DIE HEILIGE WOORDE VAN GOD

DIE HEILIGE WOORDE VAN GOD

Hoekom word die Bybel as Heilige Skrif beskou?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra:

Hoekom word die Ou Testament en Nuwe Testament as Heilige Skrif beskou?“

Ek wil my antwoord aan jou so begin:

Natuurlik is daar baie wyses om hierdie vraag te antwoord maar ek is ‘n eenvoudige mens so ek gaan jou ook so eenvoudig uit die Woord self antwoord.

Die Bybel word die Heilige Woord van God genoem, gewoon omdat dit, soos ek die Woord verstaan, presies net dit is.  Naamlik die Heilige woorde van God wat Hy met ongeveer 40 penne/mense, oor ongeveer, as ek dit nou reg onthou, 1,500 jaar geskryf het en omdat die hele Bybel reg daar van die begin af telkens van Die Woord wat na die aarde sou kom getuig, is God se Woord  en die woorde daarin vir ons Heilig.

In verband met wat ek nou geskryf het, lees ons in ons Here se heilige Woord ook die volgende:

JHN 1:1-5 
1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
2  Hy was in die begin by God.
3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
4  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
5  En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

JHN 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Verder kwoteer die skrywers van die Nuwe Testament talle gedeeltes uit die Ou Testament wat op Jesus betrekking het maar hulle doen dan maar net wat Jesus self in baie van Sy gesprekke gedoen het.

Ek deel net met jou ‘n paar gedeeltes uit Sy heilige Woord om aan te toon hoe heilig en waar die Woord, soos ekself graag van die Bybel praat, is – as die Woord wat vlees geword het, sélf oor Sy heilige Woord wat Hy vir ons laat neerskryf het met ons deel:

MAT 24:35  Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.

MRK 8:38  Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.

LUK 6:47-49 
47 Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen Ek sal julle wys soos wie hy is.
48  Hy is soos ‘n man wat ‘n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was.
49  Maar wie dit hoor en dit nie doen nie, is soos ‘n man wat ‘n huis sonder fondament op die grond bou, en die stroom het daarteen losgebreek en dit het dadelik geval, en die instorting van daardie huis was groot.

JHN 5:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

JHN 5:45-47 
45 Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal beskuldig nie. Daar is een wat julle beskuldig—Moses op wie julle gehoop het.
46  Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe.
47  En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?

Vervolgens deel ek ook met jou wat twee van die skrywers van die Nuwe Testament oor die heilige Woord van God geskryf het en hierdie twee skrywers was ook op wrede wyses, soos al die ander apostels, buiten Johannes, wreed vermoor oor wat hulle verkondig het, wat ook uiteindelik deel van die heilige Woord van God geword het:

Paulus skryf:

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Petrus, wat ongeveer 3 jaar deur Jesus opgelei was skryf:

1PET 1:23  want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

1PET 1:25  maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is

Daarom kan ons hierdie heilige Woord van ons Here oor en oor lees en áltyd iets nuut vind om met iemand te deel en onthou ek ook as ek met mense oor hierdie heilige Woord van ons Here deel:

1PET 3:15  Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees;
1PET 3:16  met behoud van ‘n goeie gewete, sodat in die saak waarin hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, húlle beskaam mag word wat julle goeie lewenswandel in Christus belaster.

Hoe wonderlik vir ons almal wie Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker om deur Sy Woord en so aste ware, uit Sy eie mond te lees en in ons gees te hoor, wat jy reeds net ‘n tydjie terug gelees het::

JHN 5:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Groete,
Sakkie