IS DIT REG OM KERSFEES TE VIER?

IS DIT REG OM KERSFEES TE VIER?

Sakkie Parsons

Daar is ‘n hele paar mense wat, kom ons stel dit lig en sê, wat my so effe aangetree het oor my siening van Kersfees.

Iemand skryf aan my as volg:  ““As jy Kersfees vier, maak nie saak vir watter rede jy dit hou nie, maak jy jouself skuldig aan afgodsdiens, …”

Ek vra nou maar net voor ek verder verduidelik:

Wat is ‘n afgod tog en watter krag het so iets soos ‘n sogenaamde afgod op iemand wie Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker?

In my groot held Paulus se tyd was daar mense wat nie wou afgodsvleis eet nie.
Laat ek net gou iets verduidelik:

As mense in die outyd offers gebring het, het ‘n groot deel daarvan na die priesters gegaan, want hulle moes lewe.
Die priesters het dan veral in godsdienstige feestye baie van byvoorbeeld die offervleis wat anders sou vrot word, na die slaghuise geneem en dit aan hulle verkoop.  So het hulle dan geld gehad om hulle te help in ander dinge wat hulle dalk mag nodig kry.
Toe was daar Christene wat dit teen ander Christene gehou het as hulle weer die offervleis by die slaghuise gaan koop het, omdat hulle dan afgodsvleis eet.

Hulle het met ander woorde ook ‘n ‘krag’, of wat jy dit ook al wil noem, aan die vleis gegee wat jou Christelike lewe konsuis kon beïnvloed, al was jy met Christus beklee en al woon Christus in jou – en nou skryf Paulus aan die Christene in Korinte:

Hoe gemaak met vleis wat aan afgode geoffer is?

1 KOR 8:1-8
1 Kom ons praat nou oor vleis wat aan afgode geoffer is – ’n saak waaroor julle ook navraag gedoen het. Ons weet julle sê: “Ons het almal kennis oor hoe ons moet optree.” Kennis laat ’n mens belangrik voel; die liefde, daarenteen, bou ’n gemeente op. (laat ons liewer Christus se liefde uitlewe, as om ons baie wys voor te doen en wolf-wolf te skreeu, as daar nie eens ‘n baba hondjie in die omgewing is nie)
2 As jy dink jy weet alles, het jy nog nie die ware kennis nie.
3 Maar as jy God liefhet, dan ken God jou en jy is vir Hom belangrik. (en dit is die soort belangrikheid wat ons behoort te hê)
4 Wat dan die eet van afgod offervleis betref – wel, ons weet almal dat ’n wêreldse afgod eintlik een groot niks is en dat daar in werklikheid geen god is nie, (Veral nie in iets wat ‘n nietige mens geskep het nie) behalwe die een ware God.
5 Selfs al sou daar, volgens sommige, gode in die hemel en op die aarde wees – ja, daar is inderdaad baie wat “God” en “Here” genoem word – (soos baie mense my hangertjie of mooi beeld of my kersboom noem.  Om maar net ‘n paar te noem)
6 vir ons is daar net een God, naamlik ons Vader uit wie alles afkomstig is en ons lewe is op Hom gerig.
En daar is net één Here, naamlik Jesus Christus deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.
7 Maar nie alle gelowiges besef dit nie. Party is daaraan gewoond om te dink ’n afgod bestaan werklik. As hulle dan kos eet wat aan die afgode geoffer is, (skrik hulle hulleself boeglam en) dink hulle dat hulle betrokke is by die verering van werklik bestaande wesens en hulle sensitiewe gewetens word met skuldgevoelens belas.
8 Onthou, dis nie kos wat ons nader aan God bring nie. Ons verloor niks as ons nie eet nie en ons wen niks as ons wel eet nie. (dieselfde kan gesê word van die beeld of hangertjie ens wat ek het of nie het nie)

Daarom verloor ek as kind van God niks as ek ‘n beeldjie of ‘n hangertjie of ‘n kersboom het, of nie het nie.
Wat saak maak is: Wat my verhouding met my God en my medemens is.
Want in my lewe moet net Jesus se Liefdeswet my beheer en al die ander dinge wat my pad na die Ewige Lewe aanbetref bly in plek.

Ek glimlag maar net as iemand vir my sê my kersboom en of kersversiersels of die kruisie wat ek dalk om my nek hang, of die beeldjie wat ek byvoorbeeld as ‘n deurstop of sommer omdat dit vir my mooi is in my huis het, die een of ander bonatuurlike bose gees het of dat dit ‘n afgod is.
Want ek onthou:

JER 2:26-27
26 “Soos ’n dief wat betrap word in die skande kom,
so sal Israel – sy konings, leiers, priesters en profete –
in die skande kom. (saam met almal wat die een of ander krag aan ‘n lewelose voorwerp wat mens gemaak is en soms deur God self in die natuur so gemaak is ‘n krag of lewe gee)
27 Hulle sê vir ’n beeld uit hout gesny:
‘Jy is my pa.’ (of jy het die een of ander krag of lewe)
En vir ’n beeld uit klip gekap:
‘Jy is my ma.’ (of jy het die een of ander krag of lewe)
Hulle steur hulle glad nie aan My nie, (nee, hulle vrees satan wat met sy linkervuis na hulle mik-mik om hulle aandag van die werklike gevaar weg te hou, want dit wat hulle vrees het geen krag nie en is wat dit aanbetref ook niks nie.  Soos die kruisie om iemand se nek, ‘n mooi beeldjie in iemand se sitkamer, of ‘n klip deurstop – en slaan hy hulle dan met sy regtervuis tussen die oë, wanneer hulle na moord, buite-egtelike verhoudings en pornografie ens op TV, hulle rekenaars en selfone kyk en dit geniet en Jesus Christus so openlik ‘n bespotting maak)

HABAKUK 2:19
19 Wee julle wat vir ’n stuk hout sê:
‘Word wakker! Kom red ons!’ (of ek vrees hom, hy kan jou vernietig.  Jy wie met Christus beklee is en in wie Jesus Christus woon) Kan julle by ’n lewelose klip iets leer? (of dit goed of sleg is?)
Kan ’n stom klip sê wat om te doen? (of jou bevel of beïnvloed om so of so te maak)
Al is dit oorgetrek met goud en silwer is dit heeltemal sonder lewe.

Ten slotte in hierdie skrywe van my herinner ek jou net weer aan dit wat ek in die vorige skrywe met jou gedeel het, waar my groot held Paulus, net soos ek ook vandag nog steeds, as ek die kans kry, ‘n heidense gebruik of wat ‘n mens dit ook al wil noem gebruik het om Jesus se Evangelie te verkondig.

Lees gou hier hoe Paulus heidense omstandighede omgedraai en dit tot eer van die Evangelie van Christus gebruik het.

HAN 17:21-28 
21 Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.
22  Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is.
23  Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ‘n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.
24  Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.
25  Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.
26  En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,
27  sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;
28  want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.

Nie net gebruik Paulus ‘n heidense voorwerp en lewer dan sommer ‘n preek daaroor nie. Hy gebruik sommer heidense digters se woorde aste ware as teksgedeelte in sy preek.

HAN 17:28  want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.

Wat is ‘n afgod?
Niks!
Wat is ‘n heidense heilige dag?
Niks!
Wat is ‘n heidense fees?
Niks!
Al hierdie goed is niks, totdat jy iets daarvan maak.
Ek en derduisende ander Christene weet nie op watter dag van die jaar Jesus gebore is nie maar ons wil graag Sy geboortedag hier op aarde herdenk.
Nou vier ons dit op die 25ste Desember en ons maak dit in ons harte ‘n spesiale dag.
Soos ek genoem het:
In Paulus se tyd was daar mense wat ‘n probleem gehad het met mense wat vleis geëet het wat aan afgode geoffer was en toe sê Paulus ook net soos wat ek ook hier bo geantwoord het, net in ander woorde:
“So what.”

Wanneer Paasfees kom, gaan die meeste mense om my paaseiers en paashase gebruik en ook so ‘n soort vakansie fees om hulle skep maar dit gaan my nie verhoed om Paasfees te vier, soos wat ons as Christene dit behoort te vier nie.
Al hoekom ek uit die Woord vir mense wys hoe ek as ‘n belydende Christen na Kersfees kyk, is om aan hulle te sê:

“Moet nie skuldig of veroordeeld voel as jy Jesus se geboortedag herdenk nie en hou te heerlik in gedagte, dat dit vir jou ook ‘n heerlike geleentheid skep om met nie-Christene oor Jesus en Sy liefdevolle Verlossingsevangelie te deel en soos Ron Hutchcraft dit so mooi stel.

Die beste geskenk wat jy vir Jesus in hierdie tyd kan gee, is ‘n siel wie jy na Jesus lei.

Groete,
Sakkie