DIE WENPAAL LÊ VOOR

DIE WENPAAL LÊ VOOR               

Sakkie Parsons

Na aanleiding van iets wat ek geskryf het en met iemand gedeel het, skryf die persoon toe aan my en vra of ek nie ‘n bietjie meer wil uitbrei oor die berge wat soms voor Christene lê wat hulle moet klim nie.
Die berge waarvan hier gepraat word, is die beproewinge wat soms op die kind van God se pad in hierdie lewe kom.

Ek wil dan begin deur te sê:
Om dié soort berge te klim wat ons as kinders van ons Here soms moet klim, is werklik, werklik nie vir sussies nie maar daarvoor het ons darem ook genoeg getuies uit die Woord en alhoewel baie van ons wys is in die Woord, het ons soms net nodig dat een van ons mede Christene net weer vir ons uit die Woord in hierdie verband versterk.
Ja, dat een van ons broers of susters ons oë net weer wegkry van die steiltes en hoë kranse voor ons, waar ons nog moet oor en dat ons net weer herinner moet word hoe ons ingesteldheid moet wees om oor die berg voor ons te kan kom.

Iemand anders sê:
Dit is darem nie net julle Christene wat berge en steiltes moet uit en oor nie, dit kom ook op die pad van die nie-Christen.
Dit is natuurlik waar.  Buiten, dat die Christen het nog ‘n ánder faktor wat bykom, die sonde, wat nie ‘n probleem vir die mens in die wêreld is nie.  Omdat die mens in die wêreld, aste ware geakklimatiseer is en dit, hierdie faktor selfs geniet, terwyl hy oor sy steiltes en oor sy berg deur hierdie wêreld beweeg.

Die Christen egter, klim sy berg voor hom en terwyl hy soms teen die steilte uit strompelend struikel, ek weet, ek was daar, brand die verskriklike bloedige sonde, dit is die aanvalle van satan, wat uit die hel aangeblaas word op ons neer.
Dan moet ons, terwyl ons steier en strompel vanweë die steilte en kranse voor ons, nog teen die aanslag van die bloedige sonde, dit is die aanvalle van satan,  wat op ons neerbrand ook staande bly.
Dan kry jy dit soms, dat die kind van God bose newelbeelde, of dan ‘n “mirage” of dan ‘n lugspieëling sien van ‘n helder fontein van handdoek ingooi in byvoorbeeld die sluk van ‘n hele botteltjie slaappille, of ‘n pistool na jouself rig maar weet jy?
Dit hoef nie so te wees nie.
Eintlik behoort dit nie so te wees nie.
Want sien, daar is nog ‘n verskil tussen jy wat jou berg voor jou uit klim en die persoon in die wêreld wat sy berg uit klim.
Natuurlik is dit waar, dat jy by dit alles wat voor jou lê nog die bloedige sonde, die aanvalle van satan  ook moet trotseer wat jy nou nie meer kan verdra nie want:

2KOR 5:17 Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is 'n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte soos volg:

2KOR 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Ja, natuurlik is dit waar, dat jy by dit alles wat voor jou lê nog die bloedige sonde ook moet trotseer wat jy nou nie meer kan verdra nie.
Tog –
Jy hoef nie in jou gees met gebarste lippe en ‘n geswolle tong die steiltes voor jou uit te strompel nie-

Jy het Christus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker.

So, ek wil jou graag in hierdie skrywe weer bemoedig, deur jou daaraan te herinner:
Jy is dalk al só verblind, verward en wanhopig oor wat jy voor jou sien en wat jy om jou ervaar, dat dit jou heeltemal ontgaan het –
Jy hoef nie geestelik so vermoeid te wees nie.
Geestelik hoef jou lippe nie so gebars te wees en jou tong so droog geswel te wees nie.
Kyk net gou daar in jou hart weer in jou rugsak…

Onthou jy kind van God?
Jy wat Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker.

JOH 7:37 Op die laaste dag, die groot dag van die Huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: "As jy dors is, kom dan na My toe en drink.
JOH 7:38 Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: 'Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.'"

Ek sê nou nie dat die berg voor jou gaan verdwyn nie.  Ek moes nog oor al myne klim maar dan ons Here sê tog baie duidelik vir ons omdat hierdie wêreld is wat hy is:

JOH 16:33 Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin."

So kind van God, onthou dit, dat jy ‘n kind van ons Here is.
Skuif jou rugsak weer reg op jou rug, vee die sweet van die vermoeienis van hierdie wêreld uit jou oë, dat jy weer mooi kan sien en klim terwyl jy onthou:

2KOR 4:8-9
8 Op elke manier word ons onder druk geplaas,
maar ons is nie verpletter nie;
ons is verward,
maar nie wanhopig nie;
9  ons word vervolg,
maar nie in die steek gelaat nie;
platgeslaan,
maar nie vernietig nie.

Ek laat jou dan met die volgende gedeeltes uit die Woord.
Dit, so sê ons Here in Sy woord, is vir jou en my en op jou en my van toepassing.

Met die oog vasgenael op Jesus sal ons nie uitsak nie.

HEB 12:1 Met so 'n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag,
veral die (bloedige) sonde wat so maklik 'n houvas op 'n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê,

Onthou jy?
Jesus het mos gesê dat Hy die wêreld reeds oorwin het.
Onthou jy hoe Hy bloed gesweet het in Getsémané en hoe Hy menslik gesproke so swak geword het, dat iemand Hom moes help met Sy kruis na Golgota .
Onthou jy Sy Woorde terwyl Hy daar aan die kruis gehang het?:

JOH 19:30 … "Dit is nou afgehandel!" Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.

en nou lees ons:

HEB 12:2 ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur.
Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!

HEB 12:3 Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.

1KOR 9:26 Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos 'n bokser wat met elke hou tref.

Dan!
Wat ‘n grootse wonderlike versekering het ons nie van ons Here nie!

ROM 8:28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

'n Lied wat baie mooi hierby aansluit is:  “Is there a mountain” van Carroll Roberson wat op YouTube beskikbaar is.

Groete,

Sakkie