DIE MERK VAN DIE DIER

DIE MERK VAN DIE DIER

Sakkie Parsons

Daar is nou weer soos so baie in die verlede mense wat die een of die ander uit die nuutste tegnologie gryp en dit die merk van die dier wil maak.
Iemand stuur toe vir my ook ‘n skrywe daaroor wat soos volg begin:

“Please all, we cannot pray against this chip 666 because the Bible predicted it will come and now it is here. Let's pray that our loved ones, friends and work colleagues do not fall from eternal glory with Jesus Christ by planting this chip into their bodies.”

Ek word ontsteld in my hart as ek die soort gemors lees, want dit ontstel en plaas vrees in mense se harte, soos ook in die persoon wat my opinie oor hierdie saak gevra het se geval.
My oorhoofse gevoel oor hierdie en al die ander dinge in die Woord waarvoor ons Here ons nie reeds klinkklare antwoorde gegee het nie, is om kennis te neem van daardie dinge en my dan te bepaal by al die heerlikhede wat vir my pragtig in die Woord uiteengesit word.
Want ek weet wanneer ek moet weet wat ek moet weet, sal my liefdevolle Here sorg dat ek weet wat ek moet weet, in so ver ek moet weet wat ek moet weet.  Soos nou ook in hierdie geval.

Ek weet nie hoe die merk van die dier gaan lyk nie maar ek weet verseker dat dit nie ‘n “chip” gaan wees nie.
Die mense wat die “chip” as die merk van die dier sien, so lyk dit vir my, is so vol vrees deur satan gepomp, dat hulle ‘n paar baie ooglopende dinge mis kyk maar dit is mos wat vrees doen.  Vrees laat ‘n mens, soos in hulle geval, nie meer rasioneel dink nie.

Ons lees in die Woord –
Onthou nou, ek lees die Woord soos Jesus sê dat ons Sy Woord moet lees.  Soos ‘n kind.

OPG 13:16  En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vry mense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word;

Die wat die merk wil hê, gaan ‘n merk op hulle voorkop en op hulle regter hand hê.
So as jy wil dat dit ‘n “chip” moet wees, dan gaan jy hierdie chip ín jou hand ingeplant moet hê en nie óp jou hand nie, of ingeplant ín jou voorkop en nie óp jou voorkop nie.

Dan is ‘n merk na my mening, presies wat dit is.  Dit is iets sigbaar wat op jou vel, of dan as jy wil op jou liggaam is en dit is ‘n”chip” verseker nie.
As iemand nou dink dat ek die woord, of begrip merk verkeerd verstaan, die Afrikaanse verklarende woordeboek, die HAT sê van (merk) die volgende:
Merk: Teken, stempel.  Onderskeidingsteken op ’n voorwerp of verpakking om dit van ander te onderskei.  Oormerk of brandmerk as eieningsteken aan vee.

Jare gelede het die vreesagtiges, wat vol vrees vir elke nuwe tegnologiese ontwikkeling is, 666! 666! of is dit nou Wolf! Wolf! geskreeu toe hulle die kredietkaarte, as die merk van die dier gesien het en vol vrees skoon vergeet, dat as jy die kaart in jou laai gesit het, is jy merkloos.

Nog iets van kardinale belang wat die vreesagtige verspreiers van hierdie bangmaak stories vergeet is dit –
Ons almal weet dat die Bybel en met ander woorde ook die boek Openbaring
vir alle Christene geskryf is maar aan wie was die boek Openbaring in die
eerste plek geskryf, of dan heel eerste gestuur?

OPG 1:3  Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
OPG 1:4  Johannes aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,
OPG 1:5  en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed
OPG 1:6  en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

OPG 1:11  Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in ‘n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa.

Jy sien – Openbaring is vir my en vir jou en vir die sewe gemeentes in Asië geskryf.
God sal nie vir my sê dat ek iets kan of mag doen wat vir my heeltemal onmoontlik is nie.  Hy sou dit ook nie aan die sewe gemeentes in Asië gedoen het nie.
God sê:

OPG 13:18  Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.

God sê dat dit vir die mense van vandag moontlik is om die getal van die dier te bepaal maar die brief is heel eerste aan die sewe gemeentes in Asië geskryf, so hulle kon ook die getal van die dier uitgewerk het en in hulle tyd was daar nie “chips” wat kinders van God heerlik tot hulle voordeel kan gebruik, sonder om hulle geloof aan te tas nie.
Dit wat ek nou genoem het, dat ‘n kind van God die voordele van ‘n “chip” kan geniet, sal natuurlik nie vir ‘n kind van ons Here moontlik wees wat die merk van die dier aanbetref nie.

Ons sien partykeer nie, of ek moet eintlik sê, dat baie van ons die meeste van die tyd nie sien hoe slim en slinks die satan is nie.
Jy sien – as hy jou kan laat vrees vir iets wat nie werklik bestaan nie, weet hy dat daardie vrees jou so besig gaan hou dat jy nie die gevaar waarmee hy jou gaan oorweldig, gaan sien nie.

Dit laat my dink aan die mense wat van tyd tot tyd vir my probeer bang maak met die bose geeste wat dan konsuis in Spiderman, Badman, Kersfeesvader pakke, kersbome ens is en dan vir my vertel dat ons teen hierdie dinge moet praat.
Vol vrees kyk hulle teen hierdie dinge vas en satan kry dit reg, dat hulle só op hierdie dinge konsentreer, dat hulle nie eens agterkom, dat terwyl hulle hierdie dinge van hulle kinders wil weg hou nie, hulle dag vir dag en aand vir aand vir hulle kinders ‘n voorbeeld stel, hoe om die lastering van Jesus se naam oor die TV in hulle huis toe te laat.
Terwyl hulle vir hulle kinders wys dat ‘n mens na geweld, moord, egbreuk, pornografie ens op die TV mag kyk en dit geniet.
Geen wonder dat die misdaad in ons skole sulke groot afmetings aanneem nie.

My raad aan mense wat oor al hierdie en ander soortgelyke dinge wonder, is dit:
Sorg dat jou verhouding met ons Here reg is en werk daaraan, dat jou verhouding met Hom al meer en meer verdiep.
Doen dit, deur jou Bybel baie gereeld te lees, daagliks, kort-kort met Hom te gesels.

As daar dinge is wat jy nie verstaan nie, gaan steek kers op by iemand van geestelike integriteit.  Met ander woorde praat met iemand wat vrugte dra wat by die bekering pas, nie sommer by enige een wat sê dat sy/hy ‘n Christen is nie.

MAT 7:15  Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
MAT 7:16  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!
MAT 7:17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.

Hierdie raad wat ek jou nou gegee het, werk.  Ek weet, ek pas dit al jare met groot sukses in my eie lewe toe.
Doen dit en al die ou vrese oor “chips” en dinge en goete verdwyn, omdat jy weet, dat ons Here in beheer is en dat jy Sy kind is.
Glo my as ek vir jou sê, as jy dit doen, sal jy weet wat jy moet weet, wánneer jy moet weet, wát jy moet weet.

Ag en laat ek nou maar die mense wat met satan se hulp natuurlik, so hartd probeer om vrees onder die gelowiges te versprei, se “bubble” vir hulle bars.
Anders gestel –
As ek nou maar die “cherry” op die koek kan sit, om te wys hoe mense deur vrees, of onkunde natuurlik deur satan verblind word, wat die ‘merk van die dier’ aanbetref.
As jou saak met ons Here reg is, gaan jy nie eens meer hier wees as die “pawpaw” die “fan” slaan en die merk van die dier hoog-mode gaan wees nie.

Want soos ek die Woord verstaan, gaan die wegraping plaasvind voor al hierdie dinge gebeur.

Daarom kan ek dan ook met groot vrede hierdie skrywe aan jou afsluit met my standaard antwoord as iemand my vra hoe dit met my gaan.
“God is op die troon en die saak loop mooi.”

Ek het ook ‘n 'Gedagte uit die Woord' geskryf naamlik ”Die Wegraping.” wat op bestelling by my of op die Webtuiste onder Eposbediening beskikbaar is.

                 
Groete
Sakkie