DIE VERSKIL TUSSEN PROFESIE EN WAARSÊERY

DIE VERSKIL TUSSEN PROFESIE EN WAARSÊERY

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra my onder andere:

“Ek wil ook weet wanneer is profesie ‘n sonde, en wat is die verskil tussen profesie en waarsêery?“

Hier is dan hoe ek hierdie saak verstaan en in my eie lewe hanteer:

Die een groot sekerheid wat ek in hierdie verband het, is dat elke profesie in die Woord vir ons, van ons Here af kom en geheel en al betroubaar is.  Hoe wonderlik heerlik om te weet:

2TIM 3:16  “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek.
2TIM 3:17 Dit is God se manier om Sy mense voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen.”

Een ding is egter vir my van waar ek staan en kyk baie duidelik:
Daar is vandag amper net soveel, indien nie meer  valse profete, evangeliste, herders, leraars, geloofsgenesers ens, as wat daar Heilige Gees gevulde profete, evangeliste, herders, leraars, geloofsgenesers ens, is.
Wat ek nou gaan sê, sê ek oor profete en hulle profesieë omdat ek daarna gevra was maar dit kan na my mening op enige van die bogenoemde van toepassing gemaak word.
Profesie is natuurlik sonde wanneer dit nie van ons Here kom nie maar uitgemaak word, as of dit van ons Here kom.  Dit is valse sonde.
Daar is vandag ‘n legio van hierdie bose mense en hoe hartseer dit ook al is, maak dit my ook opgewonde.  Want een van die profesieë van die Woord oor die koms van ons Here, wat deur Jesus self gemaak is, is juis dat daar baie van hierdie mense sal wees:

MAT 24:11-14
11 Daar sal ook talle vals profete verskyn en hulle sal baie mense (nie almal nie, so jy hoef nie een van die talle te wees nie), op ‘n dwaalspoor bring.
12 Die sonde sal sodanig toeneem (‘n groot deel van hierdie sonde, is die vérválsing van die Evangelie), dat baie se liefde sal afkoel.
13  Maar elkeen wat enduit volhard, sal gered word.
14 Hierdie goeie nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom.

MRK 13:22  “Daar sal baie valse messiasse en profete na vore kom.  Hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik sou wees, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei. 
MRK 13:23  Wees op julle hoede.  Ek het julle vooraf oor alles gewaarsku.”

Die enigste manier om hierdie mense te sien vir wat hulle is en nie deur hulle boosheid mislei te word nie, is om ‘n intieme liefdesverhouding met Jesus te hê en seker te maak dat jy ‘n baie, baie goeie kennis van die Woord het.

Laat ek demonstreer:
As ‘n sogenaamde profeet by my kom en vir my profeteer dat Jesus op 31 Mei van hierdie of daardie jaar gaan kom, gaan ek dadelik weet dat hy ‘n valse profeet is.
Hoekom sal ek dit weet?
Want vanweë die kennis wat ek van die Woord het, weet ek, dat Jesus self in Sy Woord vir ons laat skryf het:

MAT 24:36-42 
36 Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele of selfs die Seun nie.  Dit weet net die Vader.
37  Wanneer Ek, die Seun van die Mens, verskyn, sal dit gaan soos in die tyd van Noag.
38  Destyds, voor die groot vloedwater gekom het, het die mense soos gewoonlik voortgegaan om fees te vier en oor en weer te trou, selfs nog totdat Noag in die ark ingegaan het.
39  Hulle het eers bewsef wat aan die gang was toe die vloedwater kom en hulle almal verswelg het.  Net so sal die koms van die Seun van die Mens wees.
40  Twee persone al saam op die land werk.  Die een sal saamgeneem word en die ander een sal agtergelaat word.
41  Twee vroue sal saam by die meul koring maal.  Die een sal saamgeneem en die ander een sal agtergelaat word.
42  Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie.

Nog ‘n voorbeeld:
Nou eendag lees my vrou vir my van ‘n man wat beweer dat ons Here vir hom gewys het wat gebeur met ‘n duiwel as die duiwel deur iemand uit iemand anders uitgedryf word.
Hy sê dat ons Here vir hom gewys het, dat so ‘n duiwel wat uitgedryf is, dan heeltemal versteen.
Dadelik kon ek vir my vrou sê, dat die man ‘n valse getuie van die evangelie is.
Hoekom kon ek dit sê?
Want ek het vanweë die kennis wat ek van die Woord het, geweet, dat daar vir ons byvoorbeeld onder andere oor duiwels, of dan onrein geeste, in die Woord  geskryf is.

MAT 12:43-45 
43 “Wanneer ‘n onrein gees uit ‘n mens gaan, swerf hy deur dor plekke op soek na ‘n rusplek, maar hy kry dit nie.
44  Dan sê hy:  ‘Ek sal teruggaan na my vorige blyplek.’  Wanneer hy gaan, kry hy dit onbewoon, uitgevee en netjies aan die kant.
45  Daarna gaan neem hy sewe ander geeste, slegter as hyself, saam met hom en trek in daardie persoon in.  Uiteindelik sal dit met daardie mens baie slegter gaan as aan die begin.  Dieselfde sal gebeur met die slegte mense van vandag.”

So met die tong in die kies, daar is nie eens sprake van ‘n effense styfheid in die beweging van die uit gedryfde duiwel van wie jy nou gelees het, wat Jesus self ons van vertel nie.

Iemand vertel my ook eendag, dat iemand wat waarsê vir haar vertel het, dat die persoon altyd bid en vir leiding van ons Here vra en dit natuurlik ook kry en sodoende jou fortuin, wat die persoon dan konsuis  by ons Here gekry het, kan vertel.

Wat ek nou sê, sê ek met al die respek wat ek vir ons Here het maar ek wil dit sterk stel, sodat jy dinge kan sien vir wat dit is.
Of die waarsê wat daardie uitlating gemaak het praat nie die waarheid nie, of ons Here vertel ons oor en oor in Sy Woord om dit nié te doen nie en dan help Hy sommige van ons om tog juis dit waarin Hy ‘n afsku het te doen.
Nou moet jy maar self besluit wie is die oneerlike een.
Ek het gesê, dat ons Here ‘n afsku in hierdie soort ding het en ek sal dit netnou vir jou wys as ek twee van die talle voorbeelde uit die woord kwoteer, naamlik LEV 19:31 en LEV 20:6,7.   

Wat is die verskil tussen profesie en waarsêery?

Ware profesie is soos ek dit sien, altyd Heilige Gees geïnspireerd en is daarom nooit in konflik met die Woord nie.

Waarsêery is om mee te begin altyd in konflik met die Woord, omdat ons Here ons ten sterkste afraai om iets daarmee te doen te hê en wanneer ons Here ons afraai om met sulke dinge iets te doen te hê, sê Hy ook onmiddellik daarna vir ons, na wie ons eerder moet gaan –
Na Hom natuurlik, want Hy is die Here ons God.

LEV 19:31  “Moenie op geeste en waarsêers vertrou nie, want hulle sal jou onrein maak.  Ek, die HERE, is julle God.

LEV 20:6  As iemand onder die volk ontrou is deur geeste of waarsêers te raadpleeg, sal Ek teen hulle optree en hulle afsny van die gemeenskap.
LEV 20:7  Sonder julleself af om heilig te wees, want Ek, die HERE, is julle God.

Dit het ook in baie gevalle gewoonlik as vertrekpunt die een of ander ritueel, hoe eenvoudig ook al.  Soos om byvoorbeeld na jou handpalm, of in ‘n koppie na teeblare, of in ‘n kristalbal te staar, of om in ‘n trans te gaan.  Iemand het die spesifieke trans waarin hulle gaan eendag so omskryf,. “ They go in to a stupor.”

Die bron/oorsprong van die waarsêery kan natuurlik ook soos ek die Woord verstaan, nooit as vertrekpunt ons Here hê nie maar altyd iets soos byvoorbeeld die sterre, of iets en vir al vir daardie ietse, skut ek maar net my kop.

Ten slotte:
Omdat daar veral deesdae so baie valse profete, evangeliste, herders, leraars, ens, in omloop is, is dit vir my heerlik gerusstellend om te weet en daarom bepaal ek al my aandag net daarby en dit is die Woord.
Want Jesus maak dit baie duidelik in die verhaal van die ryk man en Lasarus, dat ek:  “If it is all set and done,” niks meer nodig het as dit nie en dat as ek Jesus nie wil volg nie, niks my daartoe gaan beweeg nie, nie eens as iemand uit die dood na my kom en sê dat ek my moet bekeer nie.

Soos al die, na my mening, tekens en foefies wat hierdie mense ook al gebruik, sal dit my hoogstens vir ‘n tyd, om dit so te stel, imponeer.

Lees hier, terwyl jy onthou,  dat dit is Jesus, die enigste Persoon wat ooit op aarde geloop het, wat in diepte kennis van hierdie soort ding het, wat ons hierdie verhaal vertel.
Hou ook in gedagte, dat Moses en die Profete wat hier van gepraat word, destyds die hele Woord gewees het.  Die Nuwe Testament wat deel van Moses en die Profete, na Jesus se Hemelvaart onder leiding van die Heilige Gees geword het, moes tydens die vertelling van hierdie verhaal nog geskryf word.

LUK 16:27-31 
27 En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur—
28  want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.
29  Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.
30  Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.
31  Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

As jy die riglyn wat Jesus hier neergelê het volg, kan jy nie verkeerd gaan nie.

Groete,
Sakkie