DIE SPREEK IN TALE

DIE SPREEK IN TALE

Sakkie Parsons

Iemand het my, my opinie gevra oor die spreek in tale en ek wil graag wat ek vir die persoon gestuur het ook met jou deel.

Ek wil dan begin om te sê, dat baie mense maak ‘n groot fout as dit by die spreek in tale kom, deur die tale wat die dissipels op Pinksterdag ontvang het, te verwar met die tale wanneer die Heilige Gees iemand in ‘n taal laat spreek.

Lees gou hier en ek gaan dit uitlig wat jy in gedagte moet hou:

HAND 2:2-6

2Skielik het daar ’n dreuning uit die lug bokant hulle gekom wat geklink het soos ’n verskriklike sterk wind wat waai. Die geluid het dwarsdeur die gebou getrek waarin hulle gesit het. 3Toe sien hulle iets wat lyk soos vuurvlamme met die vorm van tonge, en op elkeen van hulle het so ’n vlammetjie gekom. 4Die Heilige Gees het geheel en al van hulle almal besit geneem, en hulle het in ander tale begin praat, want die Heilige Gees het hulle die vermoë gegee om so te preek.
5In Jerusalem het daar Jode gewoon wat getrou was aan hulle geloof en wat gekom het uit al die lande van die wêreld. 6Toe hierdie mense die geluid hoor wat soos ’n orkaan geklink het, het ’n groot skare na die plek toe gestroom. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan toe hulle daar aankom en elkeen hoor hoe daar in sy eie taal gepraat word.

Hierdie hoofsaaklik vissermanne, het nie net wel ter tale in hul eie taal geword nie maar kon skielik, in sommer ‘n hele paar bekende tale van daardie tyd, nie net praat nie maar ordentlike toesprake lewer.
Lees nou ook hier:

1KOR 14:2 As iemand in tale praat, praat hy met God en nie met mense nie, want hulle verstaan nie wat hy sê nie. Dit is die Gees wat hom lei, maar hy praat onverstaanbare dinge.

Omdat dit so geweldig belangrik is dat ‘n mens hierdie saak reg sal verstaan, kwoteer ek ook hierdie gedeelte uit ‘n ouer vertaling.

1KOR 14:2  Want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.

Ek het dit al baie gesê en ek sê dit weer –
Ek dink dat mense lê na my mening teveel klem op die spreek in tale, wat maar een van die gawes van die Heilige Gees is.  Soveel so, dat daar selfs mense is wat ‘n hele paar gawes van die Heilige Gees het maar dat van die mense om hulle, omdat hulle verkeerd geleer is, van mening is dat daardie mense met meer as een gawe nie die Heilige Gees ontvang het nie, omdat hulle nie in tale praat nie.

Ek het dit ook al gesê en ek sê dit weer –
Ek ken mense wat baie, baie beter Christene is as wat ek is en wat na my mening baie, baie beter vrugte dra as ek en wat anders as ek, nog nooit in ‘n taal gespreek het nie.

Nou gaan ek dat my groot held Paulus vir jou gou iets sê oor die tale en elke gedeelte wat uitgelig is, is waar ek in my binneste uit volle bors “amen!” geskreeu het:

1KOR 14:1-6 Liefde moet julle eintlike mikpunt wees, maar vra ook vir die besondere bekwaamhede wat die Heilige Gees gee, veral die vermoë om te profeteer, om ’n boodskap van God vir mens te bring. 2As iemand in tale praat, praat hy met God en nie met mense nie, want hulle verstaan nie wat hy sê nie. Dit is die Gees wat hom lei, maar hy praat onverstaanbare dinge. 3Aan die ander kant, as iemand ’n boodskap van God oordra, praat hy met mense, en dit versterk hulle en gee hulle moed en troos. 4As iemand in ’n taal praat, is dit net tot sy eie voordeel. Maar as iemand ’n boodskap van God bring, bou hy die hele gemeente op.
5Ek sou bly wees as julle almal in tale kon praat, maar ek sou nog eerder wou hê dat julle almal ’n boodskap van God aan mense kon oorbring. Want as ’n mens God se boodskap kan bring, is dit meer werd as om in tale te praat, behalwe as die tale verduidelik sou word sodat dit die gemeente ook kan help opbou.
6Broers, as ek na julle toe sou kom en in tale praat, wat sou dit vir julle beteken? Dit sou niks beteken nie. Maar as ek julle vertel wat God vir my gewys het en wat ek verstaan, en ek praat oor wat in die toekoms gaan gebeur en leer vir julle iets, dan kan dit julle help.

Jy sien –

1KOR12:4 Daar is verskillende soorte geestelike bekwaamhede, maar daar is net een Heilige Gees wat ons hierdie bekwaamhede gee.

‘n Ouer vertaling stel dit so:

1KOR 12:4  Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees;

Ek was al in ‘n diens waar so baie mense so geweldig in tale gepraat het sonder dat iemand dit uit gelê het, dat ‘n jong dame, wie ons as ‘n besoeker saam met ons geneem het, so verskrik geraak het, dat sy vreeslik bang geword het en van bangheid aan die huil gegaan het.  Sonder dat sy dit geweet het, het sy gedemonstreer waarteen Paulus ons waarsku, wat die spreek in tale aanbetref:

1KOR 14:23-25 Maar as iemand wat nog ongelowig is en hierdie dinge nie verstaan nie, inkom in ’n kerkdiens en julle sou almal in tale praat, sou hy nie sê julle is mal nie? 24Maar as julle almal profeteer en God se boodskap bring en ’n ongelowige kom dan in, sal die boodskap wat hy van almal hoor hom oortuig dat hy skuldig is. Dit sal hom wys wat verkeerd is in sy lewe. 25Selfs sy geheime gedagtes sal vir hom duidelik word. Hy sal op sy knieë val en God aanbid en sê: “God is regtig hier by julle.” 

Jesus sê – en hierin lê vir my die kruks van die hele saak, of ek God se Heilige Gees in my het, of nie:

MAT7:18-21 ’n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n sieklike boom kan nie goeie vrugte dra nie. 19As ’n boom nie goeie vrugte dra nie, word hy uitgekap en in die vuur gegooi. 20So sal julle dan die valse profete kan herken.
21“Dit is ook nie almal wat My ‘Here, Here, noem wat in God se nuwe ryk sal ingaan nie, maar dit is iemand wat doen wat my Vader in die hemel wil hê wat daar sal ingaan.

Hoe lyk die vrugte van die Heilige Gees wat ek behoort te dra?

GAL15:22-23 Maar as dit die Heilige Gees is wat ons lewe oorheers, bewerk Hy die goeie dinge in ons soos die vrugte wat aan ’n boom gedra word. Hy gee liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, vrygewigheid, betroubaarheid, nederigheid en selfbeheersing.

‘n Ouer vertaling stel dit so.

GAL 5:22  Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Ek sluit af deur jou te wys wat Jesus dink van, as jy voorgee wat jy nie is nie, of dan as jy voorgee jy dra vrugte en daar is eintlik net die blare skyn.

MRK 11:12-14 Toe hulle die volgende dag weer van Betanië af op pad was na Jerusalem toe, was Jesus honger. 13’n Entjie van die pad af sien Hy toe ’n vyeboom wat vol blare was en Hy gaan kyk toe of daar iets aan die boom was om te eet. Maar toe Hy daar kom, het Hy behalwe blare niks aan die boom gekry nie, want dit was nog te vroeg vir vye. 14Sy dissipels hoor toe hoe Hy vir die boom sê: “Niemand sal ooit weer tot in ewigheid van jou vrugte eet nie!”

‘n Mens kan nou vra, of dit dan nie onregverdig van Jesus gewees het om die vyeboom te vervloek nie.  Dit staan tog daar baie duidelik geskryf:
MRK 11:13…want dit was nog te vroeg vir vye.

Dit was juis, glo ek, waarom Jesus die boom vervloek het.
Jy sien –
Die boom het aste ware verkondig:
“Dit is nie vye tyd nie maar ek is so ‘n goeie vyeboom, dat ek reeds vrugte het.

As God jou die gawe van genesing gegee het, leef dit uit tot Sy eer.
As God jou die gawe tot lering gegee het, leef dit uit tot Sy eer.
So moet dit wees met al die ander gawes.
‘n Perskeboom moet ook nie probeer om ‘n pruimboom te wees nie.
Dink net wat sal byvoorbeeld gebeur as ‘n wingerd skielik waatlemoene probeer dra.

Daar is ook na my mening gawes van die Gees wat deur toneelspel nagemaak kan word.
As ek God se Gees in my het, sal dit wys en nie noodwendig deur die spreek in tale nie maar verseker deur die vrugte wat ek dra.
Daarom is dit dan ook geen wonder nie, dat God in Sy Woord vir ons sê:

MAT 3:8 Wat nodig is, is dat julle lewe sal wys dat julle werklik die sonde laat staan het en na God toe gekom het.

‘n Ouer vertaling stel dit so.

MAT 3:8  Dra dan vrugte wat by die bekering pas.

Ek het ook ander dagstukkies oor die spreek in tale geskryf, wat my siening oor hierdie saak nog beter uitlig.
Ek stuur dit met groot liefde op aanvraag aan jou.

Ander dagstukkies waarin jy dalk mag belangstel wat ek oor hierdie onderwerp geskryf het is:
• Daar is gawes wat nuttiger is, as om in tale te praat
• Hy wat in ‘n taal spreek, stig homself
• Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees
• Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie

Groete,
Sakkie