Die Vyeboom

Skrywer en Komponus:  Sakkie Parsons

Ek het lank op ‘n kerkraad gedien en ek het gesien hoe mense sogenaamd vir ons Here werk maar eintlik doen van hulle dit wat hulle doen net vir hulself, om byvoorbeeld, deur die mense geëer te word.

Toe sien ek eendag iets in die verhaal van die verdorde vyeboom, wat my so aan- gegryp het, dat ons Here my gehelp het en ek selfs ‘n lied daaroor geskryf het.

Laat ek gou met jou deel wat ons Here my laat sien het:

MRK 11:12-14 Toe hulle die volgende dag uit Betanië vertrek, het Jesus honger geword.
13Toe Hy uit die verte ‘n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan om te kyk of Hy enige vye daaraan sou kry.  Maar toe Hy by die boom kom, kry Hy niks meer as blare nie omdat dit nog te vroeg in die seisoen vir vye was. 14Hy spreek die boom toe aan:  “Mag niemand ooit weer ‘n vrug van jou eet nie!”  Sy dissipels het gehoor wat Hy sê.

Die eerste wat my hier getref het, is dit:
Dit lyk dan so of Jesus hier baie onregverdig optree, want daar staan dit op wit en swart –

MRK 11:13 ..Maar toe Hy by die boom kom, kry Hy niks meer as blare nie omdat dit nog te vroeg in die seisoen vir vye was.

Jy sien, dit was juis die groot aanklag teen die vyeboom.
Dit was nie vye tyd nie maar die vyeboom het verkondig, deur al die blare wat hy aan hom gehad het.
“Dit is nie vye tyd nie maar ek is ‘n besondere Vyeboom, ek het vye, ten spyte van die feit dat dit nie vye tyd is nie.”

So gee baie mense voor dat hulle is wat hulle nie is nie.
Met ander woorde baie mense lewe ‘n leuen en dit selfs in die kerk, ja selfs tot op die kerkraad en tot op die preekstoel.
Jesus soek egter nie bome met baie lower wat mooi vertoon nie. Jesus soek bome wat vrugte dra.
Wat meer is – Hy waarsku ons teen bome wat net ‘n mooi vertoon van blare het. Hy sê, ons moet op die uitkyk wees vir sulke bome en dat sulke bome baie gevaarlik is.

MAT 7:15-16 “Pas op vir die vals profete.  Op die oog af lyk hulle soos onskuldige lammetjies, maar in werklikheid is hulle gulsige wolwe.

Kom ek en jy doen wat God se Woord in hierdie verband vir ons sê.

MAT 3:8 Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het.

‘n Ouer vertaling stel dit so.

MAT 3:8 Dra dan vrugte wat by die bekering pas.

MAT 7:18-21 “‘n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra en ‘n siek boom goeie vrugte nie.
19Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 
20So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.
21Nie almal wat ewe vroom vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie.  Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.”

Hier volg dan nou die lied wat ons Here my gegee het se woorde.

DIE VYE BOOM

Vers 1
Ek kyk in my gedagtes, ek sien ‘n vye boom staan.
In ‘n dorre semi woestyn streek en ek sien Jesus na hom toe gaan.
Sien jy ook in jou gedagtes en lyk die prentjie nie mooi.
‘n Vye boom vol groen lower wat ‘n baie mooi skaduwee gooi.

Vers 2
Ek sien Jesus by hom staan, Hy soek daar rond vir ‘n vrug.
Maar wat sien ek nou daar gebeure, my Jesus trek Sy hand leeg
terug.
Hy draai Hom om na die boom toe en sê “Boom vervloek is jy.
Want jy het so valslik verkondig, dat ‘n mens hier ‘n vyvrug kan kry.

Koor
Oordink dit my vriend, oordink dit,
Oordink dit, oordink dit.

Vers 3
Jy sê “Kyk ek is ‘n Christen, God se Gees woon in my.
Wel in hierdie semi woestyn streek, kom God om by jou vrug te kry.
Hierdie woord is waaragtig, so my vriend luister tog mooi.
Jesus soek nie net lower, of ‘n boom wat ‘n skaduwee gooi.

Vers 4
Nee, Jesus kom ook by jou staan, Hy kom om vrugte te haal.
En as Hy eendag met Sy loon kom, kom Hy ook om ons te betaal.
Wat sal Hy dan vir my sê, wat my vriend dalk vir jou?
Mooi so want jy was warm, of vervloekte waarom was jy lou.

Koor
Oordink dit my vriend, oordink dit,
Oordink dit, oordink dit.

Groete,
Sakkie