DIE HUWELIKSEREMONIE IS WAAR ONS IN DIE OPENBAAR GETUIG DAT ONS GETROUD IS

DIE HUWELIKSEREMONIE IS WAAR ONS IN DIE OPENBAAR GETUIG DAT ONS GETROUD IS

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

Ek is 70 jaar oud. Ek is geskei, en het ‘n vriendin van 63 jaar, en sy is 'n weduwee.
Kan jy my sê of ons moedswillige sonde pleeg wanneer ons bymekaar kuier en liefde maak. Ons wil nog die jaar trou.

Hier is dan hoe ek dit met die leiding, so glo ek van ons Here verstaan:

Om mee te begin, is my antwoord op jou vraag; Nee, ek dink nie julle sondig moedswillig nie maar dit is ‘n gekwalifiseerde antwoord en dit geld natuurlik nie vir mense (jonk of oud) wat net wil saambly terwille van seks of geld of ander redes nie.
As jy en jou vriendin in julle harte, waar ons Here kan sien, julle wat julle aanbetref eintlik man en vrou is, dan kan dit tog nie verkeerd, of dan sonde wees nie.  Want ons Here kan mos sien julle beskou mekaar as man en vrou maar laat ek by die begin begin:

Ons Here het die eerste huwelik voltrek en dit was ‘n saak tussen Hom, die man en die vrou maar alhoewel dit net tussen hulle drie gewees het, was dit tog in die openbaar.  Soveel so, dat tot vandag toe almal ook jy en ek weet, dat Adam en Eva voor ons Here getroud gewees het.
Ek glo dat Adam en Eva, maar ek het nie skrif daarvoor nie, het toe vir hulle kinders en die weer vir hulle kinders en die weer vir hulle kinders vertel, dat daar in die openbaar ‘n huweliksbevestiging moet wees.
Daarom kry jy dit, dat daar vandag nie een volk in die wêreld is, al is dit nie ‘n Christenvolk nie, wat nie ‘n huwelikseremonie van die een of ander aard het, vir wanneer ‘n man en vrou besluit om in ‘n huwelik saam te lewe nie.
Met dit in gedagte, dan ook die volgende:

God doen alles wat die mens aanbetref, wat voor Hom reg is in die openbaar.

Byvoorbeeld:
Jesus het Sy dissipels in die openbaar geroep om Hom te volg en hulle moes in die openbaar, voor die wêreld besluit; ‘Ek volg Jesus.’
Daarom het ons Here ook die doop in gestel en laat ons, ons in die openbaar doop vir die wêreld om te sien.
Ek getuig deur hierdie daad, dat ek Jesus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker.  Ek is nou ‘n dissipel van Jesus.
Ons sien dit ook so in die Woord:

HAN 2:37-39 
37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?
38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

ROM 6:3  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
ROM 6:4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

Daarom dan ook, soos ek reeds genoem het en so glo ek, is dit dan dat daar in elke volk, al is dit nie ‘n Christen volk nie, daar die een of ander seremonie is, wanneer ‘n man en ‘n vrou besluit, ons wil as man en vrou saam leef.  Want dit was van die begin af so.
Jesus demonstreer ook vir ons baie mooi, hoe belangrik dit vir Hom is, dat daar ‘n huwelikseremonie in die openbaar moet wees.

Laat ek verduidelik:
Jesus het in Sy wandel hier op aarde terwyl Hy Sy evangelie aan die mense verkondig het en sy dissipels opgelei het om Sy evangelie, na Sy kruisiging, opstanding en Hemelvaart verder te verkondig, het Jesus geen buite godsdienstige byeenkomste bygewoon nie.  Dit is nou buiten vir een en dit was ‘n bruilof.

Ons lees:

JHN 2:1-11 
1 En op die derde dag was daar ‘n bruilof te Kana in Galiléa, en die moeder van Jesus was daar. 2 En Jesus en sy dissipels was ook na die bruilof genooi. 3  En toe daar wyn kortkom, sê die moeder van Jesus vir Hom: Hulle het geen wyn nie. 4  Jesus sê vir haar: Vrou, wat het Ek met u te doen? My uur het nog nie gekom nie. 5  Sy moeder sê vir die dienaars: Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen.:6  En daar het volgens die reinigingsgebruike van die Jode ses klipkanne gestaan, wat elkeen twee of drie ankers hou. 7  Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water. En hulle het hul tot bo toe volgemaak. 8  En Hy sê aan hulle: Skep nou uit en bring dit vir die hoofdienaar. En hulle het dit gebring. 9  En toe die hoofdienaar die water proe wat wyn geword het—en hy het nie geweet waarvandaan dit was nie, maar die dienaars wat die water geskep het, het geweet—roep die hoofdienaar die bruidegom 10  en sê vir hom: Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar. 11  Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galiléa gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.

Nie net was ‘n bruilof die enigste buite godsdienstige byeenkoms wat ons Here bygewoon het nie maar dit was ook, soos jy gelees het,  by daardie bruilof, waar Hy Sy eerste wonderwerk gedoen het.

Nou moet ons ook onthou, dat God doen nooit iets sommer net om iets te doen nie.
So, as Jesus besluit het om Sy eerste wonder hier op aarde by ‘n bruilof te doen, om aste ware vir die mense te wys wie Hy eintlik is, dan was daar ‘n baie goeie rede waarom Hy dit daar gedoen het en dit – buiten vir die feit dat die bruilof ook die enigste buite godsdienstige byeenkoms was wat ons Here tyd voor gemaak het – vertel vir my persoonlik onder andere, hoe belangrik dit vir Jesus is, dat ‘n paartjie baie duidelik in die openbaar vir die wêreld moet sê:
“Ons is nou voor ons Here man en vrou.”

Nou hoekom hierdie lang, kom ons noem dit maar, betoog van my oor ‘n seremonie in die bevestiging voor ons Here, dat julle nou man en vrou is?
Omdat na my mening al die papierwerk wat met ‘n huwelik gepaard gaan, soos ek dit sien, ‘n menslike instelling is.  Weliswaar natuurlik ‘n baie goeie en veral in die tyd wat ons lewe, ‘n baie noodsaaklike instelling is maar nog steeds niks godsdienstig byvoeg of wegneem van die feit, dat julle voor ons Here man en vrou is nie.

Met ander woorde soos ek reeds eintlik genoem het:
As jy en jou vriendin voor ons Here, in julle harte  besluit het, ons is man en vrou, kan ek nie sien dat julle nou moedswillig sondig nie.  Julle leef en doen teenoor mekaar wat julle doen, in julle harte, in liefde vir mekaar as man en vrou maar julle moet ook die feit, dat julle man en vrou is ook in ‘n seremonie van die een of ander aard voor die wêreld bevestig, dat julle man en vrou is en dit so in die wêreld uitlewe.

Dit hoef ook werklik nie so ‘n groot okkasie te wees nie.
Byvoorbeeld:
Julle kan ‘n paar mense uitnooi en dan net vir hulle sê, dat julle in die teenwoordigheid van ons Here, jy haar gevra het en sy “ja” gesê het, om jou vrou te wees en sy kan dit dan net in hulle teenwoordigheid beaam bevestig.
Dan kan julle wanneer dit vir julle geleë is en julle die geld daarvoor het die papierwerk ens volgens die wette van die land afhandel maar voor ons Here, glo ek persoonlik is julle, om dit so te stel, intieme verhouding volgens wat ek in die Woord vind dan verseker nie sonde, of dan moedswillige sonde nie.
Natuurlik, as julle dit anders doen, is dit na my mening soos ek dit persoonlik verstaan, net saambly vir seks en of nog ander redes en dit is natuurlik sonde.

Dan, hoe ekself dit sien, maak ‘n man van die vrou met wie hy saam lewe, gewoon net ‘n onbetaalde prostituut.

Ek noem net weer, dat julle tog terwille van die wette van die land en veral terwille van mekaar, vir wanneer een van julle, as ons Here vertoef om te kom gaan agterbly.
Met ander woorde, sodat wanneer een van julle twee na ons Here verhuis het, daar nie allerlei probleme met byvoorbeeld die boedel of so iets gaan wees nie.

So, wat ek vir julle sê is dit:
Moet nie skuldig voel oor hoe julle julle liefde teenoor mekaar uitleef nie maar julle moet dit ook in die een of ander wyse aan die wêreld in die een of ander seremonie verkondig:
“Ons is man en vrou en voor God getroud.”

Daar is natuurlik mense wat sal sê hulle het werklik voor ons Here mekaar in alle opregtheid geneem as vrou en as man en dit nie regtig so gedoen nie.
Daar is ook mense wat hulleself nie ‘n duit skeel of dit verkeerd is nie maar almal in so ‘n geval, moet net onthou dat GOD wat in die verborgenheid sien, sal in die openbaar vergeld en ons lees:

ROM 2:5-8
5  Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ‘n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God
6  wat elkeen sal vergeld na sy werke:
7  aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek die ewige lewe;
8  maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is grimmigheid en toorn;

Ek wens julle toe in julle huwelik voor ons Here wat julle, so glo ek, ook in die openbaar gaan bevestig.
Mag julle lewe vol wees van ons Here se liefde, genade, vrede, vreugde, beskerming en al die wysheid wat julle mag nodig kry.

Groete,
Sakkie