DINK AAN DIE KOMENDE HEERLIKHEID

DINK AAN DIE KOMENDE HEERLIKHEID

Sakkie Parsons

Ek deel met jou etlike verse en gedagtes wat vir my so wonderlik bemoedigend uit ons Here se Woord is:
 

1PET 5:7-11
7 Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.
Wees op julle hoede vir die duiwel en
dink aan die komende heerlikheid

Hoe wonderlik dat ons ons bekommernisse aan ons Here kan oorgee want Hy is lief vir ons met ‘n blywende ewige liefde.   “Dink aan die komende heerlikheid” laat my hart juig.
Ons hoef nie aan die duiwel te dink en vir hom bang te wees nie.  Ons moet waaksaam en op ons hoede vir hom wees – en aan die komende heerlikheid dink.  Die komende heerlikheid – O watter blye verwagting!  Dit is ons blydskap, ons vreugde, ons vooruitsig en daarin kan ons ons verheug te midde van ons huidige omstandighede.

8  Wees versigtig!  Pas op vir die duiwel se aanvalle.
Hy is julle groot vyand.
Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

9  Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly.
Julle weet mos:
Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding.

10  In sy genade het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid.
Nadat julle ’n kort tydjie swaargekry het,
sal Hy julle self weer herstel;
Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak.

11  Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid!  Amen.

Onthou dan my vriend/vriendin, wanneer satan, want hy sal dit verseker probeer, pyle op julle afskiet om julle in julle geloof te laat twyfel:

PSM 62:8-9

8 God is my redding
en my krag;
God is my sterke rots
en my toevlug.

9 Vertrou op Hom te alle tye, my volk (my geliefde vriende),
stort jou hart uit voor Hom,
want God is ons toevlug.

Hoe wonderlik en mag dit jou altyd bemoedig:

EFE 2:10 want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons eenheidsband met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.

So mooi is die woorde vir my in Psalm 62!
“Vertrou op Hom te alle tye – dit is só pragtig – want God is ons toevlug. 

Weet jy wat het ek ook so aangegryp van vers 1 Petrus 1:10:  “…sal Hy julle self weer herstel;  Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak. “ 

En soos Efesiërs 2:10 ons bemoedig – ons kan die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, uitlewe in ons eenheidsband met JESUS! 

Ons wil saam met die engelekoor juig wanneer ons aan die komende heerlikheid dink: 

OPB 7:11-12  “Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan.  Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid en gesê:
“Amen! Die lof en die heerlikheid, die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God tot in alle ewigheid. Amen! “ 

Groete,
Sakkie