DIE WOORD, NET DIE WOORD EN NIKS ANDERS AS DIE WOORD NIE

DIE WOORD, NET DIE WOORD EN NIKS ANDERS AS DIE WOORD NIE.

Sakkie Parsons

LUK16:29-31 “Maar Abraham sê: ‘Hulle het die Skrif met Moses en die profete se woorde. Laat hulle daarna luister.’
30“‘Nee vader Abraham,’ sê die man toe, ‘maar as iemand wat dood was met hulle gaan praat, sal hulle, hulle bekeer.’
31“Maar Abraham antwoord: ‘As hulle nie na die Skrif wil luister nie, sal hulle, hulle ook nie laat oortuig nie selfs al sou iemand uit die dood lewendig word.’ ”

Mense maak partykeer van allerlei metodes gebruik om mense tot bekering te lei maar Jesus leer my in hierdie gedeelte, dat jy net God se Woord nodig het.

Terwyl ek nou daaroor praat, wil ek tog net iets meer sê oor God se Woord.

Ek dink en natuurlik is dit hier net my persoonlike oortuiging, dat mense te maklik baie van dit wat in God se Woord, wat vir Jesus se dissipels geskryf staan, afmaak asof dit nie op ons betrekking het nie maar vir ‘n ander tyd geskryf was.

Ons haal dinge uit God se Woord uit omdat dit nie populêr onder die mense, of in die gemeente sal afgaan as ons dit sou toepas nie.

Dit is natuurlik volgens my ‘n baie gevaarlike spel wat mense speel as hulle dit doen.

As iemand byvoorbeeld vir my sou sê hierdie, of daardie gedeelte is nie meer vandag relevant nie, kan die persoon ook nie vir my sê dat ek verkeerd redeneer as ek sê, dat en mag God my help dat ek nooit so ‘n, wat soos ek die Woord verstaan, ‘n dwaasheid is sal kwytraak nie, soos byvoorbeeld dat dit wat God oor sekere tipe seksiule leefwyses sê, nie meer vandag van toepassing is nie.
Ek sê altyd vir mense met wie ek oor hierdie tipe sake praat:
As ek met God se Woord besig is, dan is ek met God persoonlik besig.  Daar staan immers geskrywe.

JHN1:14 Die Woord was van altyd af daar. Hy is die Seun van God wat by God was en wat self ook God is.

JHN1:14 En die Woord het mens geword en by ons kom woon.  Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ‘n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

Daarom, as ek God se Woord oopmaak, is ek terdeë daarvan bewus dat ek nou met God persoonlik te doen het en dan lees ek ook God se Woord met daardie ingesteldheid.

As iemand vir my sê, hierdie of daardie deel van die Woord is nie vandag relevant nie, dan herinner ek die persoon maar net aan dit wat ek jou nou voorgehou het en ek onderstreep dit met die volgende:

2TIM3:16 Die hele Skrif kom van God af en dit help ons om te weet wat die waarheid is en wys ons hoe om ’n verkeerde leer teë te gaan. Die Skrif wys ons ook as daar iets in ons lewe verkeerd is en leer ons om so te lewe soos God wil hê.

Om nou weer terug te kom na dit wat Jesus ons in die ryk man en Lasarus wys wat die Woord van God aanbetref –

God het nie nodig om wonders/tekens te doen om vir iemand te wys dat Hy wel bestaan nie en ek en jy het ook nie allerhande kunsmatige foefies nodig om mense tot bekering te lei nie.

HEB 11:6  God kan nooit tevrede wees met iemand wat nie in Hom glo en op Hom vertrou nie. Want as iemand na God toe wil kom, moet hy glo dat God leef en dat Hy mense beloon as hulle na Hom soek.

Lees net gou weer hier die tweede gedeelte van dit wat jy nou gelees het:

HEB 11 6… Want as iemand na God toe wil kom, moet hy glo dat God leef en dat Hy mense beloon as hulle na Hom soek.

Jy het net God en Sy Woord nodig om tot ware geloof te kom.

Iemand het eendag vir my gevra, hoekom God my nie laat sien nie, want dan sal al die mense wat my geken het toe ek blind was sien watter wonderwerk God gedoen het en hulle sal hulle dan bekeer.

God leer my onder andere in hierdie gedeelte, dat al sal iemand selfs uit die dood opstaan en hulle nie na God se Woord geluister het nie, hulle ook nie deur ‘n wonderwerk tot bekering sal kom nie, selfs nie eens as iemand uit die dood opstaan nie, wat nog te sê as Sakkie skielik sou sien.

Ek het hierdie voorbeeld by ‘n vorige geleentheid gebruik en ek gebruik dit nou weer.

Mense het my eendag gevra om saam met hulle na ‘n genesings diens te gaan, wat wyd en suid as ‘n genesings diens geadverteer was.  Terloops,nêrens in die Bybel sien ek dat, of Jesus, of Sy dissipels vooraf wonderwerke geadverteer het nie. Die evangelie was verkondig en as God ‘n wonder wou doen, dan het God dit gedoen.

Ons was ‘n hele paar mense wat in ‘n groep gegaan het en daar het baie wonders plaasgevind.  Die enigste een wat nie die wonders gesien het nie, was ek.
Die mense wat in my groep gewees het, kon nie uitgepraat raak oor dit wat hulle gesien het nie.
Ek weet nie wat van al die mense wat destyds in ons groep gewees het, geword het nie maar ek weet van ‘n paar wat daarna baie verkeerde dinge gedoen het.  Een het selfs met verdowingsmiddele gesmokkel en in die tronk beland.
God verwag van my om die Evangelie te verkondig.

MAT 28:19-20 Daarom moet julle na elke volk op aarde toe gaan en hulle my volgelinge maak. Doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. 20Leer hulle om al die dinge wat Ek julle beveel het, te gehoorsaam. En julle moet onthou dat Ek elke dag by julle sal wees tot die einde van die wêreld toe.”
 

Hy is elke dag by my as ek die Evangelie verkondig en as daar ‘n teken moet wees, sal Hy dit doen. 
Ek moet net aan die mense die Woord verkondig en terwyl ek dit doen, moet ek onthou:

2TIM3:16-17 Die hele Skrif kom van God af en dit help ons om te weet wat die waarheid is en wys ons hoe om ’n verkeerde leer teë te gaan. Die Skrif wys ons ook as daar iets in ons lewe verkeerd is en leer ons om so te lewe soos God wil hê. 17Op dié manier kan ’n mens wat aan God behoort, bekwaam en voorbereid wees om vir die Here te werk.
                 

Groete
Sakkie