DIE HERE IS MET ONS IN ONS OMSTANDIGHEDE – PESOONLIKE GETUIENIS

DIE HERE IS MET ONS IN ONS OMSTANDIGHEDE – PERSOONLIKE GETUIENIS

Sakkie Parsons

Ek deel graag met jou die volgende persoonlike gebeurtenis en getuienis:

Vir diegene wat nog nie weet nie, ek is fisies blind en my gidshond se naam is Pedro en ons het altyd 26 blokke gestap – bykans 10km, amper 5km na, en weer amper 5km terug vir die afgelope paar jaar om my vrou, Cornelia, te besoek wat toe in ‘n tehuis vir verswakte bejaardes gewees het voor sy na ons Here verhuis het.

In twee afdelings van my lewe het ek in die tyd wat hierdie gebeurtenis plaasgevind het baie swaar getrek en van die twee was my vrou se omstandighede en die stadige agteruitgaan wat ek elke dag moes sien vir my, om dit lig te stel, skrikwekkend.

Toe eendag terwyl ek na haar stap, dink ek so by myself, dat ek weet ons Here is by my in al hierdie beproewings, maar in my mensheid;  sal dit darem lekker wees net om weer van ons Here ‘n drukkie te kry en ek in my mensheid weer kan ervaar dat Hy by my is.

Nou vertel ek verder in die teenswoordige tyd soos ek dit ervaar het.
Toe ek vandag na my vrou stap, dit was in die 17de blok, kom ‘n hond uit sy erf uit en byt my.

– Maar hier is die mooi getuienis van hoe absoluut ten volle ons Here in beheer is, ook daar waar Hy toelaat dat ons soms deur ‘n beproewing gaan om soos in my geval net Sy hand op my skouer te sit en te sê:
“Sien jy.  Ek is in beheer van jou omstandighede.  Hou jou oë net al die tyd op my.”

Dit het so gebeur:

Ek stap in 18de laan oppad na my vrou toe en ons stap verby honde wat vir ons blaf maar ek het gedink dat hulle in hulle erf is, totdat Pedro wat mos aan my linkerkant loop, skielik omspring met ‘n woeste geknor.
Ek besef toe die honde is buite maar kom toe agter dat hulle weg beweeg het van ons af, of so het ek gedink.
Ek kalmeer toe vir Pedro en net toe ek weer na Ben Swart straat begin stap, storm een ons, en byt my in die waai van my regter been.
Ek voel toe dadelik hoe die bloed langs my been afloop.
Ek het eintlik gedink dat hy ‘n aar raakgebyt het.
Ek slaan toe teen die palissade en roep na die eienaar, wat toe uitkom en dadelik die honde agtertoe jaag en vinnig  in die huis ingaan om goed te kry wat my kan help.

My been het kwaai gebloei en dit was seker omtrent 3 minute toe, die eerste wonderwerk, hou die eienares van die Tehuis waar Cornelia is, langs my stil en omdat sy my skoonseun en dogter ken, het sy hulle dadelik gebel.

Sy was nog besig op haar foon, toe hou twee van my vriendinne, wat my baie gereeld as hulle my sien, ‘n geleentheid gee, ook stil nadat ek hulle gekontak het.  My dokter se spreekkamer is 3 blokke verder in Moot hospitaal.  Toe ons daar kom en omdat die hospitaal nie ‘n ongevalle afdeling het nie, het ek nie geweet of hulle my dadelik sou kon help nie maar toe ek en my twee vriendinne instap, was dit amper of die suster net vir my gewag het.
Ek is toe na een van die ondersoek kamers geneem en daar het hulle toe al die bytplekke behandel en alhoewel hulle nie daarvan hou om dit met honde se bytwonde te doen nie, moes hulle by die een plek 3 steke insit.

Nou hoekom ek jou dit as ‘n wonderlike getuienis vertel:

Soms gaan ons deur moeilike tye en soos ek genoem het, dan wil ons net ‘n drukkie van ons Here af hê wat vir ons sê, dat Hy nog al die pad saam met ons is.
Ons weet mos, dat ons Here vir ons laat skryf het:

1KOR 10:13  Onthou, die versoekings ( beproewings) wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking (beproewing) te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking (beproewing) sal Hy vir ’n uitweg (uitkoms) sorg sodat julle dit kan verduur.

Weet jy –
Van die oomblik af, dat die hond my gebyt het, totdat ek deur my een vriendin by die huis afgelaai was, het dinge so seepglad verloop, dat as jy dit nie geweet het nie, sou ‘n mens kon dink ons was besig met ‘n opvoering wat oor en oor ingeoefen was, dat daar niks verkeerd moes loop nie.

Laat ek verduidelik:
Toe die hond my klaar gebyt het en ek nog besig was om tot verhaal te kom, stop daar en nie sommer enige iemand nie – maar die eienares van die Tehuis waar Cornelia in 12de laan is daar en sy kon gou my kinders bel, omdat sy hulle geken het.
Toe stop my vriendinne daar en hulle neem my dokter toe.
Toe is almal gereed om my by die dokter te help, sonder dat ek nog kans kry om te praat.  My een vriendin het net kortliks vertel en toe het die suster my aan die arm en daar gaan ons.  Dit in elk geval is hoe ek dit daar ervaar het.

Toe ek uitkom, wag my vriendinne vir my en neem my na my vrou en die een kom haal my weer ‘n uur later en dit ten spyte van die feit dat hulle ‘n besigheid bedryf, en sy neem my huis toe.
Wat was die kanse, dat toe die hond my byt en my beproewing begin, dat almal, die regte mense op die regte tyd, soos mense wat dit vooraf afgespreek en in geoefen het, so presies op elk een se regte tyd daar gewees het, sodat ek nie bo my beproewing sou beproef word nie.  So asof my God daar by my kom staan het en vir my ‘n drukkie op my skouer gegee het en vir my gesê het.  Iets soos:
“Net soos Ek hier ten volle in beheer is, is Ek ook in jou ander twee groot beproewings ook ten volle in beheer.”

Ek kyk so na al hierdie dinge en ek kan maar net in verwondering in my binneste jubel;
Prys die Naam van die Here! 
Hoe groot is ons Here in Sy liefde nie en hoe ‘n wonderlike waarmaker van Sy Woord is Hy nie teenoor Sy kinders, sodat hulle kan sien, dat Hy verseker met ons is.
– Al moet ons soms soos my groot held Paulus, selfs ons kop deur onthoofding verloor.
– Al moet ons soms, soos ek tans, baie swaar trek en daagliks die hartverskeurende omstandighede beleef van my vrou se stadige agteruitgaan – wil Hy hê ons moet verstaan dat Hy in beheer van ons lewe is. 

PSM 46:2 God is ons toevlug en ons krag;  in nood is Hy gereed om te help.

PSM 94:18-19
18 Toe ek sê:  “My voet gly!” het U trou my ondersteun, HERE. 
19 Wanneer twyfel my oorweldig, het U troos my verbly.

JES 41:10 Moenie bang wees nie, want Ek is by jou.  Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God.  Ek maak jou sterk en wil jou help.  Ek hou jou vas met My reddende regterhand.

ROM 8:35, 38, 39
35 Kan enigiets ons ooit van Christus se liefde skei?  Sal dinge soos lyding of benoudheid of vervolging, honger of koue, of gevaar of doodsdreiging dit regkry?
38 Een ding weet ek vas en seker:  Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie.  Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie;  nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie;  ook nie bo-aardse magte nie. 
39 Ja, hoegenaamd niks daarbo of onder in die dieptes of elders in die skepping sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie.

Hoe wonderlik om saam met dit ook te onthou, dat daar geskryf staan:

HEB 13:5-6
5  … Onthou dat God die versekering gegee het: “Ek sal jou nie los nie.
Ek sal jou nie in die steek laat nie.”
6 Daarom kan ons moed skep en antwoord:
“Die Here is my hulp; daarom sal ek nie bang wees nie.
Wat kan ’n blote mens (of wat anders daar ook mag wees) my aandoen?”

Hoe heerlik om dan met een van my geliefkoosde gedeelte hierdie skrywe aan jou af te sluit, terwyl ek in verwondering terugdink van hoe ons Here my deur hierdie beproewing bygestaan het en die uitkoms in oormaat oor my laat vloei en my weer so versterk het:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle
wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.

Groete,
Sakkie