewys God se swakheid, het dit meer krag as enigiets wat ’n mens sou kon doen.
26 Broers, kyk maar na die manier waarop God julle geroep het. Daar is nie baie van julle wat geleerd is of hoë poste beklee of uit vername families kom nie.
27 Want God het juis die dinge uitgekies wat mense as waardeloos en swak beskou om daarmee die mense skaam te maak wat so geleerd en belangrik is.
28 En dit is juis die dinge wat mense as minderwaardig en nutteloos beskou wat God uitgekies het om die dinge wat belangrik lyk, tot niet te maak.
29 Daarom kan geen mens ooit by God spog nie.
30 Dit is aan God alleen te danke dat julle met Jesus Christus verbind is. Jesus Christus is vir ons die wysheid wat van God kom. Dit is Hy wat ons saak by God reggemaak het, en ons heilig maak en ons red.
31 Daarom staan dit in die Skrif: “As iemand wil spog, laat hom dan spog oor wat die Here gedoen het.”

Hier is dan in ‘n neutedop hoe ek in my hart die heilige Nagmaal verstaan en belewe.
Die geskiedenis van die Nagmaal begin in Egipte:

EKSODUS 12  Die Paasfees
Terwyl hulle nog in Egipte was, het die Here vir Moses en Aaron gesê: 2“Hierdie maand moet van nou af vir julle die eerste maand wees. Julle moet die tyd so bereken dat die nuwe jaar saam met hierdie maand begin. 3Sê vir almal wat aan Israel behoort dat elke man op die tiende van hierdie maand ’n lam moet neem. Dit moet bereken word volgens die huisgesinne sodat daar vir elke huisgesin een lam is. 4As ’n huisgesin so klein is dat ’n lam vir hulle te veel is, moet hulle saammaak met hulle bure. Hulle moet reken volgens die getal mense in elke huisgesin sodat daar genoeg is om van die lam te eet. 5Dit kan ’n skaaplam of ’n boklam wees maar dit moet ’n ram wees van ’n jaar oud wat absoluut niks makeer nie. 6Hou die lam tot op die veertiende van die maand, en teen die aand van die veertiende moet al die Israeliete daardie lammers slag. 7Hulle moet dan van die lam se bloed neem en dit smeer aan die deurkosyn, boaan en teen die twee sykante, by elke huis waarin hulle so ’n lam eet. 8Die vleis moet gebraai word en nog dieselfde aand geëet word. Saam met die vleis moet hulle brood eet wat sonder suurdeeg gebak is, en ook sous wat van bitter kruie gemaak is. 9Die lam moet heel gebraai word met kop, pootjies en binnegoed en al. Julle mag die vleis nie rou eet of gaar kook nie. 10Julle mag ook nie van die vleis laat oorbly tot die volgende oggend nie. As daar iets oorskiet, moet dit verbrand word. 11As julle eet, moet julle aangetrek wees om enige oomblik op reis te gaan en julle moet vinnig eet. Elkeen moet sy lyfband om die middel hê en julle moet ook julle sandale aanhê en ’n kierie in die hand. Hierdie ete sal genoem word die Paasfees (“Oorslaan-fees” ) van die Here want dit is bedoel om My te vereer.
12“Vannag nog sal Ek dwarsdeur Egipte trek en Ek sal in elke gesin die oudste seun laat sterf en ook die eerste aanteel van die vee. Ek sal die gode van Egipte oordeel en hulle straf, want Ek is die Here. 13Die bloed teen die deur sal ’n teken wees waaraan Ek julle huise sal uitken. Waar Ek die bloed sien, sal Ek by die huis verbygaan, en Ek sal julle nie tref met die vernietigende ramp wat Ek oor Egipte laat kom nie.
14“Julle moet elke jaar op hierdie dag ’n fees hou om vir My, die Here te vereer, sodat julle kan onthou wat Ek gedoen het. Dit moet vir julle ’n vaste reël bly in die toekoms vir elke geslag. 15Sewe dae lank moet julle brood eet wat sonder suurdeeg gebak is. Op die eerste van hierdie sewe dae moet julle al die suurdeeg wat in julle huise is, weggooi. As een van julle in die loop van daardie sewe dae iets sou eet met suurdeeg daarin, moet so iemand nie meer as Israeliet gereken word nie. 16Op die eerste dag moet julle bymekaarkom om te herdenk hoe Ek julle uit Egipte uitgebring het en op die sewende dag moet julle weer bymekaarkom. Op daardie twee dae mag julle glad nie werk nie, behalwe om die kos voor te berei wat daardie dag geëet word. 17Julle moet van nou af elke jaar hierdie fees van die suurdeeglose brood hou, want dit is die dag waarop Ek julle volk uit Egipte uitgebring het. Dit moet ’n vaste reël bly van die een geslag na die ander.

Dit was die instelling of dan wet wat God vir Moses gegee het en alle Israeliete moes dit elke jaar nakom.

Die Wet egter was ons tugmeester na Christus toe:

GAL 3:23
23 Maar voordat Christus gekom het, was ons almal in die tronk opgesluit, met die wet as die tronkbewaarder. So het ons gesit en wag dat die tyd moes aanbreek dat ons verlos kan word deur op Christus te vertrou.
24 ’n Mens kan sê die wet het oor ons toesig gehou en ons na Christus toe geneem sodat ons op Hom kon vertrou en ons skuld by God weggeneem kon word.
25 Maar noudat Christus gekom het en ons op Hom kan vertrou, het ons nie meer die wet se toesig nodig nie.
Ons is nou God se kinders
26 Julle is nou almal kinders van God omdat julle op Christus Jesus vertrou.
27 ’n Mens wat gedoop is, is met Jesus Christus verbind en het die geaardheid van Christus aangeneem net soos wat ’n mens nuwe klere aantrek.
28 Dan maak dit nie meer saak of ons Jood of nie-Jood, slaaf of vryman, man of vrou is nie. Omdat julle aan Jesus Christus behoort, vorm julle saam ’n nuwe eenheid.
29 As julle aan Christus behoort, dan is julle die werklike nageslag van Abraham, en is die dinge wat God beloof het dan ook vir julle bedoel.

Jesus het geweet dat Hy vir ons geslag gaan word, daarom het Hy die Nagmaal ingestel.

MAT 26:26-29
26 Terwyl hulle aan tafel was, het Jesus die brood geneem en God daarvoor dankie gesê. Toe breek Hy die brood en gee dit vir sy dissipels en sê: “Neem hierdie brood en eet dit. Dit is my liggaam.”
27Jesus het ook ’n beker wyn geneem en nadat Hy God daarvoor dankie gesê het, gee Hy dit vir hulle aan en sê: “Julle moet almal hiervan drink,
28 want dit is my bloed waardeur God bevestig dat Hy ’n nuwe verbond met julle maak. My bloed sal vloei sodat God baie mense se sonde sal kan vergewe.
29 Hoor nou wat Ek vir julle sê: van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot die dag wat Ek saam met julle nuwe wyn sal drink in die nuwe ryk van my Vader.”

Ons Paaslam is eenmaal vir altyd vir ons geslag.

1 KOR 5:7-8
7 Julle moet die sondige invloed van julle af wegvat soos die suurdeeg altyd by die Paasfees weggegooi is. Julle moet wees soos nuwe deeg, want julle is reeds rein gemaak. Soos daar vroeër by die Paasfees altyd ’n lam geslag is, is Christus ook doodgemaak vir ons sonde.
8 Ons moet dan ook nou die ou suurdeeg—die sonde en die onsedelikheid—weggooi. Laat ons feesvier met die brood van reinheid en waarheid waarin daar nie suurdeeg is nie.

Ons Here het vir Paulus opdrag gegee om ons mooi te leer oor die Nagmaal en dit is ‘n baie goeie gewoonte om baie gereeld daardie gedeelte in
1 Korintiërs 11 te lees aangesien die heilige Nagmaal ‘n baie heilig instelling is, wat onder geen omstandighede ligtelik moet opgeneem word nie.

1 KOR 11:23-34
23 Wat ek julle oor die Maaltyd van die Here gesê het, is wat Hy self vir my geleer het: dieselfde nag wat Jesus aan sy vyande oorgegee is, het Hy aan tafel van die brood geneem
24 en vir God daarvoor dankie gesê. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit vir hulle en sê: “Vat hierdie brood en eet dit. Dit is my liggaam wat ter wille van julle gebreek word. Julle moet dit eet en onthou wat Ek vir julle gedoen het.”
25 Toe hulle die brood geëet het, het Jesus ook die beker met wyn geneem en gesê: “Hierdie wyn is die teken van die nuwe verbond wat God met julle maak omdat my bloed vir julle gevloei het. Drink hierdie wyn, en elke keer as julle dit doen, moet julle onthou wat Ek vir julle gedoen het.”
26 Julle moet hierdie brood eet en uit hierdie beker drink totdat die Here weer kom. Elke keer as julle dit doen, wys julle vir almal dat Hy gesterf het om vir julle sondes te betaal.
27 As ’n mens dan op ’n onverskillige manier van die brood eet en uit die beker drink, doen hy sonde teen die liggaam en die bloed van die Here.
28 Daarom moet ’n mens eers goed nagaan hoe sy lewe is voordat hy die brood eet en uit die beker drink.
29 Want ’n mens wat nie verstaan wat dit beteken dat die Here sy liggaam en sy bloed vir ons gegee het nie, eet die brood en wyn op ’n onverskillige manier en hy bring die straf van God oor homself.
30 Dit is daarom dat baie van julle swak en sieklik is en party dood is.
31 As ons goed nagedink het oor ons lewe voordat ons by die Maaltyd van die Here aansit, sou God ons nie gestraf het nie.
32 Maar die Here oordeel en straf ons sodat ons nie saam met die ongelowige mense in die ewige straf kom nie.
33 Broers, as julle dan bymekaarkom om die Here se Maaltyd saam te eet, moet julle vir mekaar wag.
34 As iemand honger is, moet hy vooraf by sy huis eet, sodat God julle nie straf as julle bymekaarkom nie….

Ek sluit af met ‘n goeie voorbeeld uit die Woord van hoe die eerste Christene die heilige Nagmaal wat Jesus ingestel het, deel van hulle lewe gemaak het:

HAN 2:46 en die opskrif is:  “Die eerste gemeente in Jerusalem – ‘n besielende voorbeeld. 

46 Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die maaltyd van die Here gevier…”

Die byskrif lees:  Grondteks brekende die brood.  ‘Die breking van die brood’ was een van die heel eerste name vir die Nagmaal.

Mag dit vir jou ‘n heerlike dag wees.
                 
Groete,
Sakkie