DIE ROL VAN OUDERLING IN DIE KERK

DIE ROL VAN OUDERLING IN DIE KERK

Wie ‘n leier wil wees, behoort almal te dien

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

Ek wil graag weet wat is die verskil tussen die Ouderlinge en die Pastoor en wie is die hoogste as ek dit so mag stel. Veral waar die Woord praat van laat die Ouderlinge bid en hande oplê en dat die Ouderlinge die gemeente moet leer volgens Timoteus. Asb kan u asb die rol van die Ouderling verduidelik?

Om dan mee te begin:
As ek die Woord nou reg verstaan, is nie een van die Ouderlinge, beginnende by die Pastoor, die hoogste nie – maar al die Ouderlinge, moet eintlik as voorbeeld vir die gemeente en dan begin ons by die Pastoor, deur die voorbeeld van hulle lewens in hierdie verband die laagste te wees.

Jesus gee ons die voorbeeld in Sy lewe as mens hier op aarde.
Ons lees:

JOH 13:3-5
3  Jesus het geweet dat die Vader alles tot sy beskikking gestel het, en dat Hy van God gekom het en weer na God teruggaan.
4  Hy het toe van die tafel af opgestaan, sy bo-klere uitgetrek, ’n doek gevat en dit om Hom vasgebind.
5  Daarna het Hy water in ’n wasskottel gegooi en begin om die dissipels se voete te was en af te droog met die doek wat om Hom vasgebind was.

Dan lees ons ‘n bietjie verder:

JOH 13:12-17
12  Nadat Jesus hulle voete klaar gewas het, het Hy sy bo-klere aangetrek en weer aangelê by die ete. Hy sê toe vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?

13  Julle noem My Leermeester en Here, en tereg só, want Ek is dit.

14 As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet
julle ook mekaar se voete was.

15 Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.

16Hoe waar is dit tog nie:
’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie en ’n gestuurde ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie.

17 As julle hierdie dinge insien en julle eie maak, sal julle geseënd wees as julle dit ook doen.”

Dit is na my mening die laagste wat iemand, dit is God self, van die skepping af al afgesak het om as voorbeeld vir ons te wys, hoe ons na ander mense om ons behoort te kyk.

Dat God self, Dit is God in die vlees, op Sy knieë gesak het en ‘n mens se voete gewas het en een van die mense voor wie God tot op Sy knieë afgesak en sy voete gewas het, was die een wat Hom nou net nadat sy voete deur God gewas gewees het, sou opstaan om Hom te gaan verraai.

Nou moet ek ongelukkig nadat ek hierdie grootse gebeurtenis met jou gedeel het ook die volgende met jou deel:

Ongelukkig, na my mening, is daar Pastore – jy vind hulle gewoonlik die meeste by hierdie, wat ek sommer eenman-kerke noem, wat nie werklik as herders nie maar soos diktators hulle pastorale/ouderling voorreg misbruik wat sommer na my mening, boos is.

1PET 5:3  Moenie baasspeel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar stel die voorbeeld vir die kudde. (Soos Jesus die voorbeeld vir ons gestel het)

Ongelukkig moes ek nou eers met jou die negatiewe van Ouderling-wees deel, omdat dit ‘n groot boosheid is wat soms by die Pastoor begin en vinnig soos ‘n veldbrand as voorbeeld vir die ander in die gemeente, wie ons Here as leiers wil gebruik, versprei.

Noudat ek eers hierdie stuk negatiewe waarheid met jou moes gedeel het, deel ek nou met jou oor die Ouderlinge in die gemeente waarvan die Pastoor een is, soos ek gelei voel om met jou te deel.

Eerstens is nie een van die Ouderlinge groter of hoër as die ander nie en nie een van die Ouderlinge is ook groter of hoër as enige van die gemeentelede nie en nie een van die gemeentelede is groter of hoër as een van die ander gemeentelede nie en hoe geseënd is die gemeente waar almal dit so sien en uitlewe.

Waarin moet die Ouderlinge in die gemeente, om dit so te stel, voor stap en so die leiding vir die gemeente gee?

Ek noem hier ‘n paar voorbeelde en dan ook ‘n gedeelte uit die Woord, waar dit as voorbeeld staan.

Hulle bid met handoplegging vir die siekes, maar ek moet ook net hier noem dat ‘n mens in die gemeente nie noodwendig altyd deur handoplegging vir ‘n sieke hoef te bid nie.  Wat dit aanbetref, sal die Heilige Gees altyd die leiding in jou hart gee.

Hier volg Jakobus 5:14  en dan onthou jy daarby ook, dat ons by herhaling in die Woord aangemoedig word om vir mekaar te bid, al is jy nie altyd by die persoon om haar of hom die hande op te lê nie.

JAK 5:14  Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid.

Dan behoort ‘n Ouderling ook, terwyl ons Here hom uitgekies het as voorbeeld in leiding vir die gemeente, gereeld vir die gemeente te bid en eerstens deur sy lewe maar ook deur sy woorde leiding aan die gemeente te gee:

HAN 6:3  Kyk dan uit, broeders, na sewe manne (dit is diakens) uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel;
HAN 6:4  maar ons (die ouderlinge) sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.

Ek het hier enkele voorbeelde genoem wat ‘n Ouderling aanbetref maar om in kort op te som wat ‘n Ouderling en dan uiteindelik enige persoon wat op die een of ander wyse in die gemeente die leiding wil gee, in gedagte moet hou, wil ek net noem –

God se gemeente is vir Hom Heilig en kosbaar en elke persoon wat in die gemeente op die een of ander wyse wil leiding gee, moet dit altyd in gedagte hou en terwyl sy of hy dan voorloop, terdeë bewus bly van die volgende uit ons Here se kosbare Woord:

JAK 3:1  My broers en susters, julle moenie almal leermeesters wil word nie, want julle weet dat God ons wat leermeesters is, strenger as ander sal beoordeel.

Daar moet Leiers of dan Ouderlinge in die gemeente wees en ons behoort ook altyd te bid dat daar sulke Ouderlinge sal wees en ons moet ook gereeld bid vir dié wat reeds daar is en as ek ook sulke aspirasies het, moet ek myself deeglik ondersoek, of ek my plek met die nodige heilige waardigheid sal kan volstaan.

Ek sluit dan hierdie skrywe aan jou af met die volgende woorde van Jesus, wat aste ware, alles wat ek tot nou toe geskryf het onderstreep:

MARKUS 10:42-45
42 Jesus roep hulle toe bymekaar en sê vir hulle: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die sogenaamde maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle.
43 Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort almal te dien.
44 En wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees.
45 Selfs Ek, die Seun van die Mens, het immers nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.”

Groete,
Sakkie
.