DIT IS DIE EEN WAT EK RAAKSIEN – DIE EEN WAT NEDERIG IS

“DIT IS DIE EEN WAT EK RAAKSIEN – DIE EEN WAT NEDERIG IS…”

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra of ek nie iets oor nederigheid wil skryf nie.

Ek is van mening om oor nederigheid uit ‘n Christen se oogpunt te besin, moet ons eers baie deeglik onthou wie ons maatstaf is waarmee ons ons nederigheid moet vergelyk, sodat ons kan sien of ons wel nederig is, en dan die regte soort nederigheid in ons lewe het.

‘n Mens kan byvoorbeeld ‘n soort nederigheid lewe om vir die mense te wys hoe nederig jy is. Met ander woorde jy kan met jou nederigheid loop en spog.
Dit is, om dit so te stel, net een van die baie maniere van die teenoorgestelde van waarlik nederig wees.
So, hoe weet die Christen wat waarlik nederig-wees is, en of nederig-wees werklik deel van ‘n Christen se mondering moet wees? 

Ek dink dat my groot held Paulus dit baie mooi stel as hy aan die Filippense skryf:

FIL 2:5-8
5 “Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees:
6 Alhoewel Hy self God was, het Hy nie vasgeklou aan wat Hom toekom nie,
7  maar Hy het dit prysgegee:  Hy het ‘n slaaf geword en aan mense gelyk geword.  En toe Hy as mens geleef het,
8  het Hy Homself nog verder verneder deur tot die dood toe gehoorsaam te wees, ja, tot die kruisdood toe!”

Paulus, om dit so te stel, onderstreep wat hy geskryf het as hy by ‘n ander geleentheid aan die Christene in Efese skryf:

EFE 5:1 “Omdat julle God se kinders is wat Hy liefhet, moet julle Sy voorbeeld volg.”

MAT 11:28-29
28 “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. 
29 Neem My juk op julle skouers.  Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry.

Wanneer ons nederig en sag van hart is, is ons bruikbaar vir ons HERE:

NUM 12:3 Moses was buitengewoon nederig, meer as enige ander mens op aarde.

Dit bring my dan nou by die nederig wees van ‘n Christen:
Ons lees:

FIL 2:3 “Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie.  Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself.”

Nederigheid is om nie verwaand te wees of om in jouself en jou eie vermoëns te spog nie.

JAK 4:6 … God is téén mense wat te veel van hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee Hy sy onverdiende goedheid.

SPR 16:5 Die HERE verafsku ‘n verwaande mens.  Maar wees verseker, hy sal nie ongestraf bly nie.

Nederigheid beteken nie om geen selfvertroue te hê of passief te wees nie – maar om juis onder ons HERE se gesag in gehoorsaamheid aan Hom voluit in liefde te leef:

1KOR 16:13-14
13 Wees op en wakker! Staan vas in wat julle glo! Wees moedig! Wees sterk!
14 Alles wat julle doen, moet in liefde geskied.

ROM 11:20 … Moenie dink jy is wonderlik nie, maar wees eerder baie klein voor God.

‘n Mens kan jouself die vraag vra:

Is dit hoegenaamd moontlik vir ‘n mens om nederig te wees, soos wat ons in die Woord lees dat ‘n Christen moet wees?

Dan is die antwoord vir my persoonlik, onteenseglik;  Ja.
Hoekom kan ek so ‘n stelling maak?
Want die Woord sê aangaande ‘n ware Christen:

GAL 2:20  “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”

Is dit nie wonderlik om te weet nie?

Jesus wat vir ons die voorbeeld gestel het van hoe ‘n Christen se optrede moet wees as dit by nederigheid kom, leef in my, om my die regte leiding te gee.

So, hoe is dit vir my, as Christen, dissipel en daarom natuurlik ook kind van God, moontlik om volgens wat vir die natuurlike mens ‘n ondenkbare wyse van lewe is, te lewe?

Wel, eerstens, soos jy nou net gelees het, leef Christus, vir wie dit absoluut moontlik is, in my, en ek leef met Hom in my deur die geloof in Hom.

So hoe jy ookal na die situasie kyk, dit is ‘n wenresep.

Lees net gou weer hier en ek herhaal dit uit die Nuwe Lewende Vertaling:

GAL 2:19-20 
19 …Gevolglik leef ek nou vir God.  Ek is saam met Christus gekruisig.
20  Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my.  Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God.  Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.

Daarby is dit vir my persoonlik ook heerlik om te weet wanneer ek, wat hierdie saak aanbetref, deur satan versoek word, daar nie ‘n grys gebied is nie.

Óf ek moet nou die pad loop wat ons Here wil dat ek moet loop, met die gevolge wat uiteindelik daarop gaan volg –
Óf ek moet nou die pad loop wat satan wil dat ek moet loop en die gevolge dra wat daarmee gepaard gaan.

MAT 23:12 “Dié wat vir hulleself eer soek – God sal hulle verneder.  Maar dié wat hulle geringheid voor God besef – God sal hulle hoog vereer.”

JES 66:2 “.. Dit is die een wat Ek raaksien, die een wat nederig is en berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir My Woord.”

Ek sluit dan nou hierdie skrywe aan jou af met die volgende twee gedeeltes uit die Woord:

KOL 3:12  “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.”

Kom jy en ek maak ook wat hierdie saak aanbetref, die volgende woorde uit die Woord op ons van toepassing:

FIL 3:12 “Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie.  Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!”

Groete,
Sakkie