DIE WEGRAPING

DIE WEGRAPING

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra, of ek in die wegraping glo en as ek daarin glo, hoe redeneer ek, wanneer gaan dit gebeur?

Ek wil dan begin deur te sê, dat ek verseker daarin glo.

Op die vraag wánneer dit gaan gebeur kan ek net met die getuienis uit die Woord, soos ek dit verstaan, drie dinge verseker sê:

Eerstens – Daar gaan verseker ‘n wegraping plaasvind.

Tweedens – Nie ek of enige iemand anders buiten ons Here weet wanneer dit gaan gebeur nie.

Derdens – Ek is absoluut oortuig daarvan dat dit vóór die verdrukking of, om dit so te stel, vóórdat die hel hier op aarde gaan losbars, gaan gebeur.

Hier in ‘n neutedop is hoe ek hierdie saak sien:

Daar gaan ‘n “wegraping” plaasvind, wanneer ons Here Sy kinders kom haal.

1THS 4:13-17  

13 Broers en susters, ons wil nie hê dat julle in onkunde sal verkeer oor die dooies nie. Dan sal julle nie soos die ander mense treur sonder ’n toekomsvooruitsig nie.

14  Want aangesien ons glo dat Jesus gesterf én opgestaan het, moet ons ook glo dat God die dooies wat in Jesus geglo het, saam met Jesus sal terugbring.

15  Wat ons nou vir julle gaan sê, is ’n uitspraak van die Here: Ons wat bly lewe tot wanneer die Here terugkeer, het glad nie ’n voorsprong bo dié wat dan al gesterf het nie.

16  Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die hemel sal neerdaal en dat die dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan. Dit sal gebeur wanneer die hoofengel ’n bevel gee en God se trompet weerklink.

17 Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees. 

18  Troos mekaar dan met hierdie woorde.

Nou is dit vir my ondenkbaar, dat die liefdevolle Here Jesus wat ek geleer ken het, nádat Hy vir ons gedoen het wat Hy gedoen het, naamlik om aan die kruis vir ons te sterf, sal toelaat dat ons daardie laaste verskriklike tydperk voor Sy wederkoms moet deurgaan.

Hier is dan na my mening wat die Woord vir ons in die verband sê:

1THS 5:9  God se bedoeling met ons is nie dat ons gestraf moet word nie, maar dat ons deur ons Here Jesus Christus verlos word!

1THS 5:10  Jesus het in ons belang gesterf sodat ons, of ons nog lewe of reeds dood is, saam met Hom mag lewe.

Dan kom ons Here na my mening en onderstreep wat jy nou gelees het, wat Paulus geskryf het en Hy sê:

OPG 3:10  Omdat jy vasgehou het aan die getuienis van hoe Ek volhard het, sal Ek jou ook bewaar gedurende die tyd van hewige toetsing wat vir die hele bewoonde wêreld voorlê – daardie tyd wanneer al die bewoners van die aarde deeglik getoets word.

OPG 3:11  Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie

In Lukas 17 vanaf vers 20, praat Jesus oor die tyd voor Sy koms.  Omdat dit ‘n lang gedeelte is, gaan ek net uitlig wat ek dink hier relevant is maar gaan lees gerus die hele gedeelte self.

Hy begin deur onder andere te sê:

LUK 17:26  “Net soos dit gebeur het gedurende die tyd van Noag, só sal dit ook gaan gedurende die tyd voor my koms as die Seun van die Mens:

LUK 17:27  Hulle het geëet, gedrink, getrou en vroue in die huwelik uitgegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Die watervloed het gekom en hulle almal vernietig.

Het jy gesien wanneer die water hel op die aarde los gebars het?

Eers nádat Noag en die ander kinders van God in die ark gewees het en Jesus sê dat nét so sal dit ook wees voordat Hy die ellende op aarde kom beëindig.  Hy sal éérs Sy geliefdes kom haal.

LUK 17:27-32  

27 Hulle het geëet, gedrink, getrou en vroue in die huwelik uitgegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Die watervloed het gekom en hulle almal vernietig.

Dan gaan Jesus voort en gee ons nog ‘n voorbeeld oor wat ons te wagte kan wees voor Sy wederkoms, en na my mening, om ons nog iets ánders te leer wat Sy wederkoms aanbetref.

28  Dit het ook net so gebeur gedurende die dae van Lot: Hulle het geëet, gedrink, gesmous, geplant en gebou.

29  Op dieselfde dag dat Lot uit Sodom weggegaan het, het vuur en swael uit die hemel gereën en almal vernietig.

30  Dit sal net so gebeur op die dag wanneer Ek as die Seun van die Mens bekendgemaak word.

31  “Op daardie dag moet dié wat op die dakstoep sit terwyl hulle besittings nog in die huis is, nie afklim om dit saam te vat nie. Net so moet dié wat op die land is, nie terugdraai na die besittings agter hulle nie.

32  Onthou maar net wat met die vrou van Lot gebeur het.

Eerstens, het jy gesien wánneer het, wat die mense van Sodom aanbetref, die hel oor hulle los gebars?

LUK 17:29  Op dieselfde dag dat Lot uit Sodom weggegaan het, het vuur en swael uit die hemel gereën en almal vernietig

Na my mening sal, om dit so te stel, die hel eers op hierdie aarde losbars, as ek en jy weg, of dan uit hierdie Sodom en Gomorra is.

Tweedens, onthou jy dat die Engel vir hulle gesê het toe hulle vlug, dat hulle nié mag omkyk nie.  Onthou jy dat Lot se vrou toe omgekyk het en in ‘n soutpilaar verander het?

Nou kom Jesus en nadat Hy vir ons vertel het  hoe dit gaan wees, vertel Hy ons ‘n baie belangrike ding wat ons moet onthou.

LUK 17:32  Onthou maar net wat met die vrou van Lot gebeur het

Die OV stel dit so:

LUK 17:32  Dink aan die vrou van Lot!

Ten slotte dan nog net dit:

Ek weet daar is mense wat ‘n mens laat verstaan dat hulle al die antwoorde oor die wegraping, verdrukking, eindtyd, wederkoms, ens het, maar ek het verseker nie al die antwoorde nie.

Wat ek wel in verband met hierdie sake verseker weet, is dit:

Ek weet dat als wat ek nog moet weet, sal My Vader verseker sorg dat ek weet, wánneer ek dit moet weet.

Twee dinge in verband met hierdie onderwerp, weet ek egter reeds verseker en het ek ook nou met jou gedeel.

Die eerste wat jy reeds gelees het is dit:

OPG 3:11  Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie.

Die tweede wat jy ook reeds gelees het is dat ons nie na die ou sondige lewe agter ons moet terug gaan nie, ons moet nie eens met verlange daarna in ons harte terugkyk nie.

LUK 17:32  Onthou maar net wat met die vrou van Lot gebeur het

Kom ons hou maar net ons oë op Jesus, sodat ons ook sal kan sê:

2TIM 4:7  Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.

Om dan van ons Verlosser en Saligmaker te hoor:

MAT 25:21  Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees!’

Ek sluit af met die woorde van Paulus, waarmee hy 1 Tessalonisense 4 afgesluit het, waar hy ook oor hierdie saak geskryf het.

1THS 4:18   Troos mekaar dan met hierdie woorde .

Groete,

Sakkie