DIE LASTERLIKE MISBRUIK VAN JESUS CHRISTUS SE NAAM

Die lasterlike misbruik van JESUS CHRISTUS se Naam

Sakkie Parsons

Hierdie skrywe is deur die genade van ons Here ook in Engels op aanvraag beskikbaar. Ek is baie dankbaar teenoor ons Here daarvoor.

Iemand het vir my ‘n e-pos gestuur waarin die persoon verduidelik dat alhoewel sy by haar werk met mense gepraat het oor die lasterlike gebruik en misbruik van Jesus se naam, hulle hulself nie daaraan steur nie en selfs kwaad word vir haar as sy met hulle daaroor praat.

Ek het toe vir haar die volgende uiteensetting gestuur van hoe ek die hele aangeleentheid sien:

Die eerste onbetwisbare feit is – dat buiten die naam van Jesus Christus, daar geen ander naam is waardeur ons gered kan word nie:

Han 4:11  Hy is:

      ‘Dié klip wat deur julle bouers geminag is;

      Hý het nou die hoekklip geword’.

HAN 4:12 Daar is geen redding by iemand anders nie

      Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word

     nie.

So boos soos satan is, net so slinks is hy ook en hy weet, dat as jy Jesus se naam as ‘n vloekwoord gebruik, kan jy tog nie in daardie selfde Naam na God gaan nie.

Hy weet dat ek nie nou die Naam van Jesus Christus as ‘n krag- of vloekwoord, of wat jy dit ookal noem, kan gebruik en dan weer na ons Vader gaan en dieselfde Naam as Middelaar tussen my en ons Vader kan gebruik nie – tensy jy in diepe berou ons Here om vergifnis smeek en alles in jou vermoë doen om nooit weer Sy Naam te laster nie.

1TIM 2:5 Want daar is net een God en een Middelaar wat God en mens kan versoen.  Hy is die mens Christus Jesus.

Satan weet, dat wat jy dan eintlik doen, is om vir God te sê:

 “Die enigste Naam wat U vir my gegee het, wat ek moet gebruik as ek U wil nader, alhoewel ek hierdie Naam gewoonlik as ‘n vloekwoord gebruik, omdat die Naam dan nie eintlik vir my iets beteken nie, wel ek kom nou in daardie Naam vir U iets vra.”

So, kan jy nou die geweldige implikasies sien wat hier uitspruit.

Die persoon wat Jesus se Naam as ‘n vloekwoord gebruik, het geen kommunikasie met God nie en wat meer is, tensy die persoon nie verander nie, verdoem so ‘n persoon hom of haarself tot die ewige hel, want jy sien, die Draer van hierdie Naam sê:

Jhn 14:6  Daarop het Jesus gereageer:  “Ek is die pad en die waarheid en die lewe.  Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

Ons Geloof is die enigste geloof in die wêreld, waar die Verlosser en Redder se Naam as ‘n vloekwoord gebruik word en die rede daarvoor is voor die handliggend en dit is omdat dit die enigste Naam is, wat jou in ‘n liefdesverhouding met God kan bring

Die Draer van hierdie Naam se bloed is ook die enigste wat jou kan reinig van al jou sonde:

1Jhn1:7 As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar, en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde.

Geen ander naam is ‘n bedreiging vir satan nie en daarom steur hy hom ook nie aan enige ander naam in enige ander godsdiens nie.

Oor die feit dat jy met die mense oor hierdie saak praat en hulle nie wil luister nie maar selfs aanstoot neem, net die volgende:

God weet van ál die kere wat jy met die mense gepraat het oor die verkeerde gebruik van Sy Naam en as hulle dan daarmee aanhou en selfs onaangenaam raak as jy met hulle daaroor praat, kom daar na my mening ‘n tyd, so leer ek dit uit God se Woord dat jy mag sê:

“Genoeg is genoeg.”

Mat 10:12-16

12As julle in ‘n huis ingaan, begroet sy inwoners met die vredesgroet. (Vrede vir julle, die gebruiklike Joodse groet.)

13 As julle in daardie huis welkom is, sal God se vrede daarop bly.  Maar as julle nie welkom is nie, moet julle julle vredesgroet terugtrek.

14 As hulle julle nie wil ontvang of wil luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp en skud die stof van julle voete af. (As teken dat julle hulle aan hulle eie lot oorlaat.)

15 Ek verseker julle, op die oordeelsdag sal dit met die sondige stede Sodom en Gomorra beter gaan as met daardie dorp.

16 “Let op, Ek stuur julle soos weerlose skape onder die wolwe in.  Wees dan skerp soos die slange, (slange is as intelligent beskou)maar terselfdertyd opreg soos die duiwe. (Sonder valsheid of kwaad).

Hier is ‘n voorbeeld, waar God se kinders dit in die praktyk uitgelewe het:

Han 13:50  Maar die Jode het vooraanstaande vroue wat vir die ware God ontsag gehad het, asook toonaangewende burgers van die stad, opgesweep.  Hulle het ‘n betoging teen Paulus en Barnabas bewerk, en hulle uit die streek weggejaag.

HAN 13:51 Hulle het toe, as protes teen die stad, die stof van hulle voete afgeskud en Ikonium toe gegaan.

Hulle het op ‘n punt gekom waar hulle gesê het:

“Genoeg is genoeg.”

So, moet nie dat satan by die verskriklike wat jy nou nog gedurig moet hoor, nog toelaat dat hy jou vrede ook aantas nie.

Ten slotte nog net dit:

Onthou tog wat ek nou met jou gaan deel, as jy weer na ‘n program, fliek of in geselskap sit waar Jesus se naam as krag of vloekwoord gebruik word, en jy kyk verder na die program, fliek of geniet die geselskap maar verder –

Al hoe meer Christene met wie ek te doen kry, laat my op een of ander manier verstaan dat dit vir hulle lyk of God nie meer na hulle luister nie maar daar is ook al hoe meer Christene wat die geneigdheid het om Jesus se naam soos die wêreld te gebruik – en as hulle nie Sy naam, as vloek of kragwoord gebruik nie, geniet hulle die programme of flieks of geselskap, as of dit nou maar een van daardie dinge in die lewe is.

Om dit te doen is na my mening om die Naam van Jesus te minag en as God na die wêreldling nie gaan luister nie, met respek gesê, druk God Sy ore toe en na my mening, draai Hy Sy rug op diegene wat beter behoort te weet en ook nie net dit nie:

Heb 10:28 Enige persoon wat die wet van Moses verbreek het, is op die getuienis van twee of drie mense sonder enige begenadiging doodgemaak.

HEB 10:29 Dink net hoeveel swaarder sal die straf van daardie mense wees wat die Seun van God onder hulle voete vertrap en die verbondsbloed wat hulle vir God geheilig het, met minagting bejeën en die Gees van genade beledig het.

Groete,

Sakkie