DIE HERE SE GEDULD IS ‘N GELEENTHEID OM GERED TE WORD

DIE HERE SE GEDULD IS ‘N GELEENTHEID OM GERED TE WORD

Skrywer:  Sakkie Parsons

Ek deel graag met jou die volgende vraag wat iemand aan my gestuur het en my antwoord daarop:
“Dankie vir die insiggewende stukkies wat jy vir my gestuur het oor geloofsgenesig en goddelike genesing..  Ek wil vandag jou raad vra;  Ek is 'n tipe mens wat hoe kan ek se, dinge wat verkeerd is sal my baie pla al is ek nie eers deel daarvan nie.  Bv al die plaasmoorde, kinder verkragtings, moord roof, stakings ens. Ek weet dit is dinge wat in die laaste dae gebeur maar dit ontstel my vreeslik. Ek sal sommer net huil as ek van al die goed lees en hoor.  Dit maak my baie depressief.”

Liewe Vriend/Vriendin,
Die fout wat baie mense maak wat die evangelie van Jesus verkondig, is dat hulle van die liefde en al die mooi praat, wat natuurlik nie verkeerd is nie maar hulle vergeet om die mense attent daarop te maak, dat daar ook ‘n ander kant is, waar daar ‘n ander god is, en dit is die god van die bose naamlik satan.

Jy sien, so seker soos wat daar ‘n God almagtig is – die Een wat ek verkondig, is daar ook ‘n god van die bose en omdat God ons na Sy beeld geskape het en ons, dit is nou jy en ek, soos Hy ‘n wil van ons eie het, verkies die meeste mense om na die god van die bose te luister en te doen wat hy wil dat hulle moet doen en glo my, daar is geen einde aan die booshede wat hy in jou hart kan voorstel as jy na hom wil luister nie.

Weet jy hoe erg gaan dit nog word?

Jesus het aan die kruis gaan hang het sodat jy en ek en elke ander mens in hierdie wêreld ‘n keuse kan maak om in die hemel vir altyd by Hom te wees.  Hy sien in Sy almag in die toekoms (dat ten spyte van daardie skrikwekkende pad wat Hy geloop het sodat jy en ek na die hemel kan gaan), so ‘n hartseer prentjie van die mense in die wêreld voor Hy vir ons – wie in die geloof gaan bly – kom haal, dat Hy sodat ons ook moet weet hoe dit nog gaan word vir ons die volgende woorde wat Hy gesê het laat skryf het:

LUK 18:8  … maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?

Nou kan iemand vra:
“Maar hoekom kom Hy dan nie en bring ‘n einde aan al hierdie verskriklikhede nie?
Wel, Hy sê vir ons in Sy Woord waarom Hy dit nie nou al doen nie en ek lig dit en nog ‘n paar ander dinge in die volgende gedeelte uit waarna ek veral wil dat jy moet oplet:

2PET 3:3-9  Die Wederkoms staan vas, ondertussen is dit genade- en gereedmaaktyd.
3 Heel eerste wil ek julle herinner dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die waarheid bespotlik maak en doen net waarvoor hulle lus is.
4  Hulle sal soos volg redeneer:  “Jesus het belowe Hy sal terugkeer, nie waar nie?  Nou maar wat het van daardie belofte geword?  Julle weet self:  So ver terug as wat mense kan onthou, van die skepping af, bly alles nog net soos dit was.”
5  Hulle vergeet opsetlik dat God lank gelede met Sy woord die hemele geskep het, en dat Hy die aarde uit water laat opkom het en met water omring het. 
6  En dit is ook met water dat Hy die destydse wêreld oorstroom en laat vergaan het.
7  God het presies só – deur Sy Woord – beskik dat die hemele en die aarde deur vuur verteer sal word op die dag waarop goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.
8  Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes:  Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.
9  Die Here stel nie die vevulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie.  Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle.  Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie, en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom.

Dalk wag ons Here nog net dat byvoorbeeld jou kleinkind gebore moet word wat Hy ook by Hom in die hemel wil hê.

2PET 3:10  Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ‘n dief.  Dan sal die hemele met ‘n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame in vuur opgaan en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.

Jy en ek moet net sorg dat ons gereed is dat Hy ons saam met Hom kan neem, voor die hel letterlik op die aarde en in die heelal losbars.

2PET 3:11-15 
11 Aangesien alles om ons só gaan wegbrand, moet julle leefstyl soveel meer aan God toegewy wees en moet julle naby aan Hom lewe!
12  Sien uit na die Dag van God en maak dat dit nog gouer kom, die dag waarop die Here die hemele aan die brand sal steek en die hemelliggame in vlamme sal wegsmelt.
13  Maar ons sien uit na die nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, soos God belowe het.  Dáár sal almal voor God reg lewe.
14  Daarom, geliefdes, terwyl julle wag dat hierdie dinge gbeur, moet julle hard werk om vlekkeloos en sonder fout deur God bevind te word. 

Lewe in vrede (harmonie) met God.
15a  En onthou:  Die Here se geduld is ‘n geleentheid om gered te word.

Dus my liewe vriend/vriendin –
Weens die feit dat die mens ‘n sondige natuur het met ‘n wil van sy eie en daar ‘n satan is wat dit verseker gaan uitbuit, sal dit gebeur soos wat ons dit ook in die Woord lees, dat Jesus sê:

OPB 22:11  Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.

Ek sien die eerste gedeelte van OPB 22:11 as volg: 
As dit reën en ‘n klomp mense stap uit die gebou in die reën en ek sê, nee julle moet inkom, want julle gaan nat word en ‘n paar draai om – maar die res stap voort.  Wel dan is dit ‘n geval van die wat nat is en nie wil luister nie moet dan maar stap en dan nog natter word.

En die tweede gedeelte:

Die wat nat (verlore was) is en ingekom het, is nou droog – regverdige, heilige kinders van God en ons moet nou daarna strewe om nog droeër (regverdiger en heiliger) te word.

MAT 25:46 “Hulle sal dan in die ewige straf ingaan, maar dié wat God se wil uitgevoer het, in die ewige lewe.”

So, dit wat ons om ons sien en beleef gaan nie weggaan of minder word nie maar jy en ek hoef nie deel daarvan te wees nie.  Terwyl ons ook met heerlike innerlike opgewondenheid kan onthou wat Jesus gesê het, net nadat Hy gesê het wat jy nou net gelees het.

Ons lees:
OPB 22:12  En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.
OPB 22:13  Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.

Jy en ek hoef maar net Jesus se getuies te wees en ons lig laat skyn in die wete dat dit wat ons om ons sien en beleef, deur die Woord voor uit vir ons gesê is dat dit gaan gebeur.
Ek sluit dan my skrywe aan jou af met die volgende uit die Woord:

OPG 3:10  Omdat jy vasgehou het aan die getuienis van hoe Ek volhard het, sal Ek jou ook bewaar gedurende die tyd van hewige toetsing wat vir die hele bewoonde wêreld voorlê – daardie tyd wanneer al die bewoners van die aarde deeglik getoets sal word.
OPB 3:11  Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.

Groete,
Sakkie