AS DIT LYK OF GOD NIKS DOEN NIE – DEEL 2

AS DIT LYK OF GOD NIKS DOEN NIE – DEEL 2

Sakkie Parsons

Ek het vir jou ‘n e-pos gestuur, waarin ek jou gewys het, dat jy, kind van God, kan weet dat God jou áltyd hoor en áltyd reageer, al lyk dit nie vir ons altyd so nie.

Vandag wil ek jou iets wys uit daardie selfde geskiedenis, om so vertrou ek, jou nog verder te help om sterk te wees en altyddeur jou oog op Jesus te hou.

Johannes sit in die tronk en hy is nie ‘n pampoen nie.  Hy weet dinge lyk nie goed nie en Jesus kom aste ware binne hoorafstand van hom wonders doen en Jesus los hom in die tronk.
Dit was na my mening net logies, omdat Johannes net ‘n mens is, dat hy sou begin twyfel het of dit wat hy glo en voor gewerk het tog die enigste weg is.  Dit is nou as dit hoegenaamd ‘n weg is maar Johannes was nie verniet die grootste mens wat ooit gebore was nie.
Onthou jy wat Jesus van hom gesê het?

MAT 11:11  “Ek verseker julle, onder al die mense wat ooit geleef het, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie. …

Kyk nou wat doen die grote Johannes met sy twyfel.
Hy doen die enigste ding wat ‘n mens kan doen as jy twyfel en jy wil die regte antwoord, sowel as vrede kry.  Hy neem sy twyfel na Jesus.

MAT 11:2 Johannes het in die tronk gehoor wat Jesus doen – werke soos dié wat die verwagte Messias sou doen. Hy stuur toe van sy dissipels om vir Jesus te vra:
MAT 11:3 “Is U werklik die Messias wat sou kom, of moet ons tog iemand anders verwag?”

Jy is ‘n mens en jou vyand is die god van die duisternis.
Daar gaan dalk tye kom dat jy ook wil twyfel of die pad wat jy loop om by die hemel uit te kom, die regte pad is.
Doen dan wat die grote Johannes gedoen het.
Neem jou twyfel na Jesus.

Ek kan egter nie ophou om met jou oor hierdie stukkie geskiedenis te deel, as ek nie nog oor iets anders ook met jou deel nie:
Jesus sê dat Johannes die grootste mens is wat ooit gebore is en onmiddellik daarna maak Jesus nog ‘n geweldige stelling:

MAT 11:11  “Ek verseker julle, onder al die mense wat ooit geleef het, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie. Tog is selfs die onbelangrikste mensie in God se koninkryk nog belangriker as hy!

Ek sien dit so:
Wat maak jou, klein kindjie van God, groter as Johannes?
Toe Johannes hemel toe is, was Jesus nog op pad Golgota toe.
Toe gaan Jesus met daardie groot liefde vir jou en Hy gaan hang aan die kruis en Sy bloed vloei en was jou so skoon, dat jy met groot vrymoedigheid die hemel se poorte kan instap – maar nie net was Sy bloed jou skoon nie, dit gee jou status, wat ongeëwenaard is.

ROM 8:16 Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is.
ROM 8:17 En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in sy heerlikheid.

Weet jy –
In God se nuwe Koninkryk gaan daar naas God niemand groter as jy wees nie, nie eens die grote Johannes nie.
In die tussentyd kan jy ook sommer onthou:

1PET 2:9 Dit geld egter nie vir julle nie, want God het júlle as sy volk gekies. Julle is ’n koninkryk wat uit priesters bestaan, ’n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ’n volk wat heeltemal God s’n is. Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is. Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in sy wonderlike lig ingeroep het.
1PET 2:10 “Vroeër was julle nie ’n volk nie;  nou is julle egter die volk van God.
Vroeër het God geen ontferming aan julle bewys nie; nou hét julle egter sy ontferming.”

So onthou nou –

As jy Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker en satan jou ooit weer wil laat twyfel, aan wie of wat jy is –
Neem jou twyfel na Jesus en vertel Hom daarvan en dan gaan lees jy gou weer Rom 8 vers 16 en 17 en ook 1Pet 2 vers 9 en 10.
Moet tog ook asseblief  nie mense glo wat vir jou wil vertel dat die Christen se pad hemel toe, maanskyn en rose is nie.
Jesus sê onder andere van daardie pad:

MAT 16:24  Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom.

As iemand so deur die swaar en beproewinge van hierdie lewe vir my vra:
“Sakkie maar wat dan is die sin van hierdie lewe?”
Antwoord ek graag so:

Die sin van hierdie lewe is om uit liefdevolle genade die geleentheid te mag hê, om op die nou pad te bly tot waar dit voor die Hemel se poort eindig en dan deur Jesus verwelkom te word, om daarna vir ewig die ewige lewe saam met Hom te mag geniet.

(Ander gedagtes uit die Woord wat aansluit by hierdie gedagte uit die Woord waarin jy dalk belang mag stel en wat ek met groot liefde aan jou op aanvraag sal stuur, is die volgende:

“Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel”
“Die derde hemel en ons loon”
)

Groete
Sakkie