DIT IS MY REG OM TE STRAF; EK SAL VERGELD, SÊ DIE HERE

DIT IS MY REG OM TE STRAF; EK SAL VERGELD, SÊ DIE HERE

Sakkie Parsons

‘n Persoon het aan my geskryf en die volgende gesê:

“Iemand het ‘n meningsverskil met my. Ek glo dat God mense uitsorteer wat Sy kinders te na kom. Volgens hierdie persoon is God nie so nie want vir die persoon klink dit na aggressie en God is nie so nie.

Ek verskil van die stelling. Volgens my Bybel sal God vir my opkom as Hy sien dat iemand my te na kom.”

Dit is dan hoe ek na hierdie saak kyk:

Om mee te begin moet ek besef, ons Here is God Almagtig.

Ek kan byvoorbeeld Hom nie omkoop, soos na my mening baie mense glo nie.

Jy weet mos, as ek wil ryk word is dit eenvoudig – ‘Ek moet meer gee, dan sal ons Here vir my nog meer gee.’

Of, as ek die hel wil vryspring moet ek net sorg dat ek ‘gereeld kerk toe gaan en ‘n mooi lewe leef.’

Ons Here is God Almagtig, wat tot in die verste hoekies van my hart kan sien en nie om die bos gelei kan word nie.

Omdat ons Here God Almagtig is, is Hy ook nie in my diens, wat ek hierdie kant of daardie kant toe kan stuur om vir my iets te doen net omdat ek as Sy kind dit vir Hom vra nie.  Soos byvoorbeeld ‘om iemand wat my te na gekom het te gaan regsien nie’.

Dit gesê, wil ek ook sê, Ja, Ek glo verseker ons Here sorteer mense uit, soos jy dit stel, wat onreg teen my pleeg.

Ek is mos Sy kind en as ek iemand wat my kind te na kom sal aantree, hoeveel te meer sal my Vader in die Hemel dit nie doen, wanneer iemand my te na kom nie.

Aan die anderkant moet ek werklik nie dink omdat ek ‘n kind van ons Here is, ek kan nou maar iemand anders te na kom en dat ons Here nou maar ander pad gaan kyk, net omdat ek Sy kind is nie.

Vir my is ‘n goeie voorbeeld om te demonstreer wat ek nou gesê het die stukkie geskiedenis van Dawid, Bátseba en Uría.  Jy kan dit gaan lees daar vanaf 2 Samuel 11:2.

Die vraag is dan nou:

Hoe moet ek as kind van ons Here reageer as iemand my te na kom?

In wat ek nou gaan sê, praat ek nie van wanneer iemand die wet oortree nie.  Dan glo ek moet die reg sy gang gaan.

Ek praat in hoofsaak van onderlinge menslike verhoudings, tussen my en my naaste en vir my is my naaste, elke mens met wie ek in aanraking kom wat ons Here my pad langs stuur.  Gaan lees die gelykenis van die ‘barmhartige Samaritaan’ in Lukas 10:25-37 om te sien hoekom ek so sê.

Die eerste wat ek as kind van ons Here in verband met my teëstanders of vyande moet onthou is, dat ek vir die persoon moet bid.

MAT 5:43-45 

43 Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat.

44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;

45  sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.

Jesus, ons Here wat dit vir ons sê, het selfs nadat hulle Hom aan ‘n kruis vasgespyker het, vir hulle gebid:

LUK 23:33  En toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter— en een aan die linkerkant.

LUK 23:34  En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.

Jy sien, ek moet onthou, dat as ek haat, bitterheid of kwaad in my hart koester teenoor iemand anders, doen ek nog meer verkeerd as die een wat my te na gekom het.  Hy/sy kom my te na maar ek doen wat baie verkeerd in die oë van ons Here is.  Met ander woorde ek kom ons Here te na.

Jesus sê in hierdie verband die volgende:

MRK 11:25  En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.

MRK 11:26  Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.

Weet jy, ons Here voel so sterk oor hierdie saak, dat Jesus by geleentheid gesê het:

MAT 5:23  As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het,

MAT 5:24  laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.

Om dan op te som oor ons Here wat vir ons sal intree teen die wat ons te na kom:

Hy verwag dat ek en jy gehoorsaam sal wees aan dit wat Hy vir ons in Sy Woord sê en dan die res vir Sy regverdige beoordeling los.

Hysal vir ons intree as iemand ons te na kom, soos wat dit in Sy beoordeling reg is.  Dit staan dan ook so geskryf:

ROM 12:17-19 

17  vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense;

18  as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

19  Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.

In die Bybel (Nuwe Lewende Vertaling,) wat terloops na my mening ‘n baie goeie Afrikaanse Vertaling is, lees Romeine 12:19 as volg:

ROM 12:19  Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie.  Laat die straf aan God oor.  Daar staan mos in die Skrif:

“Dit is My reg om te straf;

Ek sal vergeld, sê die Here.”

Groete,

Sakkie