DIE SEWE GEESTE VAN GOD IN OPENBARING

DIE SEWE GEESTE VAN GOD IN OPENBARING

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Ek wil alweer jou raad vra, ons het Sondag n preek gehad by ons kerk oor die sewe Geeste van God.
Ek skryf vir jou neer wat my Pastoor sê en wat ‘n ander een sê.  Watter een is nou reg?  Ek is bietjie verward.
Ek glo en weet jy sal my kan help, want jy baseer altyd alles op die Woord van God.
My pastoor sê dit is: Gees van rus, Gees van wysheid, Gees van verstand, Gees van raad, Gees van sterkte, Gees van kennis, Gees van vrees.
Die ander pastoor se dit is: Gees van smeking,  Gees van waarheid, Gees van heiligheid, Gees van lewe, Gees van aanneming, Gees van genade, Gees van heerlikheid.”

Ek is altyd so jammer as ek pos kry waar mense iets met my deel wat aan hulle verkondig is, wat ons nie in die Woord vind nie.  Eintlik is ek nie net jammer nie, ek raak ook ontsteld en hartseer, as satan mense so misbruik om so met die evangelie van Jesus Christus te mors.

Ek wil dan begin deur te noem dat ons vier keer in die Woord van die “sewe Geeste van God lees naamlik in OPB 1:4, OPB 3:1, OPB 4:5 en OPB 5:6.

Dit is baie belangrik dat ek dit sommer hier reg aan die begin sê:
Nêrens in die Woord word ons deur ons Here vertel, met groot respek gesê, wie of wat hierdie sewe Geeste is nie.
Daarom, enige verklaring wat wie ook al gee oor wie of wat hierdie sewe Geeste is, is bespiegeling van die persoon wat die verklaring gee.
Wat so ontstellend is, is dat die meeste mense wat hierdie soort verklarings maak, nooit sê dat dit is hoe hulle persoonlik die spesifieke gedeelte uit die Woord verstaan nie en so op ‘n subtiele wyse mense onder die indruk bring dat hulle die verklaring onder die leiding van die Heilige Gees doen.
Ek noem dit maar net omdat dit maar die soort ding is wat ons, soos ek nou weer ongelukkig mee te doen kry en dan moet ons weer mense help om te verstaan dat God nie uit twee, en soms nog baie meer monde praat nie.

Wat vir my egter wonderlik is, is dat God se Heilige Gees in Sy volheid in ons kan woon en ons Helper en Vertrooster op aarde wil en sal wees, as ons Jesus Christus aanneem as ons Verlosser en Saligmaker.

JOH 14:16-17 
16 En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees;
17 dit is die Gees van die waarheid. Die wêreld is nie in staat om Hom te ontvang nie omdat hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle gaan bly en in julle sal woon.

Wat nou in my lewe vir  my belangrik is, soos ek dit verstaan met die lig op die oomblik tot my beskikking is dat ek lees ons moet gehoorsaam wees aan dit wat ons in hierdie boek lees:

OPB 1:3  Geseënd is dié een wat die woorde van dié profesie lees, asook dié wat dit hoor en gehoorsaam wat daarin geskryf staan, want die tyd van beslissing is naby.

Om dus terug te keer na die vraag hierbo:
Dit is hoogstens die twee persone se opinies en as een van hulle meer as dit daarvan maak, soos om te sê dit is ‘n Bybelse feit, met ander woorde, dat ons Here in Sy Woord sê dat dit so is, is dit soos so baie verklarings, deur so baie mense deesdae, gewoon ‘n leuen en alle leuens het hulle ontstaan by satan:

JOH 8:44  Julle is uit die duiwel as julle pa gebore, en julle wil net doen wat hy as pa van julle verwag. Hy was van die heel begin af ’n mensemoordenaar. En hy is nie in die waarheid nie omdat die waarheid nie in hom is nie. Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ’n leuenaar en ook die vader daarvan is.

Nou, hoe kyk ek na hierdie saak, as iemand my sou vra, wie die sewe Geeste is?
Daar is twee gedeeltes in die Woord wat mense met die sewe Geeste wil verbind.  Dit is nou buiten die talle sogenaamde geïnspireerdes wat hulle eie, om dit lig te stel, onbybelse benamings gee en ek deel dit gou met jou.
Die eerste kry ons in JES 11:2 maar ek kwoteer JES 11:1-3:

1  Uit die stomp van Dawid se familie sal ’n takkie groei, ’n tak wat vrugte sal dra.
2  (1) Die Gees van die Here sal op hom rus, (2) die Gees wat wysheid en (3) insig bring, (4) die Gees wat raad en (5) krag bring, (6) die Gees wat kennis en (7) eerbied vir die Here bring.
3  Hy sal sy vreugde daarin vind om die Here te gehoorsaam. Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn of op vals getuienis of hoorsê nie.

Die tweede gedeelte kry ons in ROM 12:6-8:

6  Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik. As God aan jou die gawe gegee het om te (1) profeteer, moet jy dit aanwend in ooreenstemming met ons geloofsoortuigings.
7  As dit is (2) om ander te dien, doen dit met oorgawe. As jy (3) onderrig gee, gee dan kwaliteitonderrig.
8  As dit is (4) om ander op te beur, lê jou daarop toe. As jy (5) materiële ondersteuning kan gee, doen dit sonder bymotiewe.  As God aan jou (6) leierseienskappe gegee het, hanteer dit met toewyding. En as jy (7) die gawe het om ander in hulle nood by te staan, doen dit met ’n vrolike hart.

Onthou nou –
Ek sê, dit is wat mense soms gebruik.
Ekself vind geen bewyse in die Woord om te kan verkondig dat een van hierdie twee gedeeltes met die sewe Geeste in Openbaring verbind kan word nie.

Die getal sewe word geweldig baie in Openbaring gebruik en ek gaan nie elke gedeelte uit Openbaring hier kwoteer nie.  Jy kan dit self rustig wanneer jy wil gaan lees maar ek noem net, sodat jy kan sien wat ek bedoel die voorbeelde uit hoofstuk 1:

OPB 1:4, OPB 1:11, OPB 1:12, OPB 1:16, OPB 1:20 en soos ek genoem het, dit is net in hoofstuk 1.
Ek deel ook met jou ‘n paar voorbeelde van wat ons in ‘n getal van sewe in Openbaring vind.
Ons lees van sewe gemeentes:

OPB 1:11  sê: “Skryf wat jy sien in ’n boekrol neer en stuur dit aan die sewe gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”

Ons lees van sewe sterre en sewe kandelare:

OPB 1:20  En dit is die geheim van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het en die sewe goue kandelare:
Die sewe sterre is die sewe voorgangers van die sewe gemeentes en die sewe kandelare is die sewe gemeentes self.”

Ons lees van sewe seëls:

OPB 5:1  Ek het toe in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ’n boekrol gesien, vol geskryf aan die binne- én die buitekant, en deur sewe seëls deeglik verseël.

Ons lees van sewe engele en sewe trompette:

OPB 8:2  Ek het toe die sewe engele gesien wat voor God stelling inneem. Aan hulle is sewe trompette gegee.

Ons lees ook van sewe plae:

OPB 15:1 Ek het toe ’n ander groot en uitsonderlike teken in die hemel gesien: sewe engele wat die sewe laaste plae hou waarmee God se toorn ten volle verwerklik was.

Wat wil ek vir jou sê na al hierdie inligting wat ek met jou gedeel het?
Ons moet daarteen waak om iets aan die mense uit die Woord oor te verklaar, asof dit van ons Here kom, wanneer dit eintlik op die beste net ons persoonlike opinie is.  Daar is reeds ‘n oorvloed van valse profete om ons.  Ons moet nie toelaat, dat satan ons ook nog so misbruik nie.
Ek weet nie hoekom ons Here ons nie ’n antwoord vir alles in Sy Woord aan ons nou al gegee het nie maar ek kyk na dit en alle ander dinge in my lewe wat ek nie verstaan nie, soos my groot held Paulus ook daarna kyk:

1KOR 13:12  Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ’n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.

Vir nou weet ek, Sy kind, baie, baie seker:
Ek sal weet wat ek moet weet, wanneer ek moet weet, wat ek moet weet as ek in hierdie lewe moet weet, wat ek wil weet.

Op hierdie oomblik weet ons – wie suiwer die Woord na die beste van ons vermoëns verkondig, nog nie verseker uit die Woord, wie die sewe Geeste is nie maar niemand gaan as gevolg daarvan die hemel mis nie.

Vir nou verkondig ek die evangelie van Jesus Christus na die beste van my vermoë volgens Sy Woord, deur Sy Woord, soos Hy dit aan ons deur Sy Nuwe Verbond vir ons opgestel het en nie hierdie of daardie wat ek wil byvoeg of selfs, soos sommige, wat ek wil weglaat nie.
Ek wil jou dan aanmoedig:

2TIM 4:2-4
2 Verkondig die woord (suiwer die Woord) van God. Hou daarmee vol, of die tyd daarvoor geleë is of nie. Jy moet jou mense met geduld reghelp, aanspreek en bemoedig terwyl jy hulle geduldig onderrig.
3  Want daar kom ’n tyd wanneer mense nie meer na gesonde onderrig sal luister nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en leermeesters soek wat net verkondig wat hulle graag wil hoor.
4  Hulle sal die waarheid verwerp en vreemde mites navolg.

Jy kan dalk nie preek, sendingwerk doen ensovoorts nie – maar jy het ‘n lewe wat jy vir Christus kan leef.

Iemand, ek dink dit was Franciscus van Assisi het gesê en ek dink ek kwoteer dit reg:
“Verkondig die evangelie net waar jy gaan en as dit nodig is, gebruik woorde ook.”

Daarom, kom jy en ek gee gehoor met dit tot ons beskikking aan die bevel wat ons Verlosser en Saligmaker aan ons in Sy Woord gee:

MAT 28:18-20
18 Jesus kom toe nader en sê vir sy dissipels: “God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou.
19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
20  Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Onthou nou –
Jy hoef nie te kan preek of die tyd of toerusting te hê om sendingwerk te doen nie maar jy het ‘n lewe wat jy kan gebruik om die evangelie van Jesus Christus te verkondig.

Niemand kan hierdie groot waarheid beter stel as Jesus ons Verlosser en Saligmaker nie.
Eers sê Jesus:

MAT 5:11-12
11  “Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle my dissipels is.
12  Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon. Onthou, so het hulle die profete voor julle ook vervolg.”

Dan vertel Jesus ons hoe Hy wil ons daaglikse omgang met die mense om ons moet wees in die verkondiging van Sy evangelie en ek begin met die opskrif van die gedeelte, soos ek dit in die NLV waarvoor ek so lief is, vind:

Die taak van Jesus se volgelinge

MAT 5:13-16
13 “Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar.  Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word.
14  Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!
15  ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.
16  Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

So kind van God, met die woorde wat ek al dikwels in die verlede gebruik het, groet en moedig ek jou nou weer aan:
“Kom ons leef wat ons glo, of dan, leef jou preek.”

Groete,
Sakkie