DIE MERK VAN KAIN

DIE MERK VAN KAIN

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra my of ek weet wat die merk van Kain was en sê dan, dat sy gehoor het dit was die kleur van sy vel en dat al sy nageslag ook daardie velkleur tot vandag toe het.

Soms as ek hoor wat mense uit die Woord probeer haal om hulle voor-  of afkeure te pas, sou ek kon glimlag, as dit nie gewees het dat ek weet hulle lê nou, om dit so te stel, woorde in God Almagtig se mond, wat Hy gladnie gesê het nie.
Hulle sê dan eintlik:
So sê die Here … en dan het ons Here nié so gesê nie en so is hulle die klassieke voorbeeld van ‘n valse profeet.

Jy sien –
Ek moet nie dat my grille en giere bepaal hoe ek die Evangelie verkondig nie.  Ek moet dat die Heilige Gees my lei.

Kom ons lees eers gou wat die Woord oor die teken sê wat ons Here aan Kain gegee het:

GEN 4:15  Die Here antwoord hom: “Nee, hulle sal jou nie doodmaak nie, want enigiemand wat jou doodmaak, sal sewe maal gestraf word.” Toe sit die Here God ’n teken aan hom sodat niemand wat hom teëkom hom sal doodmaak nie.

So met ‘n glimlag.
As dit so gewees het soos jy nou hier bo gelees het, sou ek amper kon wens dat ek ook die teken van Kain gehad het, want ons lees:

GEN 4:15  … Die Here antwoord hom: “Nee, hulle sal jou nie doodmaak nie,
want enigiemand wat jou doodmaak, sal sewe maal gestraf word.” Toe sit die Here God ’n teken aan hom sodat niemand wat hom teëkom hom sal doodmaak nie.

Om egter weer ernstig te raak.
Een saak is hier baie duidelik –
Die Woord sê nie wat die teken was wat ons Here aan Kain gesit het nie.
Daar is ongelukkig mense, gewoonlik mense wat neerkyk op mense wat nie dieselfde velkleur as hulle het nie, wat dan verkondig dat die teken wat ons Here aan Kain gegee het, die kleur van sy vel was en dan maak hulle die teken aan Kain die velkleur wat natuurlik nie hulle velkleur is nie.

Dan wil hulle ander mense ook oortuig, dat hulle dit van ons Here gekry het, dat die kleur van sy vel die teken was wat aan Kain gegee gewees het.

So vol veragting en haat loop hierdie mense en sommige van hulle is intelligente mense, wat onder normale omstandighede die ooglopende sou raaksien maar met haat en veragting in hulle harte, wat natuurlik nie in ‘n volgeling van Jesus  teenoor ander mense gevind behoort te word nie, sien hulle nie die ooglopende raak nie.
Soos ons in die Woord van sulke mense lees:

MAT 13:14  Die profesie van Jesaja word in hulle geval bewaarheid:
‘Julle sal my woorde hoor en tog nie verstaan nie.
Julle sal sien wat Ek doen en dit tog nie werklik begryp nie.

In ‘n ouer Vertaling lees hierdie gedeelte soos volg:

MAT 13:14  En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.

Hulle kyk en kyk en sien niks nie en as jy met hulle praat, hulle luister en luister maar hoor uiteindelik niks buiten dit wat hulle wíl hoor, omdat dit hulle pas om so te glo.

Die eerste ooglopende uit die Woord omtrent die teken aan Kain is dit:

Die teken wat ons Here aan Kain gegee het, het ons Here volgens die Woord, soos jy gelees het, net aan Kain gegee.  Want dit is hy en net hy wat sy broer doodgeslaan het maar sê nou tog, dit is natuurlik nie so nie maar sê nou net, ons kon uit die Woord wys, dat ons Here tog aan al Kain se nageslag ook daardie teken gegee het, al het hulle nooit eens vir Abel geken nie en kom ek praat nou vir ‘n oomblik soos ‘n dwaas en sê, dat die teken aan Kain, die kleur van sy vel was.
Kom ek gaan voort in hierdie dwase wyse van praat en sê, die teken, die kleur van Kain se vel, was ook aan sy nageslag gegee.
Kom ek laat daardie dwase wyse van redenasie oor gaan in waansin en ek sê, dat ál die mense wat vandag nie dieselfde velkleur as ek het nie, is die bewys dat hulle die nageslag van Kain is.
Laat ek nou vir jou wys hoe absoluut belaglik hierdie dwase redenasie is as iemand haar/hom nie deur haar/sy eie satan gedrewe voor- en of afkeure laat lei nie, maar met jou gesonde verstand onder leiding van die Heilige Gees na die Woord kyk.
Dan het ons klaar gesien, dat die Woord die teken net aan Kain gegee het en dat die Woord nie vir ons sê wat die teken gewees het nie.

Dan en hoe ooglopend is dit nie, as jy daaroor nadink –
Ás die teken die kleur van sy vel gewees het en ás die teken aan sy nageslag gegee gewees het, wel dan sou mense wat daardie teken gehad het, almal toe die wêreld met water vergaan het uitgesterf het.  Want net Noag en sy gesin is in die ark in.

GEN 7:11-13 
11 Op die sewentiende dag van die tweede maand, tydens Noag se seshonderdste jaar, het die onderaardse waters oopgebars. Die reën het ook in strome begin neerstort
12 vir 40 dae en nagte aanmekaar.
13  Op daardie selfde dag het Noag en sy vrou, saam met sy seuns, Sem, Gam en Jafet, asook hulle vroue, aan boord gegaan.

1PET 3:20  … Dit het gebeur in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net agt mense is uit die verskriklike vloed gered.

Maar weet jy, selfs al sou daar op een of ander wyse, twee of meer van Kain se nageslag ongesiens in die ark kon kom en toe weer ongesiens daar uit kon kom en al was die teken van Kain op hulle gewees en al sou daardie teken die kleur van hulle vel gewees het en al sou al hulle nageslag daardie teken gedra het –

Hoe wonderlik en prys die Naam van ons Groot liefdevolle God daarvoor!
Jesus het nie net vir ‘n spesifieke sogenaamde ras met die een of ander spesifieke velkleur aan die kruis gaan hang en Homself so geoffer nie!
Jesus het wel vir een ras, ongeag van wat my velkleur is  aan die kruis gaan hang en Homself so geoffer en dit is die ganse menseras.
Ons lees:

JOH 3:16 "God het die mensdom (Alle mense, ongeag van kleur of taal) só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JOH 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense (dit is alle mense wat Hom aanneem as Verlosser en Saligmaker) deur Hom verlos kan word.

Hoe heerlik om te weet:

JOH 1:12 Aan almal (ongeag van kleur of taal) wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Daarom kan elke kind van ons Here heerlik saam dit uit jubel:

OPB 5:9 Toe sing hulle 'n nuwe lied met dié woorde:
"U is waardig genoeg
om die boekrol te neem en sy seëls te breek
omdat U geslag is en met u bloed
mense vir God vrygekoop het,
uit elke geslag en taalgroep,volk en nasie.

Om dan net weer op te som:
Ons weet nie wat die teken van Kain gewees het nie, omdat die Woord nie vir ons sê wat die teken gewees het nie, maar ons weet wel dat die Woord baie duidelik sê, dat die teken nét aan Kain gegee gewees het.  Nêrens in die Woord is daar iets wat jy amper kan gebruik om te suggereer of ronduit te sê, dat ons Here die teken ook aan sy nageslag gegee het nie.

Wie ookal iets anders verkondig, verkondig iets wat nie in die Woord gevind word nie en dit is dan ‘n valse leuen wat verkondig word deur iemand wat ‘n valse Evangelis, of wat sy/hy homself ook al wil noem, verkondig word.

Kom jy en ek verkondig die Evangelie van Jesus Christus, soos Hy ons die bevel gegee het om te doen en ons maak mense dissipels van Jesus, ongeag van hulle geslag, taalgroep, volk of nasie.

MAT 28:19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, (ongeag van hulle geslag, taalgroep of volk)en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
MAT 28:20  Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Sodat ons dan met Jesus se liefde in ons hierdie heerlike wete kan hê:

ROM 8:29  Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters.

As hier nou iemand gelees het en jy kan dit nie in jou hart vind om teenoor iemand wat nie van dieselfde volk of kleur as jy is te voel soos jy nou gelees het nie,  wil ek jou vra om dit ‘n dringende saak van gebed te maak, dat jy verby iemand se kleur of die volk waartoe sy/hy behoort kan kyk en net die méns raaksien.
Want daar is baie mense van ander volke en kleur wat kinders van ons Here is en die Woord sê baie duidelik, dat as jy nie vir hulle kan lief wees nie, jy onmoontlik vir ons Here kan lief wees.

1JOH 4:19-21 
19 Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het.
20 As enigeen beweer: “Ek het God lief,” maar ’n broer of suster haat, is só ’n persoon ’n leuenaar, want as ons ’n broer of suster wat ons elke dag sien, nie liefhet nie, kan ons mos nie vir God liefhê wat ons nie kan sien nie.
21 Hierdie opdrag het ons van Hom ontvang: As ons God liefhet, moet ons ook ons broer en suster liefhê.

Ek het dit al in die verlede gesê en ek sê dit weer en ook – ek word ongelukkig deur sommige mense hieroor gehaat –
Iemand wat met haat, veragting, weersin ens na iemand anders kyk bloot omdat daardie persoon nie van sy volk of kleur is nie, het letterlik ‘n helse probleem.  Want daar is mense wat kinders van ons Here is, wat nie noodwendig my taal praat of my kleur het nie en die Woord sê:

1JOH 3:13-15 
13 Broers en susters, moet nie verbaas wees as die wêreld julle haat nie.
14  Ons leef in die wete dat ons reeds uit die dood oorgegaan het in die lewe omdat ons, ons broers en susters liefhet. Wie nie liefhet nie, bly eenvoudig in die dood vasgevang.
15 Elkeen wat sy broer of suster haat, is ’n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar deel het aan die ewige lewe nie.

So, as ek enige slegte gevoelens teenoor wie ook al het, moet ek voluit daaraan werk om dit uit my gestel te kry. 

Ek moet waaksaam en versigtig wees om nie alles te glo wat ek lees of hoor nie, maar om dit aan die Woord van ons Here te toets – en dan Sy Woord te glo en uit te leef.

OPB 22:14 Gelukkig is dié wat hulle klere skoon was sodat hulle aanspraak mag hê op die boom van die lewe, en mag ingaan deur die poorte van die stad.
OPB 22:15 Al die onreines bly buite – die towenaars, die onsedelikes, die moordenaars, die afgodsdienaars en elkeen wat die leuen liefhet en beoefen.

Groete,
Sakkie