DIE SOUT VAN DIE AARDE

DIE SOUT VAN DIE AARDE

Sakkie Parsons

Toe ek nou weer die gedeelte hier onder uit die Woord lees, herinner die Heilige Gees
my weer aan ‘n paar heerlike dinge wat ek lanklaas aan gedink het en ek wil dit graag
met jou deel.
Lees net gou weer die gedeelte – en ek gebruik beide die 1933 Vertaling sowel as die Nuwe Lewende Vertaling:

MAT 5:13-16
13  Julle is die sout wat die aarde ‘n beter plek moet maak.  Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar.  Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word.
14  Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!
15 ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.
16  Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal.  
Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

Die eerste wat my weer getref het, was natuurlik:

MAT 5:13  “Julle is die sout wat die aarde ‘n beter plek moet maak.. “

Die 1933 Vertaling stel dit so:
MAT 5:13  “Julle is die sout van die aarde…”

Een van die groot dinge wat sout aan my doen, wat ek weer onthou het, is om my baie vinnig dors te maak.
Toe onthou ek weer, dat my lewe só behoort te wees, dat ek mense om my dors moet maak om ‘n Christen te wees.  Mense moet na my kyk en ‘n groot dorstige drang kry, om die Jesus wat ek dien, ook in hulle lewens te kry.  Want, Jesus kyk na jou en my en Hy sê:  “Julle is die sout van die aarde..”

Iemand sê eendag vir my:
“Sakkie, ‘n mens moet nie oral Bybel onder die arm met jou godsdiens rondloop nie.”
Natuurlik kan ‘n mens verkeerd te werk gaan – maar jy en ek het ‘n lewe en het jy gesien wat sê Jesus in die volgende vers, net nadat Hy gesê het, dat jy en ek die sout van die aarde is?

MAT 5:14  Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;

Vele mense praat baie, maar sê min of niks.
Ons, die sout van die aarde, weet dat dit onmoontlik is om so te lewe, dat mense nie kan sien waarvoor ons staan nie en dit is:

GAL 2:20  Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my.  Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God.  Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.

Daarom is dit vir my moeilik, eintlik onmoontlik om stil te bly oor die Evangelie van Jesus en geen wonder ook nie – Jesus sê dan:

MAT 5:15  en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.

Onthou jy wat was die laaste wat jy gelees het uit die gedeelte wat ek jou uit Mattheus
voorgehou het?

MAT 5:16  Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.

Hoe doen ek dit?

GAL 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Kom jy en ek leef as sout van die aarde so – dat mense om ons dors word en die heerlikheid van kind van God wees ook wil ervaar omdat hulle deur ons lewe so dors
geword het, dat hulle ook soos ons gedoen het, sal reageer op Jesus se uitnodiging.

JHN 7:37-39 
37 Op die laaste dag, die groot dag van die Huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep:  “As jy dors is, kom dan na My toe en drink.
38  Die een wat in My glo – soos die Skrif sê:  ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’ (JES 58:11)
39  Dit het Jesus gesê oor die Gees wat die mense wat in Hom glo, sou ontvang.  Want die Gees was nog nie daar nie omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.

Groete,
Sakkie