DIE KONFRONTASIE IN MATTÉÜS 22 VERS 15 TOT 22

DIE KONFRONTASIE IN MATTÉÜS 22 VERS 15 TOT 22

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra my, wat hierop neergekom het, of ek my weergawe, van hoe ek die konfrontasie tussen Jesus en die Fariseërs in MAT 22:15-22 sal verduidelik.

Lees net eers gou die gedeelte.

MAT 22:15-22 
15 Die Fariseërs het toe vergadering gaan hou om te bespreek hoe hulle Jesus op ‘n verkeerde opmerking sou kon uitvang om as aanklag teen Hom te gebruik.
16  Hulle stuur toe ‘n paar van hulle volgelinge saam met ondersteuners van Herodes wat vir Jesus vra:  “Leermeester, ons weet hoe absoluut eerlik u is.  Sonder om doekies te draai leer u die mense wat God van ons verwag.  U ontsien niemand nie, want u laat u nie beïnvloed deur mense se belangrikheid nie.
17  Sê dan vir ons wat is u standpunt:  Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?”
18  Jesus het hulle egter deurgekyk.  “Julle skynheiliges,” sê Hy, “julle probeer My uitvang!
19  Wys vir My die Romeinse belastingmunt.”  Hulle bring toe vir Hom die muntstuk.  “Wie se kop en titel is hierop afgedruk? vra Hy vir hulle.
20  Hulle antwoord:  “Die keiser s’n.”
21  “Wel,” sê Hy toe, “gee dan aan die keiser wat hom toekom.  Maar gee ook aan God alles wat Hóm toekom.”
22  Jesus se antwoord het hulle stomverbaas gelaat, en hulle het die aftog geblaas
.

Nou goed, hier is hoe ek die gedeelte verstaan:

Om mee te begin, moet ons onthou dat hierdie baie, baie onstuimige politieke tye in Israel gewees het.
Kort-kort was daar byvoorbeeld ‘n opstand van die een of ander groep wat nie die
Romeine se oorheersing kon hanteer nie en aan die anderkant was die Romeine baie onverdraagsaam teenoor enige persoon wat, om dit so te stel, haar of sy misnoë, van watter aard ook al, met die Romeine of hulle keiser gewys het.
Soveel so dat ongeveer 37 jaar na hierdie konfrontasie in die jaar 70 na Christus, die Romeine nou eens en vir altyd genoeg gehad het van hierdie balhorige Joodse volk en is Jerusalem deur die Romeine verwoes, in wat met die wreedste wreedhede gepaard gegaan het.
Israel sou eers weer bykans 2 000 jaar later in 1948 terugkeer na die beloofde land en Jerusalem sou eers heelwat later in 1967 weer geheel en al in Israel se besit wees.

Die twee hoofgroepe in hierdie konfrontasie destyds, was die Jode en dié wat hulle simpatiek gesind gewees het, met die Fariseërs as die toonaangewers en die ander groep was Romeine en dié wat die Romeinse heersers goedgesind was, met die Herodiane as van hierdie groep se baie aktiewe toonaangewers.

Nou het die Fariseërs gaan sit en, wat hulle gedink het ‘n “foolproof” plan uitgewerk om Jesus eens en vir altyd te vang en te vernietig: (Ek haal dit aan uit die 1953 Vertaling)

MAT 22:15  Toe gaan die Fariseërs saam raad hou hoe om Hom in sy woord te verstrik.

Hulle stuur hulle volgeling en nooi die Herodiane saam met ‘n vraag na Jesus.

MAT 22:16  En hulle stuur hul dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê:

Kyk nou net hoe slinks is hulle.
Hulle begin hulle vraag met ‘n heuningkwas omtrent twee keer so groot soos ‘n
hedendaagse straatbesem.

MAT 22:16   … Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie—

Dit sê hulle ewe skynheilig aan Jesus, terwyl hulle so min van Jesus dink, dat hulle by geleentheid selfs beweer het, dat Jesus saam met satan werk.
Onthou jy:

MAT 9:33  Nadat Jesus die duiwel uit hom gejaag het, het die stom man begin praat.  Die skare was oorweldig en het gesê:  “So iets het nog nooit in Israel gebeur nie!”
MAT 9:34  Maar die Fariseërs se reaksie was:  “Dit is die baasduiwel wat Hom help om duiwels uit mense uit te jaag.”

Die heuningkwas klaar gebruik, kom hulle met, wat hulle gedink het is, die doodsteek vraag:

MAT 22:17  sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?

Met die politieke temperatuur soos wat dit toe al in Jerusalem gewees het, het hulle
geweet –

Sê Jesus, “Ja, betaal belasting aan die keiser”, gaan die Jode met die aanhitsing van die Fariseërs se volgelinge wat aste ware juk om te begin, Jesus daar en dan stenig.

Sê Jesus “Nee”, moet nie aan die keiser belasting betaal nie, gaan die Herodiane
Hom laat gevange neem en is ‘n kruis Sy voorland.
Met ander woorde – Volgens die Fariseërs was Jesus, jy kan maar sê:
“A dead man walking.”

Hoe blind kan satan ‘n mens nie maak nie.
Hier is al hierdie groot teoloë bymekaar en hulle wil God vermoor.
Want wie was hierdie Jesus teen wie hulle saamgesweer het?
 

JHN 1:1  Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.  Die Woord was by God, en die Woord was self God.

JHN 1:14  En die Woord het mens geword en by ons kom woon.  Ons het Sy heerlikheid duidelik gesien, ‘n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

Ja, Jesus God Almagtig wat Mens geword het, wat sulke valse agterbaksheid nooit sal verdra nie, antwoord hulle en in Sy eerste woorde, is dit of ek  Sy goddelike toorn oor hierdie slu valsheid kan hoor:

MAT 22:19  Geveinsdes, waarom versoek julle My? …

Dan gaan Jesus voort en om dit so te stel, maak Hy menslik gesproke, hulle lekker
“cheap.”
Hy sê:

MAT 22:19   … Wys My die belastingmunt. …

Hulle doen dit toe ook.

MAT 22:19   … En hulle het vir Hom ‘n penning gebring.

Toe, om dit so te stel, gee Jesus hulle die uitklophou:

MAT 22:20  En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit?
MAT 22:21  Hulle antwoord Hom: Die keiser s’n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.

 

Die gemiddelde Jode kon hulleself met die konsep van “betaal aan die keiser, wat die
keiser toekom” vereenselwig.  As iets aan die keiser behoort, wil hulle dit nie hê nie.
Daar staan mos in die Tien Gebooie geskryf:

EXO 20:17  Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.

 

Daar – op die munt is die bewys, dat dit uiteindelik die eiendom van die keiser is.
So, niemand gaan die gewone Jood in die straat sover kry om Jesus te stenig oor wat Hy nou gesê het nie.

Ook die Herodiane is tevrede, want hulle het mos nou in geen onsekere taal gehoor.
“Betaal aan die keiser, wat die keiser toekom.”

Soms as ek hierdie mense se mislukte plan teen Jesus klaar gelees het, voel ek om uit te roep:
Nog ‘n plan “down the drain,”
Waar dit hoort.
Dit was egter nie al wat Jesus gesê het nie.
Onthou jy?

MAT 22:21  Hulle antwoord Hom: Die keiser s’n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.

Hoe hartseer is dit nie, dat met al die gegewens tot ons beskikking, is dit die een ding
wat nié die Fariseërs of die Herodiane gedoen het nie, naamlik, om aan God te gee wat aan God toekom.

Wat moet jy en ek aan God gee, omdat dit Hom toekom?
Nee, eintlik moet ek die vraag anders stel:

Wat moet jy en ek aan God gee, wat net jy en ek aan God kán gee, wat Hom toekom?

Luister mooi hierna –
Natuurlik moet ons blymoedig, geld ens aan die kerk en aan liefdadigheid gee.  Dit is
so absoluut deel van Christin-wees maar weet jy, dit wat jy gee behoort tog uiteindelik aan ons Here, Hy het dit aan jou gegee, sodat Hy jou kan gebruik om daarmee te doen wat Hy op jou hart gelê het om daarmee te doen – en as jy in ongehoorsaamheid nié daarmee doen wat Hy wou dat jy doen nie, kan Hy, om dit so te stel, iemand anders gebruik, om jou plek vol te staan.

Daar is egter iets wat jy het, wat aan God behoort, wat net jý aan Hom kan gee.  Want jy sien, niemand anders het dit om aan ons Here te gee nie – en dit is jouself en daarmee gepaard, jou liefde.

Iemand vra:
Behoort ek aan God?  Kom ek God toe?

Dan is my antwoord:
Ja!  O!  Ja!
 

JHN 3:16  God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

JHN 3:17  God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word. 
 

Ja, vriend/vriendin, dit was ‘n gewéldige groot prys wat God betaal het, sodat jy en ek aan Hom mag behoort.
 

1KOR 6:20  Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

GAL 3:13  Christus het ons losgekoop van die vloek wat op wetsoortreders rus toe Hy vir ons ‘n vervloekte geword het.  Daar staan geskryf:  “Vervloek is elkeen wat aan ‘n paal (of hout) hang.

1PET 1:18  Julle weet mos dat God betaal het om julle los te koop van die sinlose leefstyl wat julle van julle voorouers oorgeërf het.  En dié losprys was nie dinge wat vergaan soos goud of silwer nie.

1PET 1:19  Inteendeel, dit was die kosbare bloed van Christus, soos dié van ‘n lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.

OPG 5:9  Toe sing hulle ‘n nuwe lied met dié woorde: 
“U is waardig genoeg om die boekrol te neem en sy seëls te breek omdat U geslag is en met U bloed mense vir God vrygekoop het, uit elke geslag en taalgroep, volk en nasie.

OPG 5:10  U het hulle laat deel in U koninklike regering en hulle priesters vir ons God gemaak en hulle sal as konings oor die aarde heers.”

 

Groete,
Sakkie