Die sigbare dinge is tydelik maar die onsigbare, ewig.

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en ek plaas die relevante gedeelte net so oor in hierdie skrywe aan jou:

“Ek sal dit baie waardeer as U vir my meer kan uitlig oor die Hemel.”

Ek wil dan nou graag met jou, die een en ander oor die Hemel deel, soos wat ek die Hemel uit die Woord verstaan.
Mense het my al laat verstaan, dat my dagstukkies soms bietjie lank is.
So ek gaan my telkens probeer beperk tot twee gedeeltes uit die Woord.

Die eerste wat ‘n mens dan seker kan vra is: Wat sê die Woord?  Is daar ‘n Hemel?
Dan is die antwoord natuurlik:

Verseker sê ons Here in Sy Woord baie duidelik, dat daar ‘n Hemel is.
Ek lees:

HEB 9:24  Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn;

HEB 8:1  Die hoofsaak nou van wat ons gesê het, is dít: Ons het so ‘n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele,
HEB 8:2  ‘n Bedienaar van die heilige dinge en van die ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie ‘n mens nie.

Ek kon natuurlik heelwat meer voorbeelde uit die Woord gebruik het, om te bewys dat ons Here baie duidelik vir ons sê dat daar verseker ‘n Hemel is.

Die volgende vraag wat by mense opkom is:
“ Waar is die Hemel?”

Die kort en eenvoudige antwoord op hierdie vraag is:
“Ons weet nie.”

Die Woord, so ver my kennis strek gee ons nie ‘n aanduiding van waar die Hemel is nie.
Verseker, na my mening, is dit nie, om dit so te stel, letterlik/fisies byvoorbeeld êrens op die aarde nie.
Ons lees byvoorbeeld:

HAN 1:9  En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.
HAN 1:10  En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle,
HAN 1:11  wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.

Asook:

1THS 4:17  Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.

Hierdie gedeeltes het mense al laat dink, dat die Hemel êrens in die buitenste ruimte op die een of ander planeet of iets is.
Persoonlik, omdat die Woord nie vir ons eens ‘n aanduiding in hierdie verband gee nie, wonder  ek nie eintlik regtig hieroor nie.  Bloot omdat ons Here volgens die getuienis uit Sy Woord, nie dink dat ek my kop daaroor hoef te breek nie.
As iemand my, my opinie oor hierdie saak vra, sou ek sê:
Omdat ons Here Gees is.

JHN 4:24  God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

So ek sê, maar dit is absoluut net bespiegeling, want ek weet nie –
Hemel is in ‘n ander dimensie, eerder as op ‘n ander plek.

Wat ek wel verseker weet en wat vir my heerlik wonderlik is, is dat Jesus, God wat mens geword het, vir jou en my, ons wie Hom aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, in die Hemel gaan plek voorberei het en dat Hy ons êrens in die toekoms, wat ek glo nie meer baie ver in die toekoms is nie, gaan kom haal, om vir ewig by Hom te wees.

JHN 14:2  In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.
JHN 14:3  En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

Ek weet dat my lewe op hierdie aarde net ‘n reis is en ook nie altyd ‘n maklike reis is nie, maar hierdie reis gaan verseker in die Hemel in my ewige woning eindig en dan gaan my werklike lewe eers begin en vir ewig heerlik wonderlik aanhou.

2KOR 5:1  Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.
2KOR 5:2  Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word,
2KOR 5:3  as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie.
2KOR 5:4  Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word.

So, kind van God.
Ek wil jou aanmoedig.

1TIM 6:12  Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is …

Want hoe wonderlik om te weet:

2KOR 4:17  Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles    oortreffende ewige gewig van heerlikheid;
2KOR 4:18  omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

Ander dagstukkies wat ek deur die genade van ons Here oor die Hemel geskryf het, waarin jy dalk sou belang stel en wat ek met die grootste liefde aan jou op aanvraag sal stuur is:

                 
Groete,
Sakkie