DIE TIEN MAAGDE

DIE TIEN MAAGDE

Sakkie Parsons

In die gelykenis van Die Tien Maagde deel ons Here na my mening met twee soorte Christene:

Die een soort is hulle wat Jesus werklik aangeneem het as Verlosser en Saligmaker en die ander groep, wat as gevolg van die een of ander rede as Christene bekend wil staan, maar wat dit nie werklik ernstig met Jesus meen nie en daarom ook nie die vrugte van bekering dra nie.  Hulle het hoogstens soms ‘n beeld van Godsaligheid.

2TIM 3:5  Hulle sal optree asof hulle godsdienstig is, maar dit wat aan die Christelike godsdiens sy innerlike krag gee, ignoreer.  Jy moet wegbly van sulke mense af.

Omdat mense soms so dink en ek niemand onder ‘n verkeerde indruk wil bring nie, wil ek dit ook hier duidelik stel, voordat jy verder lees, dat daar is níks, heeltemal niks, wat ek fisies kan doen om die ewige lewe te verdien nie.  Die naaste wat ek aan iets doen, om dit so te stel, kan kom om die ewige lewe deelagtig te word, is om my hart se deur oop te maak en Jesus in te nooi as Hy daaraan klop.

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy My stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.

Met ander woorde ek moet Jesus Christus aanneem as my Verlosser en Saligmaker.

JHN 1:12  Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in Sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Hier dan volg die getuienis en lied wat in my hart opgekom het, op ‘n tydstip in my lewe toe ek in ‘n situasie gewees het, waar ek op ‘n gereelde basis met baie mense moes deel wat in die tweede groep van Die Tien Maagde geval het:

Die Tien Maagde:  Getuienis

Ek het in my lewe by verskeie Christene ‘n baie ontstellende ding teëgekom en dit is die volgende:

Party Christene sal jou laat verstaan dat, – ek het my bekeer en ek het my selfs laat groot doop, so my saak is reg en ek is op pad hemel toe.  Ek sê, dit is die regte ding wat jy gedoen het maar dit alleen sal jou nie by die Hemel se poorte laat uitkom nie.

Iemand anders sal dalk byvoeg dat, – jy darem nog in tale ook moet praat. Ek antwoord dan dat al sou jy die spreek in tale byvoeg en jou dan daarop beroep dat jy nou op pad na die Hemel is, slaan jy die bal geheel en al mis.

‘n Ander persoon sal dalk hier nog iets verder wil byvoeg en sê, – jy moet jou bekeer, laat doop, in tale praat en dan nog die werke ook doen.  Ja, nou moet jy gaan werk en siele vir God se Koninkryk inwin.  My antwoord is dat dit ook baie belangrik is maar, dat dit nog nie vir jou by die Hemel gaan uitbring nie.

Nog ‘n persoon sal dalk nog kan byvoeg, – dat die een ding wat jy nou moet byvoeg is dat jy ‘n goeie voorbeeld moet wees. Hierby verstaan party mense om die regte voorbeeld te stel moet jy heeltyd ‘n front voorhou, moet jy heeltyd die goeie Christen “show” op sit.

Jy sien, satan het deur hierdie redenasie vir mense voor te hou, ‘n menigte mense op die pad Hel toe gesit, terwyl hulle salig onder die indruk is dat hulle op pad Hemel toe is.

Ek wil graag vir jou twee uiterste gevalle noem van mense wat ek baie goed ken:

Ek ken ‘n man al ‘n hele paar jaar wat homself bekeer het en al die ander dinge gedoen het wat hy geglo het wat van ‘n mens verwag word om te doen.  Hy glo regtig dat hy op pad hemel toe is, tog doen hy baie oneerlike dinge.  As ek met hom daaroor sou praat dan sê hy net dat hy het ‘n geleentheid gesien en dit net gebruik.

In die ander geval het ‘n man se vrou,  by meer as een geleentheid, by ons kom skuiling soek omdat hy haar op die vreeslikste maniere mishandel het. Tog het hierdie man baie in die kerk opgestaan en getuig en selfs as diaken gedien.  As jy met hom gepraat het, het hy net gesê dat hy swak is maar dat sy saak met die Here reg is.

Hoor nou wat ek vir jou sê: Al het jy jou bekeer en al het jy jou laat doop en al spreek jy selfs in tale en al werk jy ook hoe hard vir die Here en al stel jy die mooiste voorbeeld vir die mense, kan jy nog steeds op pad Hel toe wees.  Want jy sien God sê in Sy Woord:

HEBREËRS 12:14
14 Jaag die vrede na met almal, en die Heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;

Ek kan miskien net ter onderskrywing van die versie wat ek nou net gekwoteer het, die een byvoeg:

2 KORINTIËRS 7:1
1 Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.

Jesus het die gelykenis vertel van Die Tien Maagde en Hy het gesê, jy kan olie hê maar jy kan dalk nie genoeg hê nie.  Ons kan nooit op hierdie aarde volmaak wees nie maar ons kan probeer om so na daaraan te kom as wat moontlik is.

Paulus sê van hierdie saak die volgende:

FILIPPENSE 3:12-14
12 Nie dat ek dit verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.
13 Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.
14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

Aan al hierdie dinge het ek gedink, toe gee ons Vader in Sy wonderlike liefde vir my hierdie lied:

Die Tien Maagde – Lied:

Vers 1
Tien maagde het eens opgestaan,
En vir mekaar gesê ons gaan.
Elk neem haar lampie en toe,
Gaan hulle na die bruilof toe.
Tien maagde hul was skoon en rein,
Van voorkoms glo ek mooi en fyn.
Maar dit het vir vyf niks gebaat,
Want hulle het te min olie gehad.
Hoe tragies as jy dit gaan lees,
Net vyf was toe gereed gewees.
En daai vyf is toe in na die maal,
En vyf het na die hel toe neergedaal.
Ja, vyf het na die hel toe neergedaal.

Vers 2
Party mense laat hulle doop,
En vestig daarop al hul hoop.
Party wil hul hier op verlaat,
Dat hulle selfs in tale praat.
Party bou als weer op hul werk,
Of op hul aansien in die kerk.
Maar luister mooi wat ek vertel,
Met dit als beland jy dalk in die hel.
Hier’s iets my vriend wat jy moet weet,
Moet heiligmaking nie vergeet.
Al sou jy God met jou als dien,
Sonder dit sal jy jou God nie sien.
Al sou jy God met jou als dien,
Sonder dit sal jy jou God nie sien.
Sonder heiligmaking Hom nie sien.

Mag dit vir jou ‘n heerlike dag wees.
                 
Groete,
Sakkie