IS DIT MOORD OM LEWENSONDERHOUDENDE MASJIENE AF TE SKAKEL?

IS DIT MOORD OM LEWENSONDERHOUDENDE MASJIENE AF TE SKAKEL?

           
Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my die volgende:
“Is dit moord om lewensonderhoudende masjiene af te sit?”

Ek deel graag met jou hoe ek hierdie situasie in my eie lewe sou hanteer.

Vir baie mense is hierdie moderne tegnologie ‘n groot probleem.
Om mee te begin, kan ek nie aan ‘n gedeelte in die Woord dink, wat vir ons klinkklare uitsluitsel oor hierdie saak gee nie maar ek glo, dat ons as kinders van ons Here, met die leiding van Sy Heilige Gees en die kennis van wat ons uit Sy Woord kry, tog ‘n antwoord op hierdie vraag kan gee.

Ons Here het ons as ouers daar gestel om ons kinders as babas en later as kleuters te help om die lewe reg te begin.
Toe kom daar ‘n tyd dat hulle meer gespesialiseerde onderrig nodig gehad het en ons het hulle skool toe gestuur, want ons het geweet, ons Here het die onderwysers daar gestel om my kinders met daardie soort opvoeding te help.
Nog later het baie van ons, ons kinders na ‘n Kollege, Universiteit ensovoorts gestuur, waar daar dosente, professors ens gewees het om hulle nog verder te help – want ons het geweet dat ons kon hulle nie met daardie soort studies help nie maar ons Here het deur die Dosente en Professors vir ons voorsiening gemaak.

So weet ons, dat soos ons Here Onderwysers, Dosente, Professors ensovoorts daar vir ons kinders en vir ons gestel het, het Hy ook vir ons Pastore, Dominees ensovoorts daar gestel om ons in ons geestelike lewe te help.
Net so geld dieselfde natuurlik ook vir ons Dokters.

As ‘n Onderwyser of Dosent vir my sê my kind het ‘n probleem en dit is wat ons moet doen, luister ek, bid daaroor en laat ons Here my lei. 
As ek ‘n geestelike probleem het, gaan ek na my Pastoor/Dominee en ek luister, bid daaroor en laat ons Here my lei.
Dieselfde geld ook vir my Dokter.  Ek luister na sy diagnose en advies, bid daaroor en laat ons Here my lei.

Toe my dokter in 1997 vir my sê dat ek melanoom kanker het en ons dadelik met die behandeling moet begin, want as hulle dit nie kan keer nie het ek drie tot ses maande om te lewe, het ek dadelik ingestem.
Ek het nie nog getop oor hoe sleg ek gaan voel ensovoorts nie.

Net so glo ek kan ons met groot vrede in ons hart optree, as die Dokter na ons kom en sê dat ons geliefde breindood is en dat dit die beste sal wees om die krag af te skakel.

As jy egter twyfel, kry dan ‘n tweede opinie en as die antwoord nog dieselfde is, sou ek met groot vrede in my hart die krag laat afskakel.  Want so glo ek, dan is my geliefde al lank reeds by sy/haar eindbestemming en laat ek maar net toe dat die leë tentwoning nou maar afgebreek word.

2KOR 5:1  Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.

Dus, as antwoord op jou vraag:
“Is dit moord om lewensonderhoudende masjiene af te sit?”

Baie beslis glo ek nié dat dit moord is as jy op die advies van jou dokter – wat ons Here daar gestel het om jou te help – toestemming gee dat die krag afgeskakel mag word nie.

Ten slotte nog net dit:
Jy en ek, ons Here se kinders, het hierdie heerlike versekering van Hom.
As ons in opregte geloof bid oor ‘n saak, (net soos ek ook gebid het dat ek die antwoord op hierdie vraag sal kan gee), sal Hý ons die wysheid gee wat ons nodig het om te sê en te doen, wat gesê en gedoen moet word – as daar iets gesê of gedoen moet word.

JAK 1:5  En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.

Vir my persoonlik is die belangrikste vraag, veral in hierdie tyd waar ons in lewe, wat daardie wonderlike masjiene aanbetref:

As hulle daardie masjien afskakel waaraan my geliefde gekoppel is, het my geliefde reeds aan die anderkant van die graf gearriveer.
Waar bring my geliefde haar of sy ewigheid deur?
As hulle my aan daardie masjien koppel… Weet ek waar ek gaan arriveer as hulle dalk nadat ek nou hierdie tydelike tentwoning verlaat het en hulle die masjiene afskakel?

Kan jy wie nou hier lees met oortuiging sê:

2KOR 5:1  Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.

Jy kan natuurlik as jy werklik JESUS aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker.Want, Te wonderlik!

Ons lees in Sy onfeilbare Woord:

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, (en vir ewig saam met Hom in die hemel te woon) aan hulle wat in sy Naam glo;

Want jy sien en dit geld vir jou –
Eintlik, omdat Hy jou hierdie skrywe vandag laat lees, geld dit verseker weer vir jou as bevestiging waar jy die ewigheid gaan deurbring.
Vir jou wat dit nog nie gedoen het  nie, sê ons Here weer vandag in hierdie uiters gevaarlike tye waar ons in lewe:

Maak seker, dat jy weet waar jy die ewigheid gaan deur bring en herinner Hy jou ook weer:

JHN 3:16-18
16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het,  sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
                  

Groete,
Sakkie