DIE WAPENUITRUSTING VAN GOD – DEEL 2

DIE WAPENRUSTING VAN GOD – DEEL 2

Sakkie Parsons

My eerste skrywe aan jou oor “die wapenrusting van God” het as volg begin:

Iemand skryf aan my onder andere as volg:

“Ek sukkel egter nou al vir jare om die volle wapenrusting van God in die praktyk te verstaan en hoe om dit in die praktyk toe te pas.
Kan u asb vir my verduidelik as u tyd het elke wapenrusting en wat dit in die praktyk beteken.  Ek verstaan nie so mooi wat dit als behels nie.“

Hier dan in kort is hoe ek na hierdie saak kyk en na die beste van my vermoë in my eie lewe probeer uitlewe.
Lees net eers die volgende uit die Woord wat ek met jou wil deel:

EFE 6:10-18 
10 Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.
11  Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.
13  Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.
14  Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,
15  en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.
16  Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.
17  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—
18  terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges

Ek deel dan nou graag in hierdie skrywe met jou oor die oorblywende komponente van “die wapenrusting van God”
Die laaste waaroor ek met jou gedeel het was.

EFE 6:15  en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.

Nou goed.
As ons verder lees, sê die Woord, dat ons, ons geloof soos ‘n skild moet gebruik om al
die bose se vurige pyle wat op ons af geskiet word, van ons weg te keer.

EFE 6:16  Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.

Die vurige pyle wat hiervan gepraat word, is na my mening dinge soos verkeerde gedagtes, verkeerde gevoelens, verkeerde begeertes en verkeerde drange.

Dit is dinge wat ek net van my kan afkeer as ek werklik geloof in ons Here het.  As ek nie werklik geloof in ons Here het nie, sal ek die soort ding nie kan wegkeer nie, gewoon, omdat dit dan nie eintlik vir my in my toestand ‘n probleem gaan wees nie.
Daarom sê die Woord dan ook:

HEB 11:6  En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

Die Woord noem ook vir ons in Hebreërs 11 ‘n paar voorbeelde van hoe ons geloof in ons lewe moet werk en ek noem net die eerste voorbeeld:

HEB 11:7  Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.

Hoe verstaan, ervaar en lewe Jesus se volgelinge ons geloof uit?

HEB 11:1  Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys
van die dinge wat ons nie sien nie.

So kind van God –

EFE 6:16  Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.

Verder het ons Here vir ons laat skryf:

EFE 6:17  En neem aan die helm van verlossing

In my kop, om dit so te stel, is my hele menswees gesetel.  My gees en my siel.
Jy kan my niere uithaal en my ‘n masjien gee en ek sal nog kan lewe as Sakkie die mens wie ek is.
Dit kan jy doen met my hart, longe, bene ens
Maar neem my kop weg of vernietig dit wat in my kop is en ek Sakkie die mens is weg.
Toe jy Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, het Sy verlossingsdaad op Golgota jou hele menswees soos ‘n helm omhels.

GAL 3:26  Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;
GAL 3:27  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

Nou voel jy nog in hierdie lewe van tyd tot tyd, om dit so te stel,  die swaard van die vyand se houe teen jou kop – want na alles, jy is betrokke in ‘n oorlog met die bose en die bose gaan nie dat jy dit een oomblik vergeet nie maar en hoe heerlik –
Jyself is vir ewig beskerm.

JHN 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
JHN 10:28  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

By dit alles het jy en ek darem self ook ‘n swaard, terloops dit is ook die enigste wapen wat deel van ons wapenrusting uitmaak.

EFE 6:17   … die swaard van die Gees—dit is die woord van God

Daar is nou wel mense wat die krag en skerpte van hulle swaard, naamlik die Woord verswak en stomp maak, deur te verkondig, dat tye verander het en dat daar dus dinge is wat vir die eerste Christene van toepassing gewees het maar nou nie meer op ons van toepassing is nie.
Ons egter, wat ons swaard; die Woord, gebruik soos wat ons dit van ons Here gekry het, het vertroue in ons wapen, want ons weet:

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Daarom trek ek my swaard en gebruik ek my swaard, soos wat my Aanvoerder Sy
bevele aan my laat skryf het.

2TIM 4:2  verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;

Dit doen ek omdat ek die kwaliteit van my swaard ken en daarom geheel en al glo en so verkondig.

HEB 4:12  Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

Ten slotte:
‘n Soldaat kry sy energie om te veg uit sy proviand en my proviand is gebed en omdat ek dan sommer vir ander van my mede-soldate bid, deel ek sommer so in, om dit so te stel, die geveg ook, aan hulle van my proviand uit, omdat ek ook vir hulle bid.

EFE 6:18  terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges.

Dus, my vriend/vriendin –

EFE 6:11  Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.

Groete
Sakkie