AS DIT LYK OF GOD NIKS DOEN NIE – DEEL 1 VAN 2

AS DIT LYK OF GOD NIKS DOEN NIE – DEEL  1 VAN 2

Sakkie Parsons

My uitsluitlike doel met hierdie skrywe, is om iemand êrens te help om nie in wanhoop te verval of om ‘n kompleks te kry omdat dit vir jou lyk of God nie na jou luister nie.

Ek sê weer soos ek vantevore gesê het:
God antwoord áltyd Sy kind en al lyk dit vir my of God niks doen nie, God doen áltyd iets, selfs as dit lyk of Hy niks doen nie.
Lees gou hier:

MAT 4:12  Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes gearresteer het, het Hy Judea verlaat en na Galilea teruggekeer.
MAT 4:13  Hy het uit Nasaret weggetrek en gaan woon in Kapernaum aan die See van Galilea, in die gebied van Sebulon en Naftali.

Wie is hierdie Johannes wie Jesus skynbaar sommer net so in die tronk los sonder om iets aan die saak te doen?
God self getuig in Sy Woord van hom:

MAT 11:7 -13
7 Ná hulle vertrek het Jesus met die skare oor Johannes begin praat. “Wat het julle verwag toe julle uitgegaan het om hierdie man in die woestyn te gaan sien? Tog seker nie iemand wat soos ’n riet deur die wind heen en weer gewaai word nie?
8 Tog seker ook nie iemand wat in weelderige klere uitgevat is nie? Die mense wat so aantrek, woon immers in paleise, nie in die woestyn nie.
9 Het julle nie veel eerder uitgegaan omdat julle ’n profeet verwag het nie? Natuurlik! Ek verseker julle, hy was selfs meer as ’n profeet.
10 Dit is hý van wie in die Skrif geskryf staan:
‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit.
Hy sal die pad vir jou gereedmaak.’
11 “Ek verseker julle, onder al die mense wat ooit geleef het, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie. Tog is selfs die onbelangrikste mensie in God se koninkryk nog belangriker as hy!
12 Vandat Johannes die Doper begin preek het tot nou toe is God se koninkryk besig om vir homself ’n pad oop te breek en mense wat al hulle kragte daarop toespits, maak dit hulle eie.
13 Al die profete en die wet, tot Johannes self, het geprofeteer aangaande die huidige tyd.

‘n Mens sou nou ook kon sê, dat dit nou wel goed is om te praat oor Johannes se
grootheid en goeie hoedanighede maar dit gaan nie help dat hy sy kop gaan verloor
nie en dit het ook nie.

MAT 14:3-10
3 Herodes het vir Johannes oor Herodias laat arresteer, hom geboei en in die tronk gegooi. Herodias was sy broer Filippus se vrou, maar Herodes het haar vir homself toegeëien. Johannes het hom hieroor herhaaldelik aangespreek en vir hom gesê:
4 “Jy mag dit nie doen nie.”
5 Hieroor wou Herodes hom om die lewe bring, maar hy was bang vir die volk se reaksie, want in hulle oë was Johannes ’n profeet.
6 Met Herodes se verjaarsdagviering het Herodias se dogter voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik daarmee
7 dat hy vir haar gesweer het: “Sowaar, vra van my net wat jy wil.”
8 Aangepor deur haar ma vra sy toe: “Bring vir my op ’n skinkbord die kop van Johannes die Doper!”
9 Die koning was bitter ontsteld hieroor, maar omdat hy ’n eed afgelê het en nie voor die gaste sleg wou lyk nie, het hy opdrag gegee dat haar wens uitgevoer moes word.
10 Hy stuur toe soldate en laat Johannes in die tronk onthoof.

Kom ons gaan net gou ‘n bietjie terug, na voor Johannes onthoof gewees het, want ek
wil jou iets belangriks in sy geskiedenis wys wat ek en jy moet onthou en wat ons
moet uitlewe totdat die uitkoms vir ons omstandighede volgens God se wil daar is.

MAT 11:2 -6
1 Nadat Jesus hierdie instruksies aan sy twaalf dissipels gegee het, het Hy daarvandaan vertrek om in die dorpe van Galilea onderrig te gee en te preek.
2 Johannes het in die tronk gehoor wat Jesus doen – werke soos dié wat die verwagte Messias sou doen. Hy stuur toe van sy dissipels om vir Jesus te vra:
3 “Is U werklik die Messias wat sou kom, of moet ons tog iemand anders verwag?”
4 Jesus het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien –
5 blindes sien en verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word gesond en dowes hoor, dooies word opgewek en armes hoor die Goeie Nuus.
6 En sê vir hom: ‘Gelukkig is elkeen vir wie Ek nie ’n struikelblok is nie.’”

Die OV stel vers MAT 11:6 as volg:
6  En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.

‘n Nuwer Vertaling stel MAT 11:6 as volg:
6  Sê dan ook vir hom: ’n Mens wat nie oor My twyfel nie, kan bly wees.’

Jy sien, Jesus het geweet, dat selfs die figuurlik grootste mens wat al gelewe het, kan
ook twyfel en daarom sê Hy vir Johannes se dissipels, dat as hulle klaar vir Johannes
vertel het, alles wat hulle gesien het, moet hulle ook vir hom sê:
Johannes jou God en Verlosser sê –
Moet nie twyfel of aanstoot neem nie en jy sal op die ou end rede hê om bly te wees,
oor dit wat met jou gebeur het.
Toe verloor Johannes sy kop.
Hoe op aarde kan ‘n mens bly wees oor so iets wat met jou gebeur?

Kom ek wys jou hoe ek dit sien:
As jy net nadat Johannes se kop afgekap was vir hom sou vra:
“Johannes, as jy jou lewe oor kon hê, sou jy nie liewer dat hulle jou kop nie afgekap
het nie en jy ‘n lekker lang lewe en ‘n natuurlike dood, miskien lekker in jou slaap
wou gehad het nie?”
Ek dink sy antwoord sou iets soos die volgende gewees het:
“Jy is lekker laf! En dan nie so gou in die hemel gewees het nie en die voorreg
verbeur het om Jesus te verwelkom nadat Hy Sy verlossingswerk op aarde voltooi
het?!”

Ek ken nie jou omstandighede nie, so ek gaan myself as voorbeeld gebruik:

Ek weet nie hoekom ek as blinde deur die lewe moet gaan nie maar ek weet Jesus sê
in Sy Woord:
Salig is ek as ek nie vir Hom kwaad word nie.  Ja, ek sal bly wees dat ek dit nie doen
nie!
So, elke dag gryp ek my kruis en storm die dag in wetende, soos daardie woorde van
my groot held Paulus, wat hy onder leiding van die Heilige Gees geskryf het en wat ek
my leuse in die lewe gemaak het sê:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

As dinge party dae bietjie rof gaan, gaan staan vir ‘n oomblik stil en draai in die gees
om na satan toe en sê vir hom:
“In die Naam van Jesus satan, gaan weg van my af, ek is op my pad hemel toe!”

Tel dan weer jou kruis op en sê vir jouself:

HEB 12:1-3 
1  Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê,
2   ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!
3  Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.

Groete
Sakkie