DIE TYD VAN JESUS SE WEDERKOMS KAN NIE VOORSPEL WORD NIE

DIE TYD VAN JESUS SE WEDERKOMS KAN NIE VOORSPEL WORD NIE

‘n Dag of Datum kan nie aan Jesus se Wederkoms gekoppel word nie.

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra my, my opinie oor nuwe openbarings of profesieë, soos die een of ander groot katastrofe of wat ook al wat op die 23ste September 2025 gaan gebeur wat, om dit so te stel, die eindtyd gaan inlei, en dan gaan daar dadelik by my rooi ligte aan.

Enige iemand wat ‘n nuwe openbaring verkondig, of ‘n profesie gee oor die eindtyd en ‘n dag of ‘n datum of ‘n jaar ensovoorts daaraan koppel, moet met agterdog bejeën word, want wat hulle doen is onbybels.

Nie eens Jesus kon dit hier op aarde gedoen het nie.

So na my mening is so ‘n openbaring ‘n duidelike bewys, dat daardie persoon ‘n valse uitspraak maak. Met ander woorde ‘n leuen verkondig en elk een wat dit dan ook verder versprei en so verkondig, verkondig ‘n leuen en elke leuen wat op welke wyse ook geuiter word, het sy oorsprong by satan, So sê Jesus:

JHN 8:44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

As ek van sulke gerugte of openbarings, of wat die persoon dit ook al noem hoor en mense vra my:

“Wat nou?  Wat doen ek nou?” dan antwoord ek:

Doen wat jy nog altyd gedoen het en as jy dit nie nog altyd gedoen het nie, is nou die beste tyd om te begin naamlik:

Eerstens:

Sorg dat jou verhouding met ons Here reg is.

Met ander woorde maak seker, dat jy ‘n liefdesverhouding met Jesus het.

Baie mense weet van Jesus en baie mense glo selfs hulle ken vir Jesus – maar om te weet van Hom en ja, selfs om hom ook te ken, beteken nie ek het ‘n verhouding, dit is ‘n liefdesverhouding met Jesus en dat ek aan die anderkant van die graf saam met Jesus se Heilige Gees, wat in my vleeslike liggaam saam met my gewoon het, gaan arriveer nie.

Baie mense weet van my en baie mense wat van my weet, ken my ook – maar die meeste van daardie mense het nie ‘n verhouding, soos in ‘n intieme verhouding met my nie.

Baie mense het van Jesus geweet toe Hy hier op aarde Sy evangelie verkondig het en baie van hulle, selfs Sy vyande soos die Fariseërs en die Skrifgeleerdes het Hom geken – maar hulle het hierdie lewe uitgetree die hel in, dit is nou dié wie nie hulle saak met hom reggemaak het nie.

Jesus sê dan ook by geleentheid van hulle:

MAT 15:7  Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het:

MAT 15:8  Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.

Dan gaan Hy verder op ‘n ander plek en sê vir hulle wie van Hom weet en Hom ken:

MAT 23:32  Maak die maat van julle vaders dan vol!

MAT 23:33  Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?

MAT 23:34  Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg,

As daar nuwe openbarings of profesieë uitkom en daar datums, of selfs seisoene aan gekoppel word en ek hoor daarvan, gaan daar, soos ek ook reeds genoem het,  dadelik rooi ligte in my binneste aan.

Want nie eens Jesus – die Een wie uiteindelik gaan kom, het dit gedoen nie, nie eens een keer nie.

So, sê ek verder vir mense wat my van nuwe openbarings en tekens en dinge vertel, wat aan dae, maande, jare ens gekoppel word:

Sorg eerstens dat wat ek hier bo genoem het, in jou lewe ‘n werklikheid is en dan tweedens:

As jou saak met ons Here reg is, hou jou oë al die tyd stip op Jesus:

HEB 12:1-4 

 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,

2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

3  Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.

4  Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.

Want weet verseker, satan het nog altyd, en nou is hy nog baie meer intens besig om dit so te doen:

1PET 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek (veral kinders van ons Here) wie hy kan verslind.

1PET 5:9  Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.

Derdens:

Dan by dit alles moet ek onthou vir al in hierdie tyd wat ons lewe, wat my opdrag is en wat ek bo alles my missie in hierdie lewe moet maak naamlik:

MAT 28:18  En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.

MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

MAT 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Hoe doen ek dit?

Wel, sommige kan preek.

Sommige kan sing.

Sommige kan oral getuig en so kan ek aan en aan gaan maar nie almal van ons kan preek, of sing, of getuig ensovoorts nie.

Ons, Jesus se volgelinge het egter almal een ding in gemeen –

Ons lewe en nie net lewe ons nie, ons sê, ons is kinders van ons Here.

Wel dan –

Laat ons lewe vir die mense preek en sing en getuig ens.

As ons kinders van ons Here is, laat die mense deur en in ons die familietrekke van ons Vader sien en hulle dan ook wil hê wat ons het.

Een ding wat nié by ons, wie Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker behoort gevind te word, as ons al hierdie dinge hoor wat mense soms sommer so los en vas oor die sosiale netwerke versprei nie – en die meeste van die gevalle sonder om eers seker te maak of daar waarheid in steek.  Ja, of die bronne geloofwaardig is, is vrees:

ROM 8:14  Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.

ROM 8:15  Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!

Daarom, prys die naam van ons Here Jesus Christus, sien ons reikhalsend, met opgewondenheid – en nie vrees of ander negatiwiteit in ons harte nie – uit na die toekoms en wat daar vir ons wag.  Want Jesus ons Verlosser en Saligmaker sê vir ons, Sy kinders:

OPG 22:12  En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.

OPG 22:13  Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.

Sorg dat die drie punte wat ek hier bo vir jou uitgewys het ‘n werklikheid in jou lewe is, en jy sal nie dit nodig vind om aandag aan allerlei openbarings, profesieë en wat hulle dit ook al noem wat dae, maande, jare en selfs seisoene gee wanneer dit gaan gebeur nie.

Jy sal te heerlik besig wees om jou doel hier op die aarde te vervul en so ‘n seën en ‘n lieflike geur vir ons Here te wees:

2KOR 2:14  Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei.

2KOR 2:15  Want ons is n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan;

Groete,

Sakkie