DIE KERK EN DIE KERK SE BESTUUR

DIE KERK EN DIE KERK SE BESTUUR.

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra, of ek nie iets wil skryf oor die kerk en dan veral hoe die leierskap behoort te lyk en of die kerk werklik Bybels is?

Ek wil begin deur te sê, dat die kerk verseker Bybels is.

Ek gaan in my skrywe aan jou waar ek dit nodig ag van twee Skrif vertalings gebruik maak want ek dink persoonlik dat die Nuwe Lewende Bybel die beste is maar ek gebruik gewoonlik die ouer vertaling, bloot omdat die ouer vertaling meer verbruikersvriendelik is in die program wat ek gebruik.

Ek gaan ook elke keer as ek van albei gebruik maak eers die ouer vertaling kwoteer en dan die Nuwe Lewende Vertaling waarvan ek so baie hou.
Nou goed.
Die eerste keer wat ons van die kerk hoor is toe Jesus van die kerk gepraat het:

MAT 16:17  Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.
MAT 16:18  En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

MAT 8:17 “Jy kan bly wees, Simon, seun van Jona,” het Jesus gesê, “want my Vader in die hemel het dit aan jou duidelik gemaak. Dit kom nie van mense af nie. 18Ek sê nou vir jou, jy is Petrus, ’n rots, en Ek sal my kerk op hierdie vaste rotssteen bou. Daarom sal selfs die mag van die hel dit nie kan oorwin nie.

Net nog een voorbeeld van waar die Woord reeds daar aan die begin gepraat het van die Kerk:

HAN 8:3  Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.

HAN 8:3 Saulus wou nou die kerk tot niet maak. Hy het by een huis na die ander ingegaan en mans en vrouens met geweld laat uithaal en in die tronk gestop.

Iemand kan nou vra:
“Waarom moet ek kerk toe gaan?”
Vir my is die eenvoudigste antwoord:
“Omdat die Woord so sê.”

HEB 10:25  en laat ons, ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

HEB 10:25 Laat ons nie ophou om na ons byeenkomste toe te gaan nie, al is daar party wat moedswillig wegbly. Maar ons moet mekaar aanmoedig, want julle sien self hoe naby die dag van die Here se koms is.

Self gebruik ek die volgende voorbeeld om die gevaar van nie kerk toe gaan nie te demonstreer:
Jy staan by ‘n braaivleisvuur.
Haal nou die kooltjie wat die helderste gloei uit die vuur en sit dit langs die vuur neer.
Feitlik onmiddellik verdof sy gloed, terwyl die kole daar waar jy hom uit gehaal het nog net so helder gloei.
Die rede is dit:
Daar waar al die kole bymekaar is kan hulle saam weerstand bied teen die koue wind omdat hulle mekaar aste ware mekaar al die tyd verhit, soos ons mekaar in die gemeente bemoedig – maar die kooltjie langs die vuur is net nie opgewasse om alleen teen die koue wind om hom staande te bly nie en onthou –

EFE 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.
 

Mense het my ook al gevra:
“Waarom het die Christene so baie verskillende denominasies?”

Ek verduidelik dit altyd as volg en ek is dankbaar dat ek myself en my vrou as voorbeelde kan gebruik:
Ek is  ‘n taamlike stemmige mens.
Ek hou van ’n wat ek ‘n stemmige diens sal noem maar my vrou hou van ‘n lekker lewendige diens.
So is daar denominasies waar my vrou baie meer tuis voel as ek en so is daar denominasies waar ek weer baie meer tuis voel.
Die Christene se God en Verlosser ken die mens so goed, Hy het dan self mens geword.  Hy ken al ons grille en dinge.
Soos byvoorbeeld, dat my vrou hou van kool met ‘n lekker wit sousie en dat ek al klaar amper gril as ek net die woord “kool” skryf.
Gelukkig is ons Here die beste geestelike Spysenieringsbestuurder in die heelal en Hy “cater” met groot deernis en liefde vir ons almal se smake.
Daarom kan ons ook maar ag gee op Sy voorskrifte, van hoe die opset in die kerk moet wees.

So kom ons kyk, want ons Here was baie duidelik oor hoe Sy kerk saamgestel moet wees:
Ek gaan telkens net een of twee voorbeelde gee maar ek kon egter werklik baie voorbeelde gegee het.
Eerstens, Jesus is die Hoof van die kerk.

EFE 1:22  En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee,
EFE 1:23  wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

EFE 1:22 God het Hom die gesag oor alles gegee en het Hom ook aangestel om in die kerk die Hoof te wees sodat almal Hom moet gehoorsaam.
EFE 1:23 Die kerk is Christus se liggaam.

KOL 1:18  En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.

KOL 1:18 Dis ook Hy wat die hoof van die hele liggaam is, en hierdie liggaam is die kerk. Dit is uit Hom wat die lewe van die kerk kom. Hy was ook die eerste om uit die dood weer lewendig te word. Daarom is Hy belangriker as enigiemand anders of enigiets anders.

Dan – en hier gaan daar mense met my verskil, veral die sommige sogenaamde pastore ens wat eintlik soos diktators regeer en daaroor sal ek later iets meer sê maar volgens wat ek die Woord verstaan word ‘n gemeente, deel van die kerk, deur geestelike leiers gelei, of dan bestuur wat bestaan uit diakens en ouderlinge en gewoonlik is die voorsittende beampte, of dan pastoor as jy wil, ook maar net een van die ouderlinge, niks minder of niks meer nie.

TIT 1:5  Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het, en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het—

JAK 5:14  Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het.

Natuurlik moet die ouderling wat die leiding neem, volgens my die pastoor ens, ook met die nodige respek behandel word.

1TIM 5:17  Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.

Ek kwoteer die Lewende Bybel nou meer volledig omdat ek dink dat wat nou volg baie belangrik is:

1TIM 5:17-20 
17 Sorg dat die kerklike leiers wat hulle werk goed doen ’n behoorlike inkomste kry, veral die wat hulle tyd gee om die woord van die Here te bring en mense daaruit te leer.
18 Want in die Skrif staan daar: “As ’n mens ’n os gebruik om graan te dors, mag jy nie sy bek toebind sodat hy nie daarvan kan vreet nie.” Daar staan ook: “Iemand wat werk, het reg op die loon wat hy kry.”
19 Moenie luister na ’n beskuldiging teen ’n kerklike leier nie tensy daar twee of drie getuies is wat kan bevestig dat dit so is.
20 Maar as daar een van hulle is wat sonde gedoen het, moet hy voor almal op sy fout gewys word sodat dit vir die ander ’n waarskuwing kan wees.

Soos jy ook gesien het is daar gewoonlik meer as een ouderling maar die een wat voorgaan moet homself deeglik ondersoek en sorg dat hy aan die volgende voldoen:

TIT 1:7  ‘n Ouderling moet ‘n onberispelike lewe lei, want hy is God se dienskneg.  Hy moenie arrogant of humeurig wees nie;  hy moet hom ook nie aan drank vergryp of gewelddadig of geldgierig wees nie.
TIT 1:8  Hy moet dit geniet om gaste tuis te ontvang en moet alles wat goed is, liefhê.  Hy moet met wysheid lewe en regverdig wees.  Hy moet ‘n toegewyde en gedissiplineerde lewe lei.
TIT 1:9  Hy moet ‘n sterk en standvastige geloof hê in die betroubare boodskap wat hy geleer is, dan sal hy in staat wees om ander met die regte onderrig te bemoedig en dié wat dit teenstaan, te wys waar hulle verkeerd is.

As iemand dalk dink dat ek die ouderling en leier van die gemeente verwar, wil ek net
wys op die volgende:

1PET 5:1  Ek vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat ‘n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is, wat ook ‘n deelgenoot is van die heerlikheid wat geopenbaar sal word:
1PET 5:2  Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid;

Dit dan wat die ouderlinge aanbetref.

Ek wil nog net dit hier sê:

As dit lyk of ek iets teen pastore ens het, lyk dit heeltemal verkeerd.
Ek het dit wel teen mense wat hulle eie ding begin en dan soos diktators hulle
“gemeente lei”.  Dit is soos ek reeds gewys het heeltemal teen die Woord en na my
mening sommer boos.
Dit is dan ook dat jy baie keer, ek het amper geskryf gewoonlik kry, dat hulle een of
ander tyd die pad heeltemal byster raak.  Ek het amper geskryf, dat hulle die pot
heeltemal mis gaan sit.
Dit is dan wanneer korrupsie en ‘n tweede of selfs ‘n derde huwelik ens, soos ons al
gesien het nie uitgesluit is nie.

Wat die diakens aanbetref, die volgende groep in die kerk leiding:

1TIM 3:8-13
8 Net so moet die diakens waardig wees, nie uit twee monde spreek nie, nie verslaaf aan wyn nie, geen vuilgewinsoekers nie,
9  manne wat die verborgenheid van die geloof in ‘n rein gewete hou.
10  En hulle moet ook eers ‘n proeftyd deurmaak; daarna, as hulle onberispelik is, kan hulle dien.
11  Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadspreeksters nie, nugter, betroubaar in alles.
12  Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer.
13  Want die wat goed gedien het, verkry vir hulle ‘n eervolle plek en veel vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus.

Groete,
Sakkie