DIE WOORD VAN DIE HERE BLY TOT IN EWIGHEID
En dit is die woord wat aan julle verkondig is. 1PET 1:25
Sakkie Parsons
Iemand skryf aan my:
“Dankie dat jy ons soms perspektief gee oor die verkeerd en verdraaiings wat ons soms van kansels af hoor.”
Die een hartseer wat ook in baie denominasies is en daarom is ek so bly, dat ek nie van ‘n denominasie se goedkeur of afkeur afhanklik is nie, is die volgende:
Ek deel dit met jou omdat ek weer gister iets oor die radio gehoor het wat my baie ontstel het.
Ek weet daar is ook herders, wat so afhanklik is van die gemeente, omdat die gemeente verkeerd grootgemaak is en moet ook hulle denominasie se sienswyse in gedagte hou as hulle agter die kansel gaan staan, dat hulle nie die Evangelie kan verkondig soos wat hulle dit werklik sou wou doen nie. Want hulle gaan of baie van die gemeente se gedwonge tiendes verloor en dit gaan hulle dan weer aan die lyf voel, of hulle gaan in sekere gevalle wat ons verkondig en wat niemand nog kon uitwys, dat dit onbybels is nie, hulle die gramskap van die denominasie se grootkoppe op die hals haal en “grootkoppe” is hier ‘n baie gepaste woord.
Ons lees:
2TIM 3:16Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.
1PET 1:24Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,
1PET 1:25maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is
HEB 13:8Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
HEB 13:9Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; …
2TIM 4:3-5
3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.
2KOR 11:13-15
13 Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus.
14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.
15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.
2PET 2:1Maar daar was ook valse profete onder die volk, (en ons Here het destyds, dat daardie volk vir ‘n lang tyd in die woestyn laat leef, totdat al daardie mense wat die valshede aangehang het uitgesterf het) net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring;
2PET 2:2en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word;
Gisteraand luister ek na ‘n man, wat deur mense beskou word as ‘n groot teoloog – wat vir ons vertel hoe ons die Bybel moet lees – maar voor ek jou vertel wat hy gesê het, herinner ek jou net weer hoe Jesus vir ons sê, hoe ons die Bybel moet lees. Ek praat graag van die Woord, want dit is God se Woorde aan ons – maar die man het van die Bybel gepraat, so vir nou bly ek ook by die Bybel, omdat dit ook nie verkeerd is om van die Woord as die Bybel te praat nie.
Onthou jy wat Jesus gesê het hoe ons na Sy evangelie moet kyk?
Of dan in watter konteks ons die evangelie moet lees?
Jy sal nou sien hoekom ek die woord ‘konteks’ uitlig maar eers gou wat Jesus in die verband sê en ek gaan net twee voorbeelde uitlig maar jyself weet dat daar meer is wat ek sou kon gebruik:
MAT 11:25-27
25 In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.
26 Ja, Vader, want so was dit u welbehae.
27 Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.
Lees hoe bevestig, of dan as jy wil, hoe onderstreep Jesus dit waaroor hy in Sy mensheid tot Sy Vader gebid het:
MRK 10:15Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God (dit is Sy evangelie soos wat Hy dit op laat stel het om verkondig te word) nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie. (En as God sê nooit, glo my dan is dit nooit – maar hulle sal allerlei drek verkondig om dit vir hulle en diegene aan wie hulle dit verkondig aanvaarbaar te maak)
MRK 10:16En Hy het sy arms om hulle geslaan, (wat Hy ook doen met jou en my sy kinders wat Sy ware evangelie verkondig soos wat hulle dit in Sy Woord vind) sy hande op hulle gelê en hulle geseën. (Hoe wonderlik is dit nie)
Die man na wie ek geluister het, het genoem dat ons die Bybel in die regte konteks moet lees.
Ons moet gaan kyk wat die politieke situasie was in daardie tyd toe die boek geskryf is. Sodat ons die boek in die regte konteks kan lees.
Is dit hoe ‘n kind die Bybel sal lees?
Ons moet gaan kyk, wat die kultuur van die mense was, sodat ons die Bybel in die regte konteks kan lees.
Is dit hoe ‘n kindjie die Bybel sal lees?
Ons moet gaan kyk wat die lewensomstandighede van daardie mense gewees het, om die Bybel in die regte konteks te lees.
Is dit hoe ‘n kindjie die Bybel gaan lees?
Ons moet die Bybel so in konteks lees, om die Bybel by ons omstandighede aan te pas.
Dit is nou ‘n paar voorbeelde hoe ons in konteks die Bybel moet lees.
Nou roep ek uit soos ‘n dwaas wat dit sou glo, as hy konsekwent wil wees, in radeloosheid sou uitroep as hy dit geglo het:
Hoe onregverdig van God om dit oor die eeue van mense waarvan biljoene en biljoene nie eens geletterd gewees het nie te verwag het, om eers al die navorsing te doen.
Ek sê en verkondig en sal dit altyd so verkondig. Soos wat die eerste evangeliste die Woord/Bybel verkondig het, toe die volheid van die tyd aangebreek het:
GAL 4:4-6
4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, (was alles in plek presies reg sodat die evangelie van Jesus in sy volheid kon verkondig word) het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,
5 om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.
6 En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!
Ja, toe het ons liefdevolle Here Sy evangelie opgestel deur alles te gebruik wat toe alles in die volheid van die tyd, alles in die regte plek, op die regte plek, in plek gewees het, te gebruik om alles aangaande Sy evangelie, waarvoor Hy daardie geweldige prys betaal het, in die regte konteks op te stel. Sodat ‘n kindjie met die geloof van ‘n kindjie dit deur al die eeue kon lees en sy/haar eie kon maak.
Ek sê nie vir een oomblik, dat jy dit wat die man sê nie mag doen nie. Ek sê dit is ‘n leuen uit die hel uit as jy sê dit is wat jy moet doen om die Evangelie van Jesus reg uit te lewe. Want dit wat die man ons vertel het, is juis die rede waarom hierdie en daardie uit die Woord gehaal word, of aan ons verkondig word, dat jy jou nie meer daaraan moet steur nie.
Sommer in die verband net die volgende:
Die meeste in Jesus se Evangelie wat hand en tand deur mense beveg word, omdat ons dit nie meer hoef te doen nie, is dit wat Paulus geskryf het en dit is dan ook nie toevallig dat dit so is nie, want satan weet, dat ons Here Paulus soveel vertrou het, dat Hy Paulus die grootste gedeelte van Sy Evangelie en hoe ons Sy evangelie moet verstaan laat skryf het.
Nog nooit in die geskiedenis van die Christengeloof is daar soveel verdraaiings of uithaal of byvoeg wat die Woord aanbetref, soos in die tyd wat ons leef nie.
Tereg het Jesus van hierdie groot teoloë gesê, wat alles so ingewikkeld maak, dat hulleself soms in hulle eie verklarings verdwaal.
MAT 23:15Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self.
Gelukkig weet ons Sy kinders, want dit is wie ons is – Sy kinders – dat as ons Sy Woord, die Bybel, soos ‘n kind lees – ons hierdie grootse groot sekerheid in ons harte het:
JHN 1:16En uit sy volheid (toe die volheid van die tyd aangebreek het) het ons almal ontvang, ja, genade op genade. (met Sy evangelie wat so eenvoudig is, dat ‘n kind, omdat ons dit soos ‘n kind lees, kan verstaan)
JHN 1:17Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.
Natuurlik, omdat ons mense is, is daar soms dinge in die Woord wat ons nie sien of reg verstaan nie – maar dan, so glo ek, sal niemand wie ‘n wáre volgeling van Jesus is, wat my help om die Woord beter te verstaan, vir my iets sê wat net amper klink of hy of sy iets uit die Woord wil haal of verander, omdat ons nou in ‘n ander tyd leef nie.
Soos wat die Woord aan die eerste Christene verkondig was en hulle dit verstaan het, net so moet ek dit vandag verkondig en self verstaan.
Ek mag nooit so vermetel raak, om God se heilige Woord by my aan te pas nie.
Ek moet Sy Woord bestudeer en my dan by sy heilige Woord aanpas.
God se Woord is vandag nog net so nuut en vars vir ons, soos wat dit vir die eerste bekeerlinge op Pinksterdag gewees het.
Of soos een van my mentors destyds vir my gesê het:
“God se Woord is oud maar altyd nuut.”
Want soos jy en ek verseker weet: Christus is vandag en gister en tot in ewigheid dieselfde en wat die eerste Christene ontdek het, toe hulle in die hemel aangeland het, presies dieselfde gaan ek daar vind as ek daar aanland.
Presies dieselfde Here, dieselfde engele/hemelse wesens en dieselfde hemel.
Groete,
Sakkie