DIE WOORDESTRYD TUSSEN MIGAEL, DIE AARTSENGEL, EN DIE DUIWEL

DIE WOORDESTRYD TUSSEN MIGAEL, DIE AARTSENGEL, EN DIE DUIWEL

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Wil jou weer vandag pla met iets. In Judas vers 9 staan daar geskryf dat satan en die aartsengel Migael gestry het oor die liggaam van Moses. Kan jy my dalk meer vertel daarvan en waar in die Bybel kan ek oor die geval gaan lees.”

Die gedeelte waarna die skrywer aan my verwys is:
JUD 1:9 Selfs Migael, die aartsengel, het dit nie eers gedoen nie. Toe hy met die duiwel in ’n ernstige woordestryd oor Moses se liggaam gewikkel was, het hy dit nie gewaag om ’n beledigende oordeel teen hom uit te spreek nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal met jou afreken.”

Ek deel my antwoord aan die persoon ook met jou.

Die kort antwoord is, dat ons nêrens in die Bybel iets meer hiervan lees nie.
Dit het egter  voorgekom in ander Joodse geskrifte wat in daardie tyd in omloop was.

Daar word nie vir ons verduidelik hoekom Migael met satan ‘n woordestryd oor Moses se liggaam gehad het nie maar wat ons wel weet van Moses se liggaam is dat hy gesterf het en dat ons HERE hom begrawe het:

DEUT 34:5-6
5 Moses, die dienaar van die HERE, het daar in Moab gesterf, net soos die HERE gesê het.
6 Die HERE het hom in ‘n vlakte naby Bet-Peor begrawe, maar tot vandag toe nog weet niemand presies waar die plek is nie.

Daar is ook ‘n ander geval in die Nuwe Testament waar so ‘n voorbeeld voorkom, wat soos JUD1:9 in Joodse geskrifte in Jesus se tyd en vir baie jare daarna vrylik in omloop was en dit is opgeteken in:

2 TIM 3:8-9
8 En hierdie leermeesters bestry die waarheid net soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het. Hulle denke is korrup en hulle geloof is niks werd nie.
9 Maar hulle sal nie lank hiermee wegkom nie, want dit sal vir almal duidelik blyk watter dwase hulle is, net soos dit gebeur het met Jannes en Jambres.

Jannes en Jambres, kom nêrens in die Bybel, buiten hier voor nie maar hulle kom wel in buite Bybelse geskrifte voor.

Die volgende moet ek eers net hier baie, baie duidelik stel voor ek enigsins verder gaan:

Die Bybel, die hele Bybel is God se geïnspireerde Woord wat Hy deur mense onder die leiding van die Heilige Gees vir ons laat saamstel het.
As ek dit nie verseker in my hart, sonder enige twyfel weet en so verstaan nie, sal niks wat wie ook al verduidelik vir my enige geloofwaardigheid hê nie.  Want dan is die Bybel nie werklik vir my God wat deur Sy Woord met my praat nie.

As dit lyk of ek nou so effe gaan afdwaal is dit met ‘n spesifieke doel, want ek wil jou iets oor Israel wys.
Daar is natuurlik verskeie, om dit so te stel, soorte engele en of dan hemelse wesens in die geesteswêreld maar uit die Bybel ken ons net drie by die naam naamlik; Gabriël en Lucifer/satan en dan Migael wie die vernaamste / magtigste van alle hemelse wesens is.
Dit is ook Migael wat satan in die hemel verslaan het.  Dit bring my by die rede waarom ek so effe afgedwaal het..
Elke volk in die wêreld het soos ek dit verstaan ‘n engel wat hulle moet bystaan of soms nie by staan nie en Israel se engel is Migael:
Oor Migael byvoorbeeld die volgende:

DAN 10:12-14
12  Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël. Jou gebed is alreeds verhoor toe jy begin soek het na antwoorde en tot jou God begin bid het daaroor. Ek het gekom in antwoord op jou gebed.
13 Die aanvoerder van die Persiese koninkryk het my 21 dae lank teengestaan. Migael, een van die belangrikste leiers, het my te hulp gesnel. Ek het hom daar gelos by die aanvoerders van die Perse.
14 Ek het gekom om vir jou te verduidelik wat in die laaste dae met jou volk sal gebeur. Die visioen het met daardie laaste dae te doen.”

DAN 12:1  “In daardie tyd sal Migael, die groot leier, optree. Hy beskerm mos jou volk. (Israel) Dit sal ’n benoude tyd wees soos daar nog nie was sedert nasies ontstaan het nie. In daardie stadium sal elkeen van jou volk wie se naam in die boek opgeteken staan, gered word.

Ook nie satan homself was of is sterk genoeg om teen Migael te staan nie:

OPB 12:7-9
7 Daar het toe oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en die engele onder sy beheer het oorlog gemaak teen die draak. Die draak en die engele onder sy beheer het aan die oorlog deelgeneem,
8 maar hy is verslaan. In die hemel was daar geen plek meer vir die draak en die engele onder sy beheer te vind nie.
9 Die reuse draak is uitgegooi, dit is die slang van die oertyd wat ook die duiwel en Satan genoem word, en wat die hele bewoonde wêreld verlei. Hy is op die aarde neergegooi, asook sy bose engele saam met hom.

Weet jy?
Ek kan nie aan een volk dink wat al ooit teen Israel opgestaan het en daar na uiteindelik beteraf gewees het nie.
Elke volg wat dit al gedoen het, het of van die aardbol verdwyn of het van wêreld regeerders tot amper niks geword nie.
Want jy sien:
Migael die vernaamste en magtigste engel in die geesteswêreld, is Israel se beskermengel.

Nou hoekom deel ek met jou al hierdie inligting oor Migael?
Sodat die mense wat sommer, so rond en bond satan uitdryf in arrogansie sonder om deur die Heilige Gees gelei te word en ja, soms sommer beledig, sal onthou en ek dink, dit is die rede dat ons Here Judas hierdie woorde uit nie-Bybelse geskrifte vir ons laat skryf het:

JUD 1:9  Selfs Migael, die aartsengel, het dit nie eers gedoen nie. Toe hy met die duiwel in ’n ernstige woordestryd oor Moses se liggaam gewikkel was, het hy dit nie gewaag om ’n beledigende oordeel teen hom uit te spreek nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal met jou afreken.”

Dieselfde redenasie kan natuurlik ook vir die gedeelte in 2 TIM 3:8-9 gebruik word, wat ook uit buite Bybelse geskrifte kom.
Die valse godsdienstige predikers met hulle charisma en allerlei foefies, wat hulleself – die boodskappers – groter maak as die boodskap wat hulle moet verkondig, sal nog daar wees en met hulle verkeerde dinge in die kerk voortgaan maar net soos Jannes en Jambres wat volgens buite Bybelse geskrifte towenaars gewees het, sal hulle ware kleure uiteindelik tog wys en uiteindelik sal hulle ‘n baie duur prys vir hulle kortstondige roem vir ewig in die hel gaan betaal, as hulle hulle nie werklik bekeer nie. 
Die skrywer van die boek Judas en Paulus, die skrywer van 2 Timotheus waarsku ons dan ook, deur hierdie Bybelse voorbeelde, soos die Heilige Gees hulle gelei het,  teen hierdie vals leraars en onverskillige mense.

2TIM 3:8-9
8 En hierdie leermeesters bestry die waarheid net soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het. Hulle denke is korrup en hulle geloof is niks werd nie.
9 Maar hulle sal nie lank hiermee wegkom nie, want dit sal vir almal duidelik blyk watter dwase hulle is, net soos dit gebeur het met Jannes en Jambres.

Ten slotte deel ek met jou nog een geval waar die Heilige Gees my groot held Paulus gelei het om buitebybelse geskrifte te gebruik om die evangelie van Jesus Christus te verkondig en in hierdie geval nogal ‘n heidense skrywer se geskrifte wat nie Joods of Christelik gewees het nie.
Paulus lewer ‘n preek en dan gebruik hy ‘n gedeelte uit ‘n gedig van ‘n Griekse digter met die naam Aratus, wat ongeveer 315 voor Christus geleef het as die teksgedeelte in sy preek:

HAN 17:23—28
23 Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die voorwerpe wat julle aanbid, het ek ook ’n altaar gesien met die inskripsie: ‘Aan ’n onbekende god.’  Nou ja, hierdie God wat julle aanbid sonder om Hom te ken, Hóm verkondig ek aan julle.
24 “Hy is die God wat die wêreld met alles daarin gemaak het. Hy is die Here van hemel en aarde, en daarom woon Hy nie in tempels wat met mensehande gebou is nie.
25 Mensehande kan nie na sy behoeftes omsien nie, want Hy het aan niks behoefte nie. Inteendeel, dit is Hý wat aan almal lewe en asem en álles gee.
26 Uit een mens het Hy elke nasie van die mensdom gemaak, om oor die hele aarde te woon. Hy het die tye van hulle bestaan bepaal, en die grense van hulle blyplek.
27 “God se doel met die nasies was om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Nie dat Hy ver van enigeen van ons af is nie.
28 Dis tog juis deur Hóm dat ons leef, beweeg en bestaan. Soos party van julle digters (in die geval Aratus) ook gesê het: ‘Ons is sy nageslag.’

Jy sien –
Uiteindelik, kan ons Here deur Sy Heilige Gees gebruik net wie en wat Hy wil soos Hy wil – Ja, asook buite Bybelse geskrifte.
Want, prys die Naam van ons Here!

KOL 1:16-17
16  omdat God alles deur Hom geskep het.
Ja, alles in die hemel en op die aarde –
die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie,
of dit nou konings of heersers, regeerders of magshebbers is –
álle dinge is deur Hom en vir Hom geskep.
17  Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind.

Daarom my vriend en vriendin onthou altyd –
Ons Here wil nie Engele gebruik om Sy evangelie te verkondig nie.  Nee, Hy wil óns – Sy geliefde volgelinge gebruik.
Natuurlik kan nie almal van ons sendingwerk doen, of preek ens nie maar ons almal het ‘n lewe wat ons leef.
So, wat jy ook al doen, leef só, dat veral jou lewe Jesus se liefdesevangelie verkondig.

GAL 6:8-10
8 Hulle wat op die land van hulle sondige geaardheid saai, sal op grond daarvan die dood oes, terwyl hulle wat op die land van die Gees saai, op grond daarvan die ewige lewe sal oes.
9 Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes.
10 Terwyl ons die kans het, moet ons dus goeddoen aan alle mense, maar veral aan medegelo
wiges.

Groete,
Sakkie