DIE LASTERING TEEN DIE HEILIGE GEES SAL DIE MENSE NIE VERGEWE WORD NIE

DIE LASTERING TEEN DIE HEILIGE GEES SAL DIE MENSE NIE VERGEWE WORD NIE.

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:
“Wat is ‘n sonde teen die Heilige Gees?
In die Bybel staan daar dat geen sonde wat teenoor die Heilige Gees gesondig word  vergewe sal word nie maar ek is nie seker wat is sonde teen die Heilige Gees nie.“

Die gedeelte waarvan hier gepraat word, lees ons in MAT 12:22-32 en in MRK 3:22-30.  Ek kwoteer vir jou die gedeelte uit MAT 12:22-32.

MAT 12:22-32 
22 Toe het hulle ‘n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien.
23  En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?
24  Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.
25  Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie.
26  En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan?
27  En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees.
28  Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.
29  Of hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof.
30  Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.
31  Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.
32  En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.

In hierdie gedeelte van die Woord vind daar nou twee gebeurtenisse plaas wat
belangrik is vir dit wat ek met jou wil deel:

Die eerste is, dat Jesus iemand wat van ‘n duiwel besete gewees het, gesond gemaak
het.

MAT 12:22  Toe het hulle ‘n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien.

Die tweede is dat die Fariseërs die Heilige Gees van ons Here, Beëlsebul die owerste
van die duiwels noem.

MAT 12:24  Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.

Nou sê Jesus dat dit dié soort lastering is wat die mens nooit vergewe sal word nie.

MAT 12:31  Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.
MAT 12:32  En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie.

Die woord ‘laster’ wat telkens in hierdie gedeelte gebruik word is na my mening ‘n beter, ek sou sê, sterker woord as wat sonde is.
Miskien is dit hier net reg as ons net gou kyk wat die woordeboek van die woord laster sê.
Onder andere sê die woordeboek:
Laster:  vloek, iemand se karakter skend.

Die Engelse woord vir laster is ook om dit so te stel ‘n kragtiger woord as wat ‘sin’ is, naamlik ‘blaspheme’ en die woordeboek sê van ‘blaspheme’ onder andere die volgende:
blaspheme:  laster; vervloek;

Hierdie mense was nie onkundige mense nie.  Hulle was godsdienstige mense wat presies geweet het wat hulle doen.
Tog het hulle dit gedoen en dit het hulle niks geskeel dat hulle dit doen nie.

Soos hierdie mense, gee iemand wat teen die Heilige Gees laster nie om dat hulle dit doen nie en hulle kry nooit vergifnis nie, omdat hulle dit ook nie wil hê nie.

Iemand wat bekommerd is dat jy dalk teen die Heilige Gees gelaster het, so glo ek, het nie teen die Heilige Gees gelaster nie, want as jy het, sou dit soos ook vir hierdie mense jou niks gepla het nie.

Ek wil afsluit met ‘n ander gedagte:

Daar is ‘n sonde teen ons Here se Heilige Gees wat ‘n mens die ewige lewe kan kos en dit is die sonde van ongehoorsaamheid om te antwoord op die Heilige Gees se daaglikse gepleit om jou hart vir ons Here oop te maak.

Ons lees:

JHN 3:16-18 
16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

As jy tot vandag toe ongehoorsaam aan die Stem van die Heilige Gees daar in jou hart
gewees het, wil ek jou vra:
Besef vandag – jy speel met jou lewe, jou Ewige Lewe.  Want daar staan dit, jy het dit gelees:

JHN 3:18   … maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Ons Here nooi jou weer vandag uit, as Hy sê:

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

Groete,
Sakkie