DIE HOË GOLWE AGTER JESUS SE RUG

DIE HOË GOLWE AGTER JESUS SE RUG

Sakkie Parsons

Ek deel graag vandag met jou die gedagte wat in my hart opgekom het toe ek weer die gedeelte in die Woord gelees het, waar Petrus op die water geloop het.

Ek wil hê dat jy die volgende gedagte uit die Woord en dit wat ekself in my eie lewe toepas, sal oordink in jou eie lewe:

“Ek hou my oë op ons Here terwyl ek terdeë onder die besef is, van hoe die satan soos met Petrus, my wil laat fokus op die hoë golwe wat agter Jesus se rug aangerol kom”

Onthou jy?

MAT 14:28-31
28 Petrus sê toe vir Hom: “Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom.”
29 “Kom dan,” het Jesus gesê.
     Petrus klim toe oor die kant van die skuit en begin op die water na Jesus toe loop.
30 Maar toe hy die hoë golwe rondom hom sien, het hy paniekerig geword en begin sink. Hy skree toe vir Jesus: “Here, red my!”
31 Jesus het onmiddellik sy hand uitgesteek en hom gegryp. “Jou geloof is maar bitter klein,” sê Hy vir hom. “Waarom vertrou jy My nie?”

As ek die hoë golwe sien, roep ek maar net na Jesus en ek ervaar Sy Wonderlike vrede.

FIL 4:6-7
6 Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. 
   Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.
7 As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. 
   Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. 
   Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas.

As iemand my sou vra, as ek dan nie ‘n front van die een of ander aard voor hou nie, hoe kan ek dan verstaanbaar en logies hierdie menslik gesproke onlogiese onverstaanbare wyse van lewe verduidelik, dat byvoorbeeld die volgende sin maak?.
Hier sit ek met hierdie groot seer in my hart en ‘n klomp meegaande probleem en tog verkondig ek en nou moet ek hierdie baie belangrike gedeelte weer kwoteer en ek herhaal dit uit die 1933 Vertaling:

FIL 4:6-7
6 Wees oor niks besorg (angstig) nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
7  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Laat ek dit so verduidelik:

Jare gelede het ek ‘n taamlike groot operasie gehad en ek het na die operasie vir ‘n taamlike tyd baie seer gehad.  Dit was werklik nie ‘n lekker tyd in my lewe nie.  Ek kan nie aan ‘n tyd in my lewe dink, dat ek so lank so aanhoudend so seer gehad het nie maar ek kon ook al die tyd onthou.
Ek moet maar net doen wat die spesialis vir my gesê het om te doen want dan gaan ek uiteindelik vir die res van my lewe sonder die probleem wees waarmee ek geloop het en elke keer as die pyn vir my baie erg geword het, kon ek onthou.  Dit is erg maar dit gaan ‘n einde kry en dan is die probleem vir altyd weg.  Wat natuurlik dan ook so gewees het en vandag nog so is.
Wel, dit is vandag ook so in my Christelike lewe waar ek my oë op Jesus hou.
Ek is Sy kind en die Spesialis het vir my in Sy spreekkamer/Woord gesê hoe ek hierdie omstandighede wat nou in my lewe is moet hanteer:

JOH 16:33 Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”

JOH 5:24-25
24 “Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die (ewige) lewe.
25  Ek verseker julle, daar breek ’n uur aan, en dit is nou, wanneer die dooies (mense soos ek wie Hom, die groot Spesialis, toegelaat het, om my op my geestelike sterfbed te behandel) die stem van die Seun van God sal hoor en dié wat dit gehoorsaam, sal (vir ewig) lewe.

Ek sluit dan af met hierdie raad aan jou wat nog altyd vir baie ander en ook vir my werk.
Hou jou oë net op Jesus en dan selfs die kere soos met Petrus en ook ek al ondervind het, al word jy soms oorweldig van angs oor die omstandighede waar in jy is, roep dan net in jou gees soos Petrus uit:

MAT 14:30-31
30 Maar toe hy die hoë golwe rondom hom sien, het hy paniekerig geword en begin sink. Hy skree toe vir Jesus: “Here, red my!”
31 Jesus het onmiddellik sy hand uitgesteek en hom gegryp. …

Jesus Christus sal jou gryp sodat jy nie sal sink en verdrink nie.
Sorg net altyd, dat jou oë op Jesus jou Here en Verlosser is en bely Hom ook so teenoor die wêreld:

ROM 10:9-11
9  Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word.
10 Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons verlos.
11 Soos die Skrif sê: “Wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.”

Hoe heerlik om altyd as kind van God, volgeling van Jesus Christus midde in die omstandighede waarin ons lewe, hierdie wonderlike versekering van ons Here self te mag hê:

JOH 14:27  “Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.

Groete,
Sakkie