DIE WEDERKOMS

DIE WEDERKOMS.

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra, of ek nie iets oor die wederkoms wil skryf nie.

As ek oor die Wederkoms met jou deel moet ek dit baie duidelik stel, dat daar heelwat verskil word onder Christene oor hierdie saak  en ek deel met jou hier hoe ek die Wederkoms verstaan.  Daar gaan sekerlik mense wees wat met my siening gaan verskil. 

As jy egter vir Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker en in Sy weë wandel, hoe jy ook al die Wederkoms sien, gaan wanneer dit gebeur in elk geval om dit so te stel, vir jou ‘n heerlik wonderlike ondervinding wees.

Sommer vir die interessantheid daarvan.  So ver my kennis strek, kom die woord ‘Wederkoms’ 10 keer in die Nuwe Testament voor.

Ek is deel van die groep Christene wat glo dat die koms van Jesus, om dit so te stel in meer as een fase gaan plaasvind.
Die eerste fase gaan wees, wanneer Jesus Sy volgelinge voor die groot verdrukking gaan kom Haal.
Wanneer dit gaan gebeur weet ons nie maar daar is sekere duidelike tekens wat ons waarsku dat dit naby is.

Vir my is die belangrikste teken dat ons in die laaste dae voor die Wegraping, wat vir my ook die eerste fase van Jesus se wederkoms is lewe, die herstel van Israel in die land wat ons Here aan hulle gegee het.
Omdat Israel so absoluut prominent is in alles wat in die laaste dae moet gebeur.
Jy kan, of dan, ek kan net eenvoudig nie sinvol oor die laaste dae gesels, sonder om Israel te betrek nie.
Voeg daarby die verdorwenheid van die hedendaagse mens en jy het ‘n taamlike duidelike prentjie, dat ons Here se langverwagte koms nou nie meer ver kan wees nie.

2TIM 3:1-5 
1  Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
2  Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,
3  sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,
4  verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;
5  mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.

Ek het genoem, dat die eerste fase gaan wees, wanneer Jesus Sy volgelinge voor die groot verdrukking gaan kom haal.
Ek kwoteer hier ‘Die Bybel Die Nuwe Lewende Vertaling’ waarvoor ek so lief geword het:

Ons uitsig op die opstanding.

1THS 4:13-18 
13  Liewe broers en susters, ons wil nie hê dat julle in onkunde sal verkeer oor die dooies nie.
Dan sal julle nie soos die ander mense treur sonder ‘n toekoms vooruitsig nie.
14  Want as ons glo dat Jesus gesterf en opgestaan het, moet ons ook glo dat God die mense wat gesterf het terwyl hulle in Jesus glo, saam met Jesus sal terugbring.
15  Wat ons nou vir julle gaan sê, is ‘n uitspraak van die Here:  Ons wat bly lewe tot wanneer die Here terugkeer, het glad nie ‘n voorsprong bo die wat dan al gesterf het nie.
16  Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die Hemel sal neerdaal en dat die Dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan.  Dit sal gebeur wanneer die hoofengel ‘n bevel gee wat soos ’n trompet van God klink.
17  Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op die wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees.
18  Troos mekaar dan met hierdie woorde.

Die rede waarom ek glo dat die Wegraping, – die eerste fase van Jesus se wederkoms wanneer Hy ons kom haal, – sal plaasvind voor die verdrukking en als wat daarmee gepaardgaan, is dat net ‘n paar verse later nadat Jesus Paulus laat skryf het, hoe Jesus ons gaan kom haal, laat Jesus Paulus ook skryf:

1THS 5:8  Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.
1THS 5:9  Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus.

Dit is vir my heeltemal ondenkbaar, dat ons Here sal laat skryf…

1THS 5:9  Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry

en dan sal toelaat, dat ons Sy kinders, ook Sy toorn van Openbaring moet belewe.

Nadat Jesus ons kom haal het, sal ons deur Hom beoordeel word van hoe ons lewens hier op aarde gewees het. 

Let wel beoordeling, nie veroordeling nie, want daar is geen veroordeling
vir die mens wat Jesus Christus aangeneem het as haar/sy God en Verlosser
nie:

JHN 3:16-19 
16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
19  En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.

ROM 8:1  Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.

‘n Voorbeeld van hierdie, wat ek beoordeling noem sien ons in 1Kor 3:11 en verder:

1KOR 3:11-15 
11  Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
12  En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—
13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

In hierdie verband skryf Paulus by ‘n ander geleentheid:

2KOR 5:10  Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.

Dan wat ons aanbetref, na baie dinge, volg die slag van Armageddon en die 1,000 jarige vrede ryk en dan die veroordeling van die engele en almal wat nie deel gewees het van die wegraping nie.  Jy kan dit gaan lees in  Openbaring 20:7-15.
Terloops, ek dink dit is dan ook by hierdie geleentheid, waar jy en ek deel gaan wees van ‘n regspan wat die wêreld en die engele gaan oordeel:

1KOR 6:2  Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?
1KOR 6:3  Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?

Hoe jy ook al na die toekoms van hierdie aarde kyk, daar lê ongelooflike drama en trauma voor vir almal en alles wat op die aarde leef, buiten natuurlik vir ons wat Jesus Christus as Verlosser en Saligmaker aangeneem het.

Ons, wat Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, kyk sonder vrees maar vol opgewonde afwagting na die toekoms.  Verseker nie met vrees soos so baie om ons nie.

ROM 8:14  Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.
ROM 8:15  Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!

2TIM 1:7  Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

Toe ek nou weer lees wat ek vir jou geskryf het, toe kom ‘n ou koortjie wat ons altyd gesing het weer in my hart op en ek sluit hierdie skrywe aan jou af  daarmee:

“Ek is op my pad Hemel toe.
Ek is op my pad Hemel toe.
Singend, singend, altyd singend,
Ek is op my pad Hemel toe.”

Groete,
Sakkie