DIE KRAG VAN ONS HERE JESUS CHRISTUS

DIE KRAG VAN ONS HERE JESUS CHRISTUS

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my min of meer as volg:

“Daar in Matteus 27:52 staan daar die grafte het oopgegaan en die gelowiges is opgewek en het aan baie verskyn.

My vraag is: … Was hierdie ‘n eenmalige gebeurtenis of hoe verklaar jy dit?”

Hier is dan hoe ek na hierdie saak kyk:

Lees net gou die gedeelte uit die Woord:

MAT 27:50-53 

50  Maar Jesus het weer baie hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

51  Op daardie oomblik het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder.  Die aarde het gebewe en die rotse het uitmekaargebars.

52  Selfs die grafte het oopgegaan en God het die liggame van baie gelowiges wat reeds dood was, weer lewendig gemaak.

53  Hulle het uit die grafte gegaan, en ná Jesus se opstanding het hulle die heilige stad Jerusalem binnegegaan en aan baie mense verskyn.

Hierdie was natuurlik, om dit so te stel, van sy soort, ‘n eenmalige gebeurtenis en ek gaan net nou meer daaroor sê maar dit was natuurlik nie die enigste uitsonderlike en eenmalige gebeurtenis van groot wonderbaarlike omvang in Jesus se lewe op aarde, van mense wat van die anderkant van die graf gekom het,om dit so te stel, aste ware, van die almag en heerlikheid van ons God en Verlosser te kom getuig nie en ek deel net gou met jou ‘n ander geval wat na my mening in ‘n sekere mate aansluit by die gebeurtenis hierbo.

Ek deel met jou die gebeurtenis soos ons dit vind in Lukas, beginnende daar in Lukas 9:28 maar ek kwoteer net Lukas 9:29-31.  Jy kan die hele gebeurtenis self gaan lees.  Dieselfde gebeurtenis word ook in Mattheus en Markus beskrywe.

LUK 9:29-31 

29 En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het skitterend wit geword. 

30  Toe het twee mans, Moses en Elia, verskyn en met Jesus begin praat.   

31  Hulle was glansryk in voorkoms.  Hulle het met Jesus gepraat oor hoe Hy God se plan sal volvoer deur in Jerusalem te sterf.

Persoonlik sien ek hierdie gebeurtenis op die berg van verheerliking so – (en ander mag selfs nog meer hierin sien) maar ek deel met jou soos ek dit sien en hoe dit aansluit by die vraag en die gebeure hier bo.

Onthou nou dat Jesus besig is om Sy dissipels op te lei vir die groot taak wat vir hulle voorlê en ook natuurlik om hulle voor te berei vir Sy kruisiging.

Net ‘n ruk van tevore, jy kan dit daar gaan lees van af Lukas 9:18, het hy aan hulle geopenbaar dat Hy die Christus is en nie baie vêr van nou af nie, gaan hulle die Christus sien hang aan ‘n kruis en hulle is maar net gewone mense.

So, hier in die gebeure op die berg van verheerliking wys God Almagtig, dat hierdie Jesus nie net ‘n profeet is wat hierdiekant van die graf, blindes kan laat sien, dowes kan laat hoor, duisende mense kan voed ens nie maar dat Hy ook God Almagtig Self is.

Daarom kon Johannes, een van die wat daar saam met Jesus op die berg gewees het, dan ook later in sy skrywe getuig:

JHN 1:1  Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.  Die Woord was by God, en die Woord was self God.

JHN 1:14  En die Woord het mens geword en by ons kom woon.  Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ‘n heerlikheid soos dié van die enigse Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

As gevolg van hierdie selfde gebeurtenis kon Petrus, nog een van die wat daar saam met Jesus op die berg gewees het, ook later by geleentheid, nie lank voor sy marteldood nie skryf:

2PET 1:14-19 

14 Ons Here Jesus het dit egter aan my bekendgemaak dat ek binnekort gaan sterf. 

15  Daarom sal ek moeite doen om hierdie dinge aan julle te verduidelik.  Ek wil hê julle moet dit onthou lank ná ek nie meer hier is nie.

16  Ons het ons verseker nie op mites verlaat toe ons vir julle vertel het van die krag van ons Here Jesus Christus en sy terugkeer nie.  Met ons eie oë het ons Hom in al sy koninklike prag gesien.

17  Dis mos Hý wat eer en heerlikheid van God die Vader ontvang het toe die Allerhoogste Majesteit gesê het:  “Hý is my Seun wat Ek van harte liefhet;  Hy is ‘n kind so na my hart!”

18  Ons het self hierdie stem uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was.

19  Dit laat die boodskap van die profete vir ons nog vaster staan.  Luister baie mooi na hulle woorde, want dis soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn – totdat Christus verskyn en sy helder lig julle harte verlig.

Daarom, toe hulle die Christus se liggaam aan die kruis sien hang –

MAT 27:50  Maar Jesus het weer baie hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

kon hulle onthou, dat hulle die Christus in Sy majesteit gesien het en toe die voorhangsel van bo tot onder geskeur het – ek haal dit aan uit die 1933 Vertaling:

MAT 27:51  En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;

.. Kon hulle, met dit wat hulle op die berg beleef het, onthou dat hulleself persoonlik toegang tot God het en dat hulle nou vir die wêreld kan verkondig, dat die mens nie meer ‘n priester nodig het om vir hulle agter ‘n voorhangsel toegang tot God te gaan kry nie maar dat, Prys die Naam van ons Here!!!

Die opgestane Christus is nou ons Hoëpriester.

HEB 4:14  Ons het dan nou ‘n groot Hoëpriester wat deur die hemele beweeg het, Jesus die Seun van God.  Laat ons voortdurend aan ons geloofsbelydenis aangaande hierdie Jesus vashou.

Nou omdat Hy in ons woon, het ons deur Hom, direkte kontak met ons Almagtige God en Vader.

ROM 8:14  Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders.

ROM 8:15  Die Gees wat julle ontvang het, is nie ‘n Gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie.  Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God:  Abba – ons liewe Vader.

Toe kon hulle later, hulle wat weens die trauma van die gebeure, nie op daardie oomblik rasioneel gedink het nie, onthou en besef, dat ‘n dooie tog nie ‘n dooie kan opwek nie.

MAT 27:52  Selfs die grafte het oopgegaan en God het die liggame van baie gelowiges wat reeds dood was, weer lewendig gemaak. 

Toe, daarna, na Jesus se opstanding, toe dieselfde weer gebeur.

MAT 27:53  Hulle het uit die grafte gegaan, en ná Jesus se opstanding het hulle die heilige stad Jerusalem binnegegaan en aan baie mense verskyn.

Ja, toe, met alles wat Jesus hulle geleer het en als wat hulle gesien en beleef het al die tyd wat hulle saam met Hom gewees het, plus dit wat ek hier bo met jou gedeel het, saam met die wysheid en insig, waarmee die Heilige Gees hulle op Pinksterdag toegerus het – kon níks, ook nie die doodsengel hulle meer stuit nie en is, so ver ons kennis strek, hulle almal, buiten Johannes, vreesloos na hulle marteldood – maar swyg oor die Evangelie van Jesus Christus, was nie eens by hulle ‘n opsie nie.

So my vriend/vriendin, terwyl ons  nou ook al hierdie dinge weet, laat ons nie met vrees nie, maar vol moed en afwagting na die toekoms kyk.

HEB 12:1  Met so ‘n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop

      van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag,

      veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry.  Kom ons hardloop met

      volharding o die baan wat voor ons uitgestrek lê.

HEB 12:2  ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun.  Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur.  Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie.  En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.