DIE SLEUTEL WAT JESUS VIR PETRUS GEGEE HET

DIE SLEUTEL WAT JESUS VIR PETRUS GEGEE HET

Sakkie Parsons

Dit was eendag, net nadat my vrou lank na die motor se sleutels gesoek het, lees ek in die Bybel van ‘n sleutel.
Ek wil nou met jou deel wat toe in my gedagtes opgekom het. Die gedeelte wat ek gelees het was die volgende:

MAT 16:19  “Ek vertrou die sleutels van God se koninkryk aan jou toe.  Wat jy ook al op aarde toesluit, sal ook by God toegesluit bly, en wat jy ook al oopsluit, sal ook by God oopgesluit bly.”

Ek wil nou met jou deel die gedagte wat ons Here vir my gegee het. Petrus was ‘n dissipel van Jesus en elke mens wat Jesus aanneem as sy Verlosser en Saligmaker is ‘n dissipel van Jesus. So – jy en ek het ook daardie sleutel. Kom ons kyk gou na die sleutel:

HAN 4:12  “Daar is geen redding by iemand anders nie.  Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word nie.”

Geen ander sleutel kan vir jou en my die deur na ‘n gelukkige lewe oopsluit nie:

JHN 14:6  “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

Jesus sê toe later vir Sy dissipels om hierdie sleutel aan die mense in die wêreld te gaan uitdeel:

MAT 28:18  “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.
MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Kyk net hoe deel Petrus hierdie sleutel wat aan hom gegee is, uit:

HAN 2:38  “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.”

Die sleutel is om alles in die Naam van Jesus te doen:

KOL 3:17  “En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”

Natuurlik moet ons dit in die geloof doen.

Daar is net geen ander sleutel tot ware geluk nie. Nie in hierdie lewe nie en ook nie in die toekomstige lewe nie.

So baie mense gryp die verkeerde sleutel om die deur na ‘n gelukkige lewe oop te sluit.

Mense gryp na verdowingsmiddels.  Mense gryp na buite-egtelike verhoudings. Mense gryp na oneerlike maniere van geld maak en so kan ek aan en aangaan, die lys is amper eindeloos.

Natuurlik het Jesus dit gesien en daarom sê Hy vir jou en vir my:

JHN 14:27  “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”

Jy sien, die sleutel wat die wêreld jou en my aanbied tot ware geluk en vrede, is ‘n namaaksel en daarom natuurlik ‘n leuen uit die hel uit.
Net Jesus en Sy vrede bring ware geluk en vrede in jou en my hart:

FIL 4:7  “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. “

Ek sluit af met dit wat ‘n skare eendag van Hom getuig het en dit was nie sommer ‘n gewone skare nie:

LUK 2:10-14 
10 “En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,
11  dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.
12  En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.
13  En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê:
14  Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!”

Die sleutel wat vir my die deur na die ewige lewe en alle ware geluk en vrede oopsluit, is die Naam van my God en Verlosser; Jesus Christus:

MAT 1:21-23 
21 “… en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat Sy volk van hulle sondes sal verlos.
22  En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het:
23  Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.”

JHN 14:6  “Jesus antwoord hom: “Ek is die pad en die waarheid en die lewe.  Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.” (NLV)

Groete,
Sakkie