DIE WOORD EN DIE WEGRAPING DROOM

DIE WOORD EN DIE WEGRAPING DROOM.

Hierdie gedagte uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Sakkie Parsons

‘n Paar mense het by geleentheid aan my geskryf en my, my opinie oor die – wat ek die

wegraping droom” sal noem, – gevra.

Die hoofrede waarom ek hierdie met jou deel, is om te probeer demonstreer, dat ons,

ons nie sommer deur elke droom, profesie, gesig, nuwe openbaring, of wat jy dit ook

al wil noem op loop moet laat jaag nie maar alles biddend aan die hand van die

Woord moet toets, wat ons natuurlik net kan doen, as ons ‘n goeie kennis van die

Woord het – Wat ons natuurlik weer net kan kry, as ons gereeld, baie gereeld, soos in

daagliks, die Woord bestudeer.

Hier is dan hoe ek dit wat aan my gestuur is sien.

Om mee te begin – wil ek u aandag op die volgende plaas:

As jy Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, hoef jy nooit vreesagtig te raak as jy hierdie of daardie nuwe openbaring, droom, profesie, of wat dit ook al genoem word oor die eindtye hoor nie.

2TIM 1:7 Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van

krag en liefde en selfbeheersing.

Ons Here sal dat jy, Sy kind, verseker weet wat jy moet weet wanneer jy moet weet,

wat jy moet weet en vrees sal nie deel van daardie “weet” wees nie.

Dan hoop ek uit my hart uit, dat ek met hierdie skrywe, dit gaan regkry om vir al die

kinders van ons Here wat hierdie skrywe lees, te demonstreer, dat ons met die Woord

as maatstaf, baie deeglik alle “nuwe openbaringe, drome, gesigte, visioene ens” moet

ondersoek, of dit vir ons iets van ons Here af is.

Vergelyk dit met die Woord en as dit êrens net amper met die Woord verskil, verwerp

dit en as jyself nie genoeg kennis het nie, steek kers op by iemand van integriteit wat

die vrugte van die Gees dra.

Ek gaan net so hier en daar uit die droom wat vir my gestuur was iets kwoteer om te

demonstreer wat ek deurentyd verkondig dat ons moet doen.

Nou goed.

So het ek hierdie droom ervaar met die Woord as my maatstaf.

Onthou nou wat ek gesê het, hoe ek glo dat ons na hierdie soort ding moet kyk.

Vergelyk dit met die Woord en as dit êrens net amper met die Woord verskil,

verwerp dit.

Die Woord sê van die tyd of oomblik wat dit gaan gebeur onder andere die volgende.

MAT 25:13 Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun

van die mens kom nie.

Die ‘droom’ wil dit hê, dat dit so duskant middag gaan plaasvind.

Aanhaling uit droom:

“Dis seker so vroegmiddag, aangenaam warm alhoewel meestal bewolk met kolle

blou lug wat uitsteek. Die wolke is nie spierwit nie maar ook nie swaar met water nie.

Einde van aanhaling uit droom.

Iemand kan nou sê, dat die droom ook nie die dag en die uur noem nie en dit is waar

maar as ons volgens die droom moet gaan, kan die mense wat se saak met ons Here

nie reg is nie, op die laatste elke aand so teen skemer rustig raak. Met die wete, dat

hulle darem rustig kan gaan slaap. Want, môre is ‘n nuwe dag en hulle is, om dit so te

stel, veilig, tot ten minste, sê tot so tien uur die volgende oggend, as hulle veilig wil

speel. Want, as dit môre gaan gebeur, gaan dit ten minste nie in die oggend gebeur

nie.

Sjoe!

Nou het ek nie eens gepraat oor die probleem met die helfte van die aarde waar dit

nag is en met ander woorde, waar dit nie “vroeg middag is nie.”

Die Woord sê egter en hier kwoteer ek Die Nuwe Lewende Vertaling, omdat dit

daar in sulke heerlike Afrikaans geskryf staan.

MAT 24:42 Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom

nie. 43 Julle besef tog goed, as ‘n huiseienaar vooraf weet hoe laat in die nag

die dief gaan kom, sal hy op sy hoede bly en nie toelaat dat daar in sy huis ingebreek

word nie. 44 Daarom moet julle ook voorbereid wees, want die Seun van die Mens

kom op ‘n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.

My groot held Paulus skryf in hierdie verband.

1THS 5:2 want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n

dief in die nag. 3 Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike

verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie

ontvlug nie.

So, volgens die Woord, weet ons nie of dit in die dag of nag gaan wees nie en ons

weet ook nie of dit vroeg in die oggend, vroeg in die middag of vroeg in die aand

gaan wees nie. Kortom, ons weet net eenvoudig nie wanneer die oomblik gaan

plaasvind nie.

Want, dit moet ons almal ook wel deeglik kennis van neem, dit gaan in ‘n oomblik

gebeur en dit bring my by my volgende probleem met hierdie droom.

Die droom wil dit hê, dat dit ‘n om die minste te sê, ‘n taamlike tyd van begin tot

einde gaan beslaan. Want ek lees:

Aanhaling uit droom:

Terwyl ek agter op die boot staan vang iets in die wolke my oog, ‘n breukdeel van ‘n

sekonde, net genoeg om my na die wolke te laat kyk in die verte. Ek kyk maar ek sien

niks en maak dit af. ‘n Paar sekondes later vang iets weer my oog, die keer heelwat

nader aan ons.”

Einde van aanhaling uit droom.

Dit word ‘n taamlike uitgerekte, kom ons noem dit maar ‘n gebeurtenis.

Aanhaling uit droom:

“Hoe langer dit aanhou, hoe laer af uit die wolke uit duik die verskynsels voordat

hulle opswiep en weer die wolke ingaan. Ek en Melanie staan teenaan mekaar en

kyk.”

Einde van aanhaling uit droom.

Dit gaan vir ‘n tyd aan en aan en word, amper skryf ek, hoe later hoe kwater.

Aanhaling uit droom:

“Ons sien die wesens wat uit die wolke duik is deursigtig soos glas, maar het wel

vorm. Die beweging kan ek die beste beskryf soos die vlug van swaeltjies, vinnig glad

en sekuur. Dan herken ek die wesens – DIS ENGELE. Ek maak die vorm van vlerke

uit met vloeiende klere. My hart klop in my keel en ek is nou behoorlik angs

bevange.”

Einde van aanhaling uit droom.

Dit gaan nog aan maar vir wat ek wil sê is hierdie genoeg.

Kom ons kyk nou wat die Woord van hierdie gebeurtenis sê. Dan besluit jy maar self

of hierdie droom meriete het.

1KOR 15:52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink,by die laaste basuin; want die basuin

sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander

word.

1THS 4:16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die

stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in

Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here

wees.

In die gedeeltes uit die droom wat ek met jou gedeel het en hierdie twee gedeeltes wat

jy nou net uit die Woord gelees het, is daar na my mening twee mededelings uit die

Woord wat absoluut nie saamstem met dit wat die droom ons voor hou nie.

Eerstens:

Die droom maak die wegraping, om die minste te sê, ‘n taamlike proses en die Woord

sê, dat dit in ‘n oomblik/oogwink gaan plaasvind. So as jy ‘n idee wil hê oor hoe

vinnig dit gaan wees, knip jou oog.

1KOR 15:52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; …

Dan, nêrens in die Woord lees ek dat engele ons gaan kom gryp en met ons wegvlieg

nie.

Ek lees, soos jy ook nou gelees het: 1THS 4:17Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.

As iemand my sou vra, sou ek sê, dat ek dink, want ek het geen Skrif om my gedagte

in hierdie verband te staaf nie maar in my verbeelding is dit vir my lekker om te dink,

dat ons wegraping iets sal wees soos wat met Jesus gebeur het met Sy Hemelvaart.

HAN 1:9 Hy het dit gesê, en is toe in die hemelruim opgeneem terwyl hulle toekyk.  Hy het in ‘n wolk verdwyn. 10 Toe Hy wegraak en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11 Die twee mans sê toe:  “Galilese manne, waarom staan julle na die hemel en kyk?  Jesus is van julle af weggeneem die hemel in.  Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!”

1THS 4:17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke

weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here

wees.

Nou kom ek by die laaste groot teenstrydigheid tussen die wegraping droom en Die

Woord waaroor ek met jou wil deel.

Ek lees in die ‘droom’ wat vir my gestuur gewees het die volgende, nadat die

wegraping volgens die droom in volle swang is:

Aanhaling uit droom:

“Die gebeurtenis is so intens dat ek huil. Dan uit die verte uit, soos donderweer

aanrol, hoor ek die dreuning van ‘n ramshoring (klink amper soos die mishoring van

‘n groot skip). Eers sag en dan al hoe harder hoe nader dit kom. Naderhand

oorverdowend kragtig. Die geluid is so magtig dat almal neerval. Ek kyk op en sien

hoe reuse wolke inrol met weerlig binne in hulle. Ek weet dis wat die Bybel gesê het

gaan gebeur. Die hele aarde sal JESUS se koms aanskou. Hy is op die wolke en op

pad.

Einde van aanhaling uit droom.

Volgens die ‘droom’, word die laaste basuin geblaas, nadat die wegraping al in volle

swang is maar volgens die Woord, sal die laaste basuin eers weerklink en dán sal die

wegraping plaasvind. Ek kwoteer weer Die Nuwe Lewende Vertaling.

1KOR 15:52 Dit sal dadelik, ja, in ‘n oogwink gebeur, wanneer die laaste trompet

weerklink. Want as die trompet sy klank laat hoor,sal die Christene wat reeds

gesterf het met onverganklike liggame opgewek word en dan sal ons ook verander

word.

Ten slotte.

Iemand vra:

Wat is die betekenis en of doel van die droom?

Wat die bedoeling met die skrywe oor die ‘wegraping droom’ is wat vir my gestuur

gewees het weet ek nie.

Alles wat ons aangaande die wegraping moet weet is mos klaar in die Woord.

1THS 5:1 Liewe broers en susters, dis nie nodig dat ek vir julle skryf oor die tye en spesifieke datums wanneer hierdie dinge gaan gebeur nie. 2  Julle weet mos self dat die Dag van die Here soos ‘n dief in die nag kom. 3  Wanneer die mense nog sê:  “Alles is rustig en veilig,” (wees rustig, dit is nog aand of nag of vroeg oggend) dan skielik, soos geboortepyne ‘n swanger vrou oorval, oorval ondergang hulle.  Hulle sal beslis nie vryspring nie.

Iemand sê dat die droom vol simboliek is en noem dan ‘n lang lys van simboliek, van

hierdie beteken dit en daardie beteken dat.

Ek weet nie waar hulle aan hulle simboliek kom nie en ek stel ook werklik nie belang

nie.

Persoonlik maak dit nie vir my saak watter of hoeveel simboliek in watter aard ook al

aan hierdie ‘droom’ gegee word nie. Vir my is die “bottom line” dat die ‘droom’ en

die Woord ons, aste ware, van twee verskillende gebeure vertel.

So, na my mening, is dit wat my aanbetref nie ‘n boodskap van ons Here af nie.

Daar is geheel en al net teveel teenstrydighede soos ek dit sien, tussen hierdie ‘droom’ en

ons Here se Woord.

So, wat sê die ‘droom’ vir my? – Niks, heeltemal niks.

Beteken die ‘droom’ iets vir my? – Niks heeltemal niks.

Dan nog net dit:

Onthou ook altyd hierdie heerlike groot heerlikheid:

Ek weet daar is mense wat ‘n ander siening het maar dit is hoe ek die Woord verstaan.

As jy Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker en jou oog al die tyd op Jesus hou, gaan jy deel wees van die wegraping.

Jy gaan nie deel wees van ons Here se toorn vir die aarde nie.

1TES 5:9  God se bedoeling met ons is nie dat ons gestraf moet word nie, maar dat ons deur ons Here Jesus Christus gered word!

OPG 3:10  Omdat jy vasgehou het aan die getuienis van hoe Ek volhard het, sal Ek jou ook bewaar gedurende die tyd van hewige toetsing wat vir die hele bewoonde wêreld voorlê – daardie tyd wanneer al die bewoners van die aarde deeglik getoets sal word.

OPG 3:11  Ek kom gou;  hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie.

1KOR 15:52 Dit sal dadelik, ja, in ‘n oogwink gebeur, wanneer die laaste trompet

weerklink.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.