DIE MAGTIGE BEGIN VAN DIE KONINGSHEERSKAPPY VAN GOD OP AARDE

DIE MAGTIGE BEGIN VAN DIE KONINGSHEERSKAPPY VAN GOD OP AARDE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:
“Verduidelik asseblief vir my wat beteken Markus 9 :1”

Hier is hoe ek hierdie gedeelte verstaan:

Ek wil dan begin deur te sê, dat dit natuurlik nie net in MRK 9:1 is waar hierdie gedeelte voorkom nie.
Daar is twee ander plekke in die Woord waar jy hierdie profesie van Jesus lees en ek gee vir jou die gedeeltes in die volgorde soos wat hulle in die Woord voorkom. 

Ek wil graag in my verduideliking van hierdie gedeelte vir jou, na my mening, iets baie belangrik wys.
Hier volg die gedeeltes:

MAT 16:28 Dit verseker Ek julle, sommige van julle wat hier staan, sal nie sterf voordat julle sal sien hoe Ek, die Seun van die Mens, kom en regeer in my koninkryk nie.”

Nou die gedeelte waaroor ek gevra was:

MRK 9:1 Jesus gaan toe voort: "Ek verseker julle, party van julle wat nou hier staan, sal nog voor hulle dood sien hoe die koningsheerskappy van God op 'n magtige manier begin."

Nou volg die laaste keer wat ons hierdie stelling van Jesus lees:

LUK 9:27 En Ek verseker julle dat sommige wat nou hier staan, nie sal sterf voor julle die koningsheerskappy van God gesien het nie."

Ek het genoem dat ek jou iets baie belangrik in verband met hierdie drie weergawes van dieselfde woorde van Jesus wil wys.

Wel, dit is vir my baie insiggewend, dat na elkeen van die vertellings van hierdie gebeure is die eerste wat ons in die Woord verder lees, die verheerliking van die Seun van God!
Ek deel met jou as voorbeeld die een gedeelte wat ons in LUK 9:28-36 kry.

LUK 9:28-36
28 Omtrent agt dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes na 'n berg toe saamgeneem om te gaan bid.
29 En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig verander, en sy klere het skitterend wit geword.
30 Toe het twee mans, Moses en Elia, verskyn en met Jesus begin praat.
31 Hulle was glansryk in voorkoms. Hulle het met Jesus gepraat oor hoe Hy God se plan sal volvoer deur in Jerusalem te sterf.
32 Petrus en die ander was baie vaak en het aan die slaap geraak. Hulle het wakker geskrik en Jesus se hemelse glans gesien en die twee mans wat by Hom staan.
33 Terwyl Moses en Elia aanstaltes begin maak om te vertrek, sê Petrus, sonder om te besef wat hy sê: "Here, dis wonderlik! Ons sal drie hutte bou – een vir U, een vir Moses en een vir Elia."
34 Maar terwyl hy nog praat, kom daar 'n wolk en omvou hulle, en vrees het hulle beetgepak toe Moses en Elia in die wolk ingaan.
35 'n Stem kom toe uit die wolk en sê: "Dit is my Seun, my Uitverkore Een. Luister na Hom."
36 Toe die stem weggesterf het, was Jesus alleen daar. Hulle het vir niemand vertel wat hulle gesien het voor lank daarna nie.

Hier het Jesus se Woorde vir die eerste keer gestalte gekry wat Hy gesê het:

MRK 9:1 … "Ek verseker julle, party van julle wat nou hier staan, sal nog voor hulle dood sien hoe die koningsheerskappy van God op 'n magtige manier begin."

Daarna was daar natuurlik ook nog ander magtige gebeure, wat sommige wat daardie dag in MRK 9:1 teenwoordig gewees het ook nog voor hulle dood hier op aarde sou belewe, wat vir hulle die bewys sou wees, dat:

MRK 9:1 … hoe die koningsheerskappy van God op 'n magtige manier begin."

Onthou jy?
Daar staan sommige van hulle om die kruis en hulle hoor, alhoewel van hulle toe seker nog nie begryp het wat hulle hoor nie:

JOH 19:30 Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: "Dit is nou afgehandel!" Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

JOH 19:30  En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.

Later sou hulle natuurlik hierdie woorde onthou en verstaan, wanneer hulle ook weer die gesprek van Moses en  Elia met Jesus op die berg van verheerliking onthou het.
Onthou jy?

LUK 9:31 Hulle was glansryk in voorkoms. Hulle het met Jesus gepraat oor hoe Hy God se plan sal volvoer deur in Jerusalem te sterf.

Ja!
Later sal dit die hooftema van hulle verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus word wanneer hulle die Evangelie van die kruis sal verkondig.  Daarmee saam sal hulle  dan ook beter verstaan van wat Jesus bedoel het, toe Hy daardie dag gesê het:

MRK 9:1 … "Ek verseker julle, party van julle wat nou hier staan, sal nog voor hulle dood sien hoe die koningsheerskappy van God op 'n magtige manier begin."

Toe net ‘n ruk later sou sommige wat destyds by Jesus gestaan het toe Hy die Profesie in MRK 9:1 gemaak het, nog verder die begin beleef  “hoe die koningsheerskappy van God op 'n magtige manier begin."
Ons lees:

MAT 28:2-7
2 Skielik was daar 'n geweldige aardbewing omdat daar 'n engel van die hemel af gekom, die klip voor die graf weggerol en daarop gaan sit het.
3 Sy gesig het geblink soos weerlig en sy klere was sneeuwit.
4 Die wagte het van angs begin bewe oor die engel en toe soos dooies bewusteloos neergeslaan.
5 Daarop het die engel die vroue aangespreek met die woorde: "Julle hoef nie bang te wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.
6 Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood, presies soos Hy gesê het. Kom kyk, hier het sy liggaam gelê.
7 En gaan sê nou dadelik vir sy dissipels: 'Jesus is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle solank vooruit Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien.'
Julle kan reken op wat ek vir julle sê."

Daarna staan sommige van die wat daar gewees het toe Jesus gesê het:
"Ek verseker julle, party van julle wat nou hier staan, sal nog voor hulle dood sien hoe die koningsheerskappy van God op 'n magtige manier begin."
Die een wat hier nie by was nie, was Judas Sy verraaier.
Judas het toe al selfmoord gepleeg.
Ja, toe staan sommige van hulle, 11 in getal en hulle beleef:

HAN 1:9-11
9 Hy het dit gesê, en is toe in die hemelruim opgeneem terwyl hulle toekyk. Hy het in 'n wolk verdwyn.
10 Toe Hy wegraak en hulle nog stip die hemelruim inkyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan.
11 Die twee mans sê toe: "Galilese manne, waarom staan julle na die hemel en kyk? Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!"

Toe!
Hoe wonderlik, beleef hulle ook nog hierdie groot heerlikheid van “hoe die koningsheerskappy van God op 'n magtige manier begin."

HAN 2:2-4
2 Skielik was daar in die lug bokant hulle 'n geluid soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle bymekaar was.
3 Tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme het toe tussen hulle verskyn en op elkeen van hulle gaan sit.
4 Almal is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat.

Toe beleef hulle dit!
Ja!
Toe word hulle deel van die vervulling van Jesus se profesie toe Hy gesê het:

MRK 9:1 … "Ek verseker julle, party van julle wat nou hier staan, sal nog voor hulle dood sien hoe die koningsheerskappy van God op 'n magtige manier begin."

Toe is hulle deel van die begin en heerlike groei van Jesus se ”koningsheerskappy,” wat so gegroei het dat jy en ek meer as 2 000 jaar later saam met miljoene oor die hele aarde deel van hierdie “koningsheerskappy” van Jesus mag wees en weet jy wat is nog so heerlik wonderlik wat jou en my aanbetref?

Soos wat elke een van die profesieë oor Jesus tot nou toe in vervulling gegaan het, kan jy en ek ook met groot opgewondenheid in ons harte onthou wat jy vandag weer gelees het.
Want so seker as wat al die ander profesieë oor Jesus in vervulling gegaan het, sal ook hierdie een in vervulling gaan:

HAN 1:11 Die twee mans sê toe: "Galilese manne, waarom staan julle na die hemel en kyk? Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!"

Dan terwyl jy dit onthou –
Mag jou hart met gróót heerlike vreugdevolle afwagting gevul wees, terwyl jy by dit alles ook hierdie sekere wete het:

Dit maak nie saak wat jou persoonlike omstandighede wat hierdie lewe aanbetref op hierdie oomblik is nie, jy het hierdie sekere wete:

1JOH 3:2 Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn. Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk.

In ‘n ouer Vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

1JOH 3:2  Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.

Groete,
Sakkie