DIE VROU SE POSISIE IN DIE KERK IN GEHOORSAAMHEID AAN DIE WOORD

DIE VROU SE POSISIE IN DIE KERK IN GEHOORSAAMHEID AAN DIE WOORD

Die vrou mag nie oor die man heers of gesag uitoefen nie – 1TIM 2:12

Sakkie Parsons

Iemand het aan my die volgende vraag gestuur en ek haal dit presies aan soos dit aan my gestuur is:
“Kan jy my asb sê uit die Woord uit wat is jou standpunt van vroue wat onderrig gee in die kerk van Christus?”

Ek is so dankbaar dat die persoon my gevra het dat ek uit die Woord uit moet wys hoe ek hierdie saak sien, want die Woord/Bybel is in elk geval al wat ek tasbaar het.  Dit en natuurlik die leiding van die Heilige Gees.

Ek wil tog asseblief in my antwoord nie sê dat mense wat anders glo en selfs doen, nou op pad hel toe is nie. Paulus het by geleentheid gesê:
1KOR 12:31  “Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle ‘n nog uitnemender weg. “

Ek glo, maar besluit jy self, dat ek wat hierdie saak aanbetref, ‘n meer uitnemender weg ken en dit is gehoorsaamheid.
Ek glo, hoe verder jy van die Woord se voorskrifte wegbeweeg, hoe swakker is die materiaal waarmee jy bou. Onthou as jy my antwoord lees, dat die Woord vir ons in hierdie verband sê:

1KOR 3:11-15 
11 “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
12  En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—
13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”

Dan –
‘n Vrou wat byvoorbeeld ‘n pastoor of herder in ‘n gemeente is – al wil jy niks anders in berekening bring nie – het ten minste in die gemeentelike opset gesag oor haar man en onthou ook dat goeie voornemens nou wel baie wonderlik is, maar gehoorsaamheid is by verre die beste:

1SAM 15:22  “Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.
1SAM 15:23  Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. …

Ek sê verseker nie dat ‘n vrou nie mag preek nie. 

Jy en almal wat hier lees wie ‘n kind van ons Here is, mag preek en met ons deel wat ons Here jou gegee het om met ons te deel.

Maar in die gemeente mag ‘n vrou nie ‘n amp beklee, wat haar agter die kansel, vanweë haar amp, gesag oor haar man en ander mans in die gemeente wat voor haar sit, gee nie.  Want Christus is die hoof van die kerk en die man is die hoof in die huis en hierdie wyse van leef vir die Christen, spoel oor tot in die gemeente in ‘n diens en alle ander fasette van ons Christelike lewe.

Voordat ek uit die Woord my siening verduidelik, laat ek sonder om doekies om te draai, sê dat ek nie glo ‘n vrou mag byvoorbeeld ‘n pastoor of dominee se status, of dan gesag  in die gemeente hê nie.
Dit is ook werklik nie ‘n chauvinistiese ding nie.  Vir my is die heel mooiste in ons Here se skepping, ‘n Christen-vrou wat haar Christelikheid uitlewe en ek daag enige iemand uit om my iemand mooier as dit te wys, en ek praat natuurlik nie van die uiterlike nie.  (Dit kan ek in elk geval nie sien nie.)

So, laat ek verduidelik hoe ek hierdie saak verstaan:

Jesus het elke keer as satan Hom versoek het gesê: “Daar is geskrywe.”
So –  ek sal ook dan maar sê: Daar is geskrywe – en dit nogal deur die man wat ons Here vertrou het om die grootste deel van die Nuwe Testament te skryf:

1TIM 2:12  “Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, …”

Ek glo met my hele hart dat, om dit so te stel, dat Jesus tot op die sekonde, op die regte tyd gekom het. Ons Vader het alles, maar alles, presies 100% beplan, uitgevoer en in plek gehad vir Sy Seun se koms.
Laat ek ‘n paar voorbeelde gee van wat ek bedoel:
Kom ons gaan byvoorbeeld so ‘n bietjie terug in die geskiedenis voor Jesus se koms, tot by Alexander die grote:
‘n Jong man staan op en verower die hele, vir daardie tyd beskaafde wêreld, en ‘n groot deel van die onbeskaafde wêreld en oral waar hy gaan, laat hy die Griekse alfabet agter en die hele wêreld kan lees en skryf.
Toe groei ‘n gehuggie tot die magtigste stad in die wêreld en terwyl Rome die Grieke en al die ander volke oorwin, bou hulle van die beste paaie in die wêreld en so kon die Evangelie geskryf en oor paaie, wat oor die hele wêreld loop, geneem en aan almal gegee word om te lees, maar nie net gee hulle vir die mense goeie paaie nie, hulle bring ook hulle kultuur, en deel van hierdie kultuur is teregstelling deur kruisiging.
Nou het jy die Griekse alfabet. Jy het die Roomse paaie en die kruisiging-kultuur, saam met die Joodse-kultuur met al sy gebruike, die gebruike wat in die Nuwe Testament vir ons as Christene deur Jesus en die apostels voorgehou word en siedaar! Ek verstaan wat ek lees, as ek lees:

GAL 4:4  “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur.."

As ons Here iets uit die kultuur van destyds, toe die volheid van die tyd aangebreek het, gebruik en vir my in Sy Woord sê, dat ek so moet lewe, wel, dan sê ek:
“Prys die Here!” Dan probeer ek na die beste van my vermoë om so te lewe.

So van kulture gepraat. Nou het daar mos ‘n kultuur in die kerk ontstaan, of sal ek sê, die kultuur het in baie denominasies in die kerk ontstaan, om iets soos die volgende te verkondig:
“Tye het verander.  Destyds toe die volheid van die tyd aangebreek het, het hulle dinge so gedoen maar ons hoef dit nie meer vandag te doen nie, al staan dit in die Woord, dat ons dit moet doen, want ons leef in ‘n ander tyd en tye het verander.”

In hierdie verband wil ek begin deur die volgende uit die Woord te kwoteer:

2TIM 3:16  “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome”

ROM 15:4-6 
4 “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
5  En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus,
6  sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.”

Luister my vriend, luister my vriendin:

HEB 13:7-9 
7 “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.
8  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
9  Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; …”

Hierdie Jesus wat nooit verander nie, wat gekom het toe die tyd in alle opsigte presies reg was. Ja, toe al die kulture ook net reg was om ons alles te leer omtrent die Evangelie wat ons moet weet en wat ons moet doen. Vanaf die teregstelling deur kruisiging-kultuur, tot by die kultuur waaroor Paulus met die Griekse alfabet geskryf het, het nie verander nie. Hy het nie verander nie en Sy Evangelie het ook in geen opsig verander nie, net die mens het verander en onder andere in sy boosheid net nog meer booshede uitgedink.

Dit is maar net ‘n paar voorbeelde maar alles, letterlik alles, was na my mening, presies reg om die Evangelie te verkondig soos wat die Evangelie verkondig moes word. Hoe kon dit ook anders? Was dit dan nie ons Here self, wat die beplanning en uitvoering van die begin van die verkondiging van die Evangelie gereël het nie?

GAL 4:4  “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God Sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, …”

As ons Here selfs die alfabet en die paaie gereël en in plek gehad het toe die volheid
van die tyd aangebreek het, en ek sê dit met al my respek vir Hom, maar om te wys hoe belaglik dit is om so te redeneer:

Sou Hy dan dalk vergeet het om die regte kultuur in plek te hê?

Nee! ‘n Duisend maal nee!

Die regte kultuur was op die regte tyd, in die regte deel van die wêreld volmaak in
plek om ons Here se skrywers te help, om Sy Woord presies vir alle tye reg te skryf.

So is dan die hele Woord soos byvoorbeeld met die alfabet, toe die volheid van die tyd gekom het, vir ons presies volkome vir alle tye gegee en daarom lees ek ook:

2TIM 3:16  “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Ek lees ook in die Woord:

HEB 13:8  “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
HEB 13:9  Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie;”

As Jesus nie verander nie, en ek my nie moet laat rondslinger deur allerlei leringe nie – Waar kry ek die reg om iets uit Sy Nuwe Testament, wat Hy vir my opgestel het, te
      neem en te verkondig dat dit nie meer vir vandag geld nie?

Kom ek stel die vraag nog beter:
Van wanneer af mag iemand iets uit iemand anders se testament neem  en sê, dat dit wat daar geskryf staan nie meer in daardie testament hoort nie? – En dan praat ons nogal van die alwetende alwyse GOD se Testament.

Veral as ek by dit alles, nog ook onthou:

1PET 1:25  maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.” “

Die kerk het oor die jare al hoe meer dinge uit die Evangelie geneem, asof dit nie meer vandag van toepassing is nie, en daarom het die kerk ook na my mening, al hoe
swakker geword, want ons wil die Evangelie verkondig omdat ons mense se ore wil streel en al wat ons doen is, ons verswak die kerk en maak selfs Jesus in die naam van ons soort evangelie, Hom en Sy Evangelie bespotlik in die oë van die wêreld.

Daarom dan is dit ook dat dit al vandag selfs deur sogenaamde groot teoloë verkondig word dat die maagdelike geboorte van Jesus nie waar is nie en dat Hy ook nie uit die
dood opgestaan het nie.

Toe die kerk begin het om na die Woord te wys en te sê hierdie en daardie geld nie meer vir vandag nie, het die kerk die weg oopgemaak vir enige een om uit te haal wat
hom of haar nie pas nie. Geen wonder dat daar in die Woord ook geskryf is:

2TIM 4:3  “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
2TIM 4:4  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”

Die mense wat ons Here gebruik het om die Nuwe Testament wat Hy vir ons opgestel het, te skryf, was net die instrumente in Sy hand. As’t ware, die penne waarmee Hy geskryf het.
Om nou te beweer dat hierdie of daardie nie meer vandag op my, Sy kind, van toepassing is nie, gee na my mening, te kenne dat ons Here nie die omstandighede van vandag kon insien nie. Dit – na my mening – plaas ‘n limiet op die Almag en Alwetendheid van ons Here en vir my, persoonlik, lyk dit na Godslastering.

So, my vriend/vriendin, daar staan dit vir ons geskryf:
1TIM 2:12  “Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, …”

Paulus, aan wie ons Here die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het, skryf dan ook verder by ‘n ander geleentheid:

GAL 1:6-9 
6 “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe,
7  terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.
8  Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!
9  Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”

Ek hoop nie dit klink verwaand nie, maar ek wil jou vra om die Woord te lees, lewe en te verkondig soos wat ek poog om dit te doen. Ek lees die Woord soos ‘n kind dit sou lees. Ek probeer nie iets inskryf wat daar nie staan nie, en ek besluit ook nie dat hierdie of daardie in ons Here se Nuwe Verbond met die mens, nie meer vandag van toepassing is nie. As ons dit so kinderlik lees, dan doen ons in elk geval wat Jesus sê dat ons moet doen:

MRK 10:15  “Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

As die kruisiging-kultuur, wat in plek was toe die volheid van die tyd aangebreek het, nog volgens Jesus vandag op my, Sy dissipel van toepassing is:

LUK 14:27  “En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan My dissipel nie wees nie.”

Wel, dan is al die ander gebruike uit die kulture van daardie tyd wat in plek was, toe die volheid van die tyd aangebreek het, wat deur die Woord van ons Here, op Sy kinders van toepassing was, verseker nog vandag op my, Sy kind van toepassing.

Diegene wat so willekeurig, eiemagtig, aan dit wat in die Woord geskryf staan verander om of hulle soort evangelie te pas, of om die mense met wie hulle te doen kry tegemoet te kom, kan ook gerus weer kyk na 2 Johannes 1:9:

2JOH 1:9  “Elkeen wat die leer aangaande Christus verander, het nie deel aan God nie. Wie in 'n hegte verbintenis met dié leer leef, het deel aan die Vader en die Seun.”

Watter verweer wat krag het, het die mense, wat hierdie of daardie uit die Woord haal, “omdat tye verander het,” as ek byvoorbeeld sou verkondig en mag ons Here my help, dat ek nooit eens in daardie dwase rigting sal dink nie.

Daar staan geskrywe:

HEB 10:25  en laat ons, ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, …

Sommige mense sê:

"Tye het verander.
Ons is vandag baie besiger as die mense destyds maar nou het ons internet, radio, TV en
selfone.
Die lewe is nou so gejaagd, dat ons nie meer Sondae onderlinge byeenkomste hoef by te woon nie, die lewe is te gejaagd maar nou kry ons evangelie te heerlik op ‘n daaglikse basis deur internet, radio, TV en selfone.  So gebruik die naweek om uit te rus vir die week wat voorlê, daarvoor het ons Here ons die nuwe tegnologie gegee en tye het mos verander.  Hulle het dinge destyds so gedoen, omdat hulle nie internet, radio, TV en selfone gehad het nie en nie anders kon nie."

Ek sê weer, mag ons Here my bewaar van hierdie soort verkragting van die evangelie van Jesus Christus se evangelie.
Ek, met my menslike verstand het verseker nie al die antwoorde vir dit wat in die Woord geskryf is nie, maar ek weet wat dit beteken om gehoorsaam te wees. Glo my as ek vir jou sê dat gehoorsaamheid is vir ons Here baie meer aanvaarbaar as ongehoorsame diens.

1TIM 2:12  “Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, …”

Laat ons susters in die kerk asseblief studeer en preek ensovoorts – maar laat ons gehoorsaam bly wat ampte aanbetref, aan die Woord, soos ons dit in die Nuwe Testament wat Christene aanbetref, kry. 
Met ander woorde suster, moet nie op jou amp leun as jy ‘n dienares, soos ek ‘n dienaar, in die gemeente is nie.
Christus is die hoof van die kerk en die man is die hoof in die huis en ‘n vrou mag ook nie oor hom heers in die gemeente opset nie.

Dit is ook insiggewend dat die meeste van dinge wat die mens vandag uit die Nuwe Testament haal of verander, is wat Paulus geskryf het (aan wie ons Here die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het), wat ons Here vir die Christen laat skryf het om haar en hom te help op hulle pad hemel toe.

Onthou asseblief, wil ek weer beklemtoon

Ek sê nie ‘n vrou mag nie die Woord bring in die gemeente nie.

Die heel eerste, om dit so te stel, reddende boodskap wat ooit volgens die evangelie van Christus na Sy kruisiging gebring was, was deur ‘n vrou.

Onthou jy?

MRK 16:9  En nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdaléna, uit wie Hy sewe duiwels uitgedryf het.
MRK 16:10  Sy het gegaan en dit vertel aan die wat saam met Hom gewees het, terwyl hulle treur en ween.

Ek sê wel, die vrou soos ook die man, ja, soos almal wat die Evangelie van Jesus verkondig en uitlewe, moet dit doen soos wat dit in die Woord vir ons geskryf is om te doen.

Ek het ‘n ander 'Gedagte uit die Woord' geskryf met die naam: “Ses redes waarom ons Paulus baie ernstig moet opneem.”

Ek stuur dit graag op aanvraag aan jou.

Groete,
Sakkie