DIE OORSPRONG VAN LEUENS IS VAN SATAN – MOENIE DAT HY JOU VERLEI MET GOD SE WOORD NIE
Kwoteer GOD se Woord wanneer die vyand dit wil verdraai om jou te verwar of te verlei.
Sakkie Parsons
Na aanleiding van ‘n vraag wat iemand nou weer aan my gestuur het, voel ek gelei om net weer met jou te deel oor hoe die Woord deur mense en soms van die kansels af verdraai word. Soms deur onkunde en soms gewoon net uit boosheid om hulle eie soort evangelie te laat reg lyk.
Een so ‘n verdraaiing van die Woord wat ek in hierdie reeks met jou wil deel, is leuentaal.
Vanaf die begin het satan mense probeer mislei deur God se Woord te verdraai.
Want hy ken die Skrif so goed soos baie van ons en beter as die meeste van ons en gebruik dit slinks slim om twyfel te saai, sonde te verskoon en mense van God se waarheid af weg te lei. Sy taktiek bly dieselfde vandag soos daar in Eden. Ja, hy meng leuens met net genoeg waarheid om dit aanvaarbaar te laat klink.
Ek wil in hierdie skrywe met jou deel oor – en daar is herders wat dit verkondig. Ekself ken so ‘n herder persoonlik, wat verkondig – dat ‘n mens soms mag lieg.
Lieg, of dan leuentaal was natuurlik ook die heel eerste van die bose maniere wat satan teen die mens gebruik het om die mens te laat sondig.
Die satan het daar aan die begin God se Woord net so effe verdraai en van toe af tot vandag toe, kry hy dit reg, dat daar kort-kort iemand êrens opstaan met ‘n nuwe openbaring en of insig om ons Here se Woord net so effe te verdraai, net genoeg om nog ‘n valsheid die kerk in te bring, wat mense, ja selfs van die kansel af verkondig.
So kom ek deel met jou, sodat jy sy modus operandi kan sien waarmee hy begin het en wat die begin was van die gemors waar in die mens, vanweë sy gehoorsaamheid aan satan, vandag homself in bevind.
Ons lees:
GEN 2:16 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, (hou dit goed in gedagte)
GEN 2:17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
Nou kom satan met sy verdraaiing – sommige mense sal dit ‘n wit leuen noem, en hy vra vir Eva:
GEN 3:1 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?
Die satan wou net ‘n opening tot Eva gehad het – en toe sy in gesprek met hom tree, was sy, om dit so te stel, gedoem.
Jy is ‘n verloorder nog voor jy begin het, as jy enige kontak met satan, van watter aard ook al toelaat in jou lewe.
Terwyl ons nou oor satan se leuen praat, deel ek ook sommer met jou die eerste verdraaiing van die Woord wat ek al in my lewe van meer as 52 jaar vir ons Here werk mee te doen gekry het en dit is, dat ‘n mens soms mag lieg, of ook ‘n wit leuen mag vertel en dan gebruik hulle die volgende voorbeeld wat belydende Christene al teenoor my gebruik het, om aan te toon, dat ons Here ons die reg gee om soms te lieg.
Die koning van Egipte het vir die vroedvroue van Israel gesê, dat hulle alle Israeliese seuntjies wat gebore word moes doodmaak en dan lees ons:
EXO 1:17-20
17 Maar die vroedvroue het God gevrees (want God het gesê “jy mag nie doodslaan nie”) en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe.
18 Toe laat die koning van Egipte die vroedvroue roep, en hy sê vir hulle: Waarom het julle dit gedoen en die seuntjies laat lewe? (en dan lieg die vroedvroue)
19 En die vroedvroue sê vir Farao: Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese nie, want hulle is sterk—voordat die vroedvrou by hulle kom, het hulle al gebaar.
20 Maar God het aan die vroedvroue weldadigheid bewys. (nie omdat hulle gelieg het nie, maar omdat hulle nie massamoord gepleeg het nie)
God haat sonde. En nie alleen is lieg sonde nie maar soos ek die Woord verstaan, om dit so te stel, haat God om te lieg met ‘n passie.
Oordink die volgende gedeeltes uit die Woord en dan besluit jy of God wat nie kan lieg nie, soms leuens sal onderskryf.
Ons Here sê aan die Israeliete: en soos ek jou sal wys, dit word ook voortgesit in ons Here se Nuwe testament wat Jesus vir ons opgestel het:
LEV 19:11 Julle mag nie steel nie, en julle mag nie lieg nie, en julle mag die een die ander nie bedrieg nie.
LEV 19:12 En julle mag nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die HERE.
SPR 6:16-19
16 Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ‘n gruwel:
17 trotse oë, ‘n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,
18 ‘n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,
19 een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.
Het jy gesien wat jy nou gelees het?
Ons Here noem ‘n klompe dinge wat Hy haat – en lieg, of dan leuentaal, kom twee keer voor. Asof ons Here vir ons sê:
Hierdie dinge haat ek maar lieg of dan leuens, haat ek twee keer so erg.
Hoekom?
Wel dit is baie duidelik uit die Woord.
Elke leuen wat ek vertel het sy ontstaan by satan en as ek leuentaal praat, praat ek wat satan uit sy bose hart my gee en ek aste ware, met danksegging aan satan aanvaar.
Dit is Jesus wat hier praat en Hy praat hier met mense wie aanhoudend met leuens en skelmstreke probeer om Hom iets te laat doen of sê, dat hulle Hom gevange kan laat neem:
JHN 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af (reg daar van die tuin van Eden af) en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. (dit is van leuens en alles wat daarmee gepaard gaan)
Ek kon nog baie in hierdie verband geskryf het maar ek deel nog hierdie een uit ons Here se kosbare Woord met jou:
KOL 3:9 Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het
KOL 3:10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper, (laat ons nie die beeld van ons Skepper ‘n bespotting voor satan en in die oë van die mense maak nie)
Soos ek al baie in die verlede gesê het, deel ek nou weer ten slotte met jou van hoe ons die verdraaiings in ons Here se kosbare Woord kan raaksien.
Die eerste is, om so na aan die Woord van ons Here te leef as wat ons kan kom.
Want so gaan jy ons Here se Woorde beter kan hoor midde in die woeste bose sonde-wind wat gedurig om ons woed – en gaan daar nie sommige woorde van wat ons Here graag met jou wil deel in daardie woeste bose wind om ons vir jou verlore gaan nie.
Die tweede wat jy met groot êrens moet doen, is om te oefen en so goed in oefening te bly met die enigste wapen wat ons Here jou gegee het om onder die leiding van die Heilige Gees teen satan te kan gebruik –
Dit is die Woord van ons Here.
Ons lees:
EFE 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—
Jesus self het ons gewys hoe ons ons wapen/swaard/die Woord teen satan in die geloof moet gebruik en hoe effektief dit dan is:
MAT 4:3-11
3 En die versoeker het na Hom (dit is Jesus) gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.
4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
5 Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan
6 en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.
7 Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.
8 Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid,
9 en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.
10 Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.
11 Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.
So, kom ons maak seker, dat ons behendig met ons swaard die Woord is, deur die Woord gedurig te lees, om satan te kan weerstaan, want dan soos Jesus vir ons die voorbeeld gestel het, sal satan van ons af weg vlug:
JAK 4:7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.
Hoe weerstaan ek die duiwel?
Met die Bybel – die Woord van GOD, net soos Jesus, kwoteer ek die Woord wanneer die vyand my met daardie selfde Woord wil verlei deur dit te verdraai. (MAT 4:3-11)
Groete,
Sakkie